Pretoria East Newsletter | PSG Wealth

Kontak gerus Carina van Rooyen,PSG Wealth adviseur.

Sedertdien het die beleggingslandskap oor die jare drasties verander, en die belegging van ʼn deel van jou beskikbare fondse in die buiteland word nou algemeen beskou as ʼn noodsaaklike komponent van jou beleggingsportefeulje, in plaas van ʼn luukse wat net vir ʼn uitgelese groep bestem is.

Hoekom sou ’n mens oorsee belê?

·       Hoewel die JSE (Johannesburgse aandelebeurs) die grootste beurs in Afrika is, is dit nog steeds betreklik klein in vergelyking met ander groot beurse in die wêreld (dit maak minder as 1% van internasionale aandelebeurse se markkapitalisasie uit). Belegging in die buiteland bied dus ʼn geleentheid vir diversifikasie in multinasionale maatskappye wat wêreldwyd sake doen. Dit stel jou in staat om ʼn deel van die wêreld se grootste en suksesvolste maatskappye soos Microsoft, Apple, Nestlé and Johnson & Johnson te besit.

·       Terwyl Suid-Afrika se ekonomie onbestendig en klein is (met ʼn bydrae van slegs sowat 0.5% tot die wêreld se BBP) in vergelyking met die res van die wêreld, en die uitdaging van voortdurende politieke onbestendigheid die hoof moet bied, is ʼn gesonde diversifikasiestrategie om in wêreldmarkte en maatskappye met blootstelling aan ʼn wye reeks geografiese gebiede, geldeenhede en industrieë te belê.

·       Ons maan dikwels dat beleggers nie tydsberekening op die mark moet probeer toepas nie. Dieselfde geld vir tydsberekening met valutaskommelinge en om te wag totdat die wisselkoers gunstig is voordat fondse in die buiteland belê word. Soos in die geval van marktydsberekening, raak wisselkoersbewegings ook al hoe minder beduidend in ʼn buitelandse beleggingsportefeulje soos die tyd verbygaan. Die rand het egter met verloop van tyd teenoor die Amerikaanse dollar verswak en ons glo dit sal verder verswak oor die lang termyn (hoewel daar potensiële skommelinge oor die kort tot medium termyn is).

·       As jy fondse in die buiteland het, kan jy toekomstige reiskoste daarmee befonds, of studiekoste as jou kinders besluit om oorsee te studeer, en miskien selfs lewenskoste as een van jou langtermyndoelwitte is om oorsee te gaan bly.

Hoeveel moet ek in die buiteland belê?

Die Suid-Afrikaanse beleggingslandskap is oor die laaste jare ontsier deur politieke en ekonomiese onstabiliteit en onsekerheid. Gevolglik het baie beleggers haastig fondse na die buiteland oorgeplaas sonder om eers behoorlike beplanning te doen. Die oorplasing van fondse na die buiteland vir beleggingsdoeleindes moet deel uitmaak van ʼn behoorlike, weldeurdagte beleggingstrategie en beplanningsproses.

Daar is nie twee kliënte wie se portefeuljes en beleggingstrategieë ooit identies is nie – sommige het miskien die vermoë en risikoverdraagsaamheid om al of die meeste van hul diskresionêre fondse in die buiteland te belê, terwyl ander al hul beskikbare kapitaal nodig het om vir hulle ʼn inkomste in Suid-Afrika te gee. In so ʼn geval kan toepaslike advies wees om die grootste deel van die beskikbare fondse in plaaslike instrumente met ʼn fokus op inkomsteskepping te belê.

Kry die hulp van ʼn ervare en gekwalifiseerde finansiële adviseur, en oorweeg jou behoeftes en doelwitte as ʼn belegger met inagneming van jou risikoverdraagsaamheid, wanneer jy besluit watter deel van jou beskikbare fondse jy in buitelandse instrumente wil belê.

As finansiële vennote vir ons kliënte, streef ons om finansiële planne saam te stel wat by hul behoeftes pas en gemoedsrus verseker. Buitelandse blootstelling in ʼn portefeulje is noodsaaklik vir daardie gedeelte van fondse wat ʼn kliënt vir ʼn tydperk van sewe jaar of langer wil belê, maar dit is net so belangrik om ʼn gedeelte in konserwatiewe, inkomsteskeppende bates te belê om lewenskoste oor die kort tot medium termyn te befonds.

Hoe kan ek in die buiteland belê?

Daar is hoofsaaklik twee maniere om buitelandse blootstelling by jou portefeulje in te sluit:

1.     Belê in ʼn Suid-Afrikaanse fonds met onderliggende blootstelling aan buitelandse instrumente (doen ʼn “bateruiling”)

-       Jy kan die bateruilkapasiteit van ʼn gemagtigde Suid-Afrikaanse instelling gebruik om in die buiteland te belê.

-       Belegging via ʼn bateruiling stel Suid-Afrikaanse individue en entiteite (bv. trusts en maatskappye) in staat om buitelandse blootstelling te verkry.

