Pretoria East October Nuusbrief 2021
Gaan jy jou geliefdes dompel in chaos en onsekerheid wat hulle saam met die trauma van jou afsterwe moet verwerk? Om jou geliefdes teen hierdie nare realiteit te beskerm, kan jy gerus die volgende praktiese riglyne toepas terwyl jy nog lewe:
- Dit is noodsaaklik om seker te maak dat al jou sake in orde is sodat jou gade en gesin of naasbestaandes nie rondskarrel indien jy te sterwe sou kom nie. Hulle moet ook weet waar jy jou belangrike dokumente bêre en hoe hulle toegang daartoe kan verkry.
- Stel ʼn “lewenslêer” saam waarin al jou belangrike dokumente en inligting vervat is, met ʼn volledige lys van, byvoorbeeld, jou bates en laste, kredietversekering, polisse, gebruikersname en wagwoorde, en die kontakbesonderhede van jou eksekuteur en finansiële adviseur. Maak seker dat jy die lêer minstens een keer per jaar bywerk met die nuutste inligting.
- Maak seker dat jy ʼn geldige testament in plek het, werk dit gereeld by en vergewis jouself dat dit jou wense weergee en ʼn duidelike instruksie aan jou eksekuteur is van wat met jou bates moet gebeur.
- In die geval dat jy nie kunsmatig aan die lewe gehou wil word indien daar nie ʼn redelike vooruitsig op herstel van liggaamlike siekte is nie, of as verswakking verwag word wat jou ernstige ellende sal besorg of jou onbevoeg sal maak vir ’n rasionele bestaan, kan jy oorweeg om ’n lewende testament te laat opstel. ʼn Lewende testament is ʼn instruksie aan mediese praktisyns en jou naasbestaandes van jou wense indien die moeilike besluit geneem moet word om die masjiene wat jou aan die lewe hou, af te skakel. Jy kan ook in die lewende testament op rekord plaas as jy ʼn geregistreerde orgaanskenker is.
- Dit is moeilik, maar belangrik dat jy met jou gade en naasbestaandes moet gesels oor die dood en die stappe wat hulle moet volg sou jy te sterwe kom. Hulle moet weet wat jou wense is met betrekking tot verassing of begrafnis, asook besonderhede van begrafnisdekking en wie hulle moet kontak wanneer die onvermydelike gebeur. Indien jy nie begrafnisdekking het nie, moet jy seker maak dat jou naasbestaandes oor voldoende fondse beskik om die koste in die interim te betaal en dit later terug te eis van die boedel wanneer daar voldoende fondse in die boedelbankrekening beskikbaar is.
- Dit klink dalk onbenullig, maar maak seker dat jou gade en gesin weet hoe alles in en om die huis werk, soos byvoorbeeld waar die watertoevoerkraan is en hoe om dit toe te draai indien nodig, hoe om die alarm en warmwatertoestel te stel, hoe die sonkragstelsel werk en hoe om dit te beheer, hoe om die kragopwekker te gebruik, hoe lank die boorgat loop en die werking van die swembadpomp, en hoe die elektroniese toestelle en DSTv werk. Wys vir jou gade waar om byvoorbeeld toegang tot jou rekeninge soos munisipale rekeninge te kry en hoe die betaling daarvan werk. ʼn Mens aanvaar hierdie onbenullighede as vanselfsprekend, maar wanneer die persoon wat daarvoor verantwoordelik is skielik afsterwe, kan dit groot onsekerheid en spanning meebring.
- Maak seker dat jou gade toegang tot voldoende fondse het om vir minstens ses tot agt maande alle uitgawes te kan dek. Die meeste van ons het al in die nuus gehoor van die uitdagings wat die Meesterskantore landwyd ondervind veral na die Covid-19-pandemie en probleme met hulle inligtingskommunikasietegnologiestelsel. Gevolglik, neem dit soveel langer vir ʼn eksekuteur om ʼn eksekuteursaanstelling te kry om boedelbates en -laste te kan hanteer. Intussen word rente op uitstaande rekeninge nie gestaak nie en instansies verwag dat maandelikse paaiemente volgehou moet word totdat die skuld afgelos of oorgeneem kan word, en korttermynversekering en gebruiksrekeninge moet ook betaal word. In hierdie verband is kredietlewensversekering ʼn goeie opsie wat kan verseker dat jou skuld afgelos word om addisionele finansiële druk op ʼn gade te verlig.
