Pretoria East Newsletter | PSG Wealth

Kontak gerus Tian Ebersohn  direk, PSG Wealth adviseur.

Ek vra altyd vir nuwe kliënte of hulle weet of hul maandelikse beleggingsbydraes hulle op hul gekose aftree-ouderdom finansiële sekuriteit sal gee. Die antwoorde wissel.

Die meeste mense sê hulle spaar, maar dat hulle nie weet of hulle genoeg óf dalk te min spaar nie. Sommige beleggers spaar in aftreeprodukte en ander in diskresionêre beleggings, of ’n kombinasie van die twee. Soms kom ek mense teë wat verkeerdelik glo dat hul maandelikse bydraes tot risikoprodukte soos lewens- en ongeskiktheidsdekking vir hul aftrede voorsiening maak.

Spaar versus “berekend” spaar

Dit is een ding om maandeliks geld weg te sit, en dit is goed so. Dit is egter belangrik om berekend te spaar en die berekeninge jaarliks aan te suiwer met werklike syfers. Berekend in hierdie konteks beteken dat jy maandeliks fondse wegsit om ’n sekere doelwit te bereik. Die doelwit is om presies te weet waarmee jy eendag sal kan aftree, selfs al is die aftreedatum 20 of selfs 30 jaar in die toekoms. Die verskil tussen spaar en berekend spaar is dat jy in eersgenoemde geval hoop jy spaar genoeg, en in die tweede geval weet jy spaar genoeg.

Tyd aan jou kant

Indien beleggers tyd aan hul kant het, het dit normaalweg een van twee gevolge. Aan die een kant is daar beleggers wat die waarde van saamgestelde groei oor tyd raaksien, en dit tot hul voordeel gebruik. Aan die ander kant is daar beleggers wat meen hulle hoef eers later te begin, want daar is “baie” tyd. Wat sommige mense nie besef nie, is dat hulle hier in ’n deurslaggewende fase van hul lewe is.

Praktiese voorbeeld

Ek het sewe projeksies gedoen om die krag van saamgestelde groei en berekende spaar te verduidelik.

Die veranderlikes is deurlopend as volg:

  • Die beleggers is almal 25 jaar oud.
  • Hul aftree-ouderdom is 65 jaar.
  • Die inkomsteprojeksie se termyn is vanaf ouderdom 65 tot 90.
  • Die doelwit is om op ouderdom 65 met R50 000 p.m. (na belasting, 2024 se geldwaarde) af te tree.
  • Inflasie is deurgaans 5% per jaar oor die termyn.
  • Die beleggingsopbrengs is deurgaans 4% bo inflasie oor die termyn.

Projeksie nr.

Huidige ouderdom

Begin spaar op

Termyn voor aftrede

Maandelikse bydrae

Totale bydraes sonder opbrengs

1

25 jaar

25 jaar

40 jaar

R  7 750

R3 720 000

2

25 jaar

30 jaar

35 jaar

R10 044

R4 218 480

3

25 jaar

35 jaar

30 jaar

R13 227

R4 761 720

4

25 jaar

40 jaar

25 jaar

R17 835

R5 350 500

5

25 jaar

45 jaar

20 jaar

R24 908

R5 977 920

6

25 jaar

50 jaar

15 jaar

R36 808

R6 625 440

7

25 jaar

55 jaar

10 jaar

R60 283

R7 233 960

 

Gevolgtrekking

In projeksie 1 het die persoon 40 jaar om vir aftrede te spaar. Die R7 750 wat hy maandeliks wegsit, is waarskynlik ’n groot gedeelte van sy beginsalaris, maar hy besluit om deur te druk. Soos die tyd aanstap en sy salaris styg, word die maandelikse spaarkomponent as ’n persentasie van sy salaris al hoe kleiner in verhouding tot sy salaris. Oor die 40 jaar tot aftrede kan gesien word dat hy, van al die projeksies hierbo, die minste van sy eie kapitaal (R3 720 000) gespaar het. Dit is belangrik om daarop te let dat die kapitaal slegs die bydraes oor die termyn is, en geen groei oor die tydperk insluit nie.

Dit is duidelik dat die maandelikse verpligting met elke projeksie nie net groter word nie, maar elke persoon moet ook meer van sy eie kapitaal wegsit.

Iemand wat eers op ouderdom 35 begin spaar (projeksie 3), moet maandeliks ongeveer 70% meer wegsit as die persoon in die eerste projeksie. Oor die termyn tot aftrede moet hy ongeveer 28% meer van sy eie kapitaal bydra om dieselfde doelwit te bereik.

Iemand wat eers op ouderdom 45 begin spaar, het slegs 20 jaar voor aftrede oor. Hy moet maandeliks aansienlik meer wegsit as die persoon in projeksie 1. Oor die termyn moet hy sowat 60% meer van sy eie kapitaal spaar om sy doelwit te bereik.

Dit gebeur ongelukkig gereeld dat beleggers vanweë omstandighede nie altyd fondse het om vir aftrede te spaar nie. Daar is talle redes waarom aftreevoorsiening nie altyd bo-aan die prioriteitslys is nie. Faktore soos die ekonomie, werksgeleenthede, gesondheid en lewenskoste maak dit moeilik of amper onmoontlik om te spaar.

Dit is net vir my belangrik om te probeer wys hoe kragtig saamgestelde groei is indien ’n mens dit vroegtydig benut. Jy hoef nie altyd derduisende rande te begin spaar nie, want selfs ’n klein bedraggie wat maandeliks weggesit word en oor tyd volgehou word, kan ’n groot bedrag word.

Saamgestelde groei en berekende spaar is kragtige middele tot beleggers se beskikking, wat aangewend moet word. Dit kan die verskil maak tussen ’n gemaklike of stresvolle aftrede.

Gesels gerus met ons oor aftreevoorsiening, sodat ons kan bereken hoeveel jy moet spaar om jou unieke doelwitte te bereik. Hoe vroeër jy begin, hoe beter.

PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2025 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us