-       Daar is geen perke ten opsigte van die bedrae wat via ʼn bateruilinstrument belê kan word nie (maar die fonds of instelling self kan aan sekere buitelandse perke onderhewig wees).

-       Geen belastingklaring of buitelandse vergunning is nodig nie.

-       Fondsprestasie word in rand aangedui.

-       Die opbrengs sal in rand in jou Suid-Afrikaanse bankrekening inbetaal word.

2.     Direkte buitelandse belegging

-       Jy moet jou jaarlikse diskresionêre vergunning gebruik of belastingklaring by die SA Inkomstediens verkry om fondse in die buiteland te belê (meer hieroor hieronder).

-       Fondse word in ʼn buitelandse rekening of belegging gehou en hoef nie na jou Suid-Afrikaanse bankrekening terug te gaan nie, maar kan na ʼn buitelandse bankrekening in jou eie naam oorgeplaas word.

Wat is my opsies om fondse direk na die buiteland oor te plaas?

Suid-Afrikaanse inwoners wat ouer as 18 is (en in Suid-Afrika of oorsee bly, maar nie finansieel geëmigreer het nie) is geregtig op die volgende buitelandse vergunnings:

·       R1 miljoen enkele diskresionêre vergunning (SDA – single discretionary allowance)

-       Vergunning per kalenderjaar (Januarie tot Desember)

-       Nie nodig om ʼn AIT te kry nie (aansoek om internasionale oordrag / belastingklaring)

-       Dit sluit onder andere die volgende in: geldelike geskenke en lenings, reistoelaes, skenkings aan sending, enige gebruik van jou Suid-Afrikaanse debiet- of kredietkaart oorsee.

-       Reistoelaes vir minderjariges bedra R200 000 per kalenderjaar.

·       R10 miljoen buitelandse beleggingsvergunning (FIA – foreign investment allowance)

-       Goedkeuring moet van die SA Inkomstediens verkry word

-       Geldig vir ʼn 12-maandetydperk vanaf die datum van goedkeuring

-       Kan gebruik word vir belegging in buitelandse beleggingsportefeuljes of beleggingsrekeninge, die koop van eiendom in die buiteland, ens.

·       Oorplasing van meer as die R1 miljoen SDA en R10 miljoen FIA

-       Jy kan by die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) om spesiale toestemming aansoek doen om bedrae bo die SDA en FIA oor te plaas.

-       Hierdie proses sal ʼn aansoek om ʼn nakomingsbrief (Letter of Compliance) by die SA Inkomstediens insluit.

“Niks is seker nie, behalwe die dood en belasting.” – Benjamin Franklin

Die belastingimplikasies van enige belegging moet altyd in ag geneem word, ongeag waar die fondse belê word. Alle belastings op plaaslike beleggings is ook van toepassing op buitelandse beleggings – insluitend kapitaalwinsbelasting, skenkingsbelasting, inkomstebelasting en boedelbelasting. Die wyse waarop jy in die buiteland belê, sal egter die belastingimplikasies vir daardie beleggings beïnvloed.

1.     Buitelandse belegging in ʼn rand-gedenomineerde fonds (bateruiling)

-       Kapitaalwinsbelasting is op ʼn rand-gedenomineerde belegging betaalbaar (op wins wat hetsy uit kapitaalgroei op die belegging of wisselkoersbewegings voortspruit).

-       Beide buitelandse dividende en buitelandse rente wat verdien word, word by jou belasbare inkomste ingesluit.

2.     Direkte buitelandse belegging

-       Geen belasting is op wisselkoersbewegings betaalbaar terwyl die fondse nog belê is nie.

-       Indien jy fondse direk in die buiteland belê het en later besluit om dit te verkoop of om te skakel, sal die kapitaalwins of -verlies eers in die buitelandse geldeenheid bepaal word, waarna die bedrag van die wins of verlies in rand omgesit sal word volgens die heersende wisselkoers op daardie tydstip, om die kapitaalwins­belasting betaalbaar te bereken.

In sommige gevalle kan beleggingstrukture soos ʼn buitelandse uitkeerpolis (sogenaamde “wrapper’) as ʼn meer belastingdoeltreffende struktuur vir belastingbetalers met ʼn hoë marginale belastingkoers gebruik word. Dit is een van verskeie maniere waarop so ʼn struktuur ʼn kliënt kan baat.

Ondanks die gesegde om nie toe te laat dat die belastingstert die beleggingshond swaai nie, is dit uiters belangrik dat ons kliënte alle belastingimplikasies oorweeg van spesifieke beleggingsoplossings wat voorgestel word.

Belegging in die buiteland en die verskillende nuanses daarvan is ʼn kernfokusgebied vir die welvaartbestuurspan by PSG Wealth Pretoria-Oos, en ons stel graag ons kennis en adviesdienste aan kliënte beskikbaar met betrekking tot enige bestaande of beoogde buitelandse portefeuljes waar ʼn onafhanklike mening of gesonde advies nodig kan wees.

Become a client

PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2025 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us