April 2024
Dawie Klopper CFP® Wealth Manager
Die makro-omgewing is onseker en wisselvallig, en dit raak baie moeiliker om in hierdie omgewing ’n beleggingsportefeulje saam te stel. Boonop is dinge baie meer kompleks en moet ons ook nog goed soos fopnuus en kunsmatige intelligensie (KI) hanteer. Wie is reg, en het ek alle tersaaklike inligting in ag geneem voordat ek my besluite geneem het?
Kontak gerus Dawie Klopper direk, PSG Wealth adviseur.
Die wêreld kan partykeer baie vinnig verander. Covid het amper oornag uitgebreek, daar is die voortslepende Israel/Hamas-oorlog, en moenie te gou van die groot 2008-resessie vergeet nie. Gebeure soos hierdie skep onsekerheid en maak mense bang, angstig en versigtig.
So, wat kan ’n belegger in hierdie omstandighede doen? Hoe beplan ons vir die toekoms te midde van soveel onsekerheid?
Morgan Housel en Annie Duke, skrywer van die boek Quit: The Power of Knowing When to Walk Away, het in ’n toespraak by die CFA Instituut se 73ste jaarlikse virtuele kongres gesê drie dinge gaan jou help om in ’n onsekere omgewing koers te hou: data, geluk en nederigheid.
Deur baie inligting in te samel oor die scenario waarbinne jy besluite moet neem, gaan jy dalk goeie besluite kan neem. Jy kan egter ook ’n punt bereik waar jy te veel inligting bymekaarmaak en dit jou oorweldig. Kompleksiteit raak net te veel en jou verstand kan nie alles verwerk nie.
As ons egter die aansprake van kenners in die KI-omgewing kan glo, gaan KI jou help om besluite te neem.
Rêrig? In scenariobeplanning moet iemand tog die scenario’s skep en die model bou waarbinne die besluit geneem gaan word. Dink maar aan ’n makro-ekonomiese model waar ekonomiese groei vir begrotingsdoeleindes bereken word. Alles is in plek, en skielik breek Covid uit met al die onvoorsiene uitkomste wat dit gehad het. Skielik is jou raamwerk nie meer bruikbaar nie, want niemand het ’n pandemie voorsien waarin die wêreld vyf weke lank tot stilstand kom nie.
Weet enigiemand rêrig wat volgende gaan gebeur, of is daar nie geluk aan jou kant as jy dinge oënskynlik regkry nie?
Partykeer kan jy doodseker wees van jou saak, maar in jou agterkop weet jy daar is tog ’n kans dat jy verkeerd kan wees. Ek het al in die verlede na die eiendomsborrel van 2006 tot 2008 verwys, en waar niemand ’n fout kon maak met ’n eiendomsbelegging nie. Jy kon maar geld leen, ’n paar eiendomme koop, binne ’n jaar drie van die vier eiendomme verkoop en die vierde ene sou as’t ware afbetaal wees. Ja, dit was verspot maklik... maar dít moes juis ’n paar waarskuwingsligte laat aangaan het.
Wanneer jou selfvertroue so hoog is, dan luister jy nie na advies nie. Jy doen net nog een ronde spekulatiewe beleggings. En dan gebeur die onverwagte. Die 2008 finansiële krisis het as’t ware oornag ontstaan. Lehman Brothers, wat destyds ’n 200 jaar oue beleggingsbank was, speel oor ’n naweek bankrot en skielik kan niemand meer ’n eiendom verkoop kry nie. Die slim belegger sit toe met vier woonstelle en ’n klomp skuld daarop, en geen huurders nie, en binne ʼn baie kort tydjie wis dit wis al jou winste van die vorige drie jaar uit.
Dus moet jy ook teen oormatige selfvertroue waak. ’n Uiters belangrike komponent van ’n suksesvolle beleggingstrategie is nederigheid. Baiekeer is dit nie jy wat so goed is nie, want jy het toevallig die regte maatskappy gekies om in te belê, wat net nadat jy daarin belê het teen ’n baie hoër prys oorgeneem word. Om nou met jou slimmigheid (of was dit geluk?) te koop te loop, is maar net ’n resep vir ’n volgende mislukking. Erken liewer dat jy eintlik ook maar nie alles weet nie, en daarom is dit goed om jou beleggings te diversifiseer.
Samel dus baie data in, erken dat jy partykeer gelukkig is wanneer jy jou keuses maak, en bly nederig. Maar onthou ook wat Gary Player gesê het: hoe meer jy oefen en voorberei, hoe gelukkiger word jy.
Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.