- Jou gade moet in jou leeftyd reeds begin om ʼn kredietrekord op te bou om sodoende na jou afsterwe te kan kwalifiseer vir byvoorbeeld ʼn selfoonkontrak, verband of huurkoop sou daar nie voldoende likiditeit wees om die skuld af te betaal nie.
- Gaan al jou lewenspolisse na en maak seker dat begunstigdes daarop benoem is waar nodig en dat nominasievorms voltooi is ten opsigte van annuïteite en groepversekering.
- Verduidelik vir jou gade, of vra jou finansiële adviseur om vir jou gade te verduidelik, watter finansiële produkte (bv. beleggings, polisse) jy het en hoe dit werk. Dit is ʼn goeie plan dat jou gade jou finansiële adviseur ontmoet om ʼn vertrouensverhouding met die adviseur op te bou sodat die adviseur professionele advies kan gee oor jou gade se toekoms na jou afsterwe.
- Indien jy ʼn besigheid of onderneming het, wys die risiko’s uit aan jou naasbestaandes en maak seker dat daar kontinuïteitsplanne in plek is. As jy byvoorbeeld die enigste persoon is wat tekenmagte op die onderneming se rekening het, gaan dit ʼn probleem veroorsaak met jou afsterwe.
- Vergewis jouself daarvan dat daar voldoende likiditeit in jou boedel sal wees om al die administrasiekoste, laste en belastings (inkomstebelasting en boedelbelasting) te betaal.
Deur van die bogenoemde basiese riglyne gebruik te maak, kan jy terwyl jy nog lewe reeds die verwagtinge na afsterwe bestuur om die oorgang na ʼn lewe sonder jou vir jou naasbestaandes te vergemaklik.
Vervolgens ʼn paar riglyne vir die nagelate gade om finansiële verwagtinge te bestuur:
- Voldoende fondse sal waarskynlik nie ʼn groot probleem vir jou nagelate gade wees nie indien jou fondse tydens jou lewe goed bestuur is, en daar voorsiening gemaak is vir lewensversekering sodat daar voldoende inkomste is om die uitgawes te dek, asook ʼn netwerk van bekwame en betroubare mense om jou gade van professionele advies te voorsien.
- Indien die nagelate gade ongelukkig in ʼn posisie is waar daar nie voldoende fondse is nie, moet noukeurige beplanning gedoen word om vir die basiese uitgawes soos huur of ʼn verband, gebruiksrekeninge, kos en versekeringspremies voorsiening te maak.
- Dit is belangrik dat jou gade by ʼn finansiële adviseur waarmee reeds ʼn vertrouensverhouding opgebou is, advies moet kry oor beleggings, en hoe kontantvloei en ʼn basiese begroting (inkomste en uitgawes) werk, om sodoende ʼn nuwe plan in plek te kry om jou gade se toekoms te verseker.
- Moenie dadelik groot finansiële besluite neem nie; iets wat nou na ʼn goeie idee klink, gaan nie noodwendig oor ses maande of ʼn jaar ʼn goeie idee wees nie.
- Lewensversekeringuitbetalings mag nou na baie geld klink, maar wanneer ʼn finansiële adviseur ʼn kontantvloeiprojeksie doen van hoe lank die geld aan inkomstebehoeftes gaan voldoen, kan dit ʼn baie donker prentjie skep. Mense word al hoe ouer en daar moet voorsiening gemaak word om van die beskikbare fondse te kan leef.
- Baie belangrik – stel ʼn nuwe testament op en maak seker dat daar voogde benoem is vir minderjarige kinders (kinders onder die ouderdom van 18 jaar). Bespreek ook met jou fidusiêre adviseur wat die opsies is om die kinders se belange te beskerm sodat ʼn ingeligte besluit geneem kan word.
Baie mense neem swak finansiële besluite terwyl hulle deur ʼn rouproses gaan, en juis daarom is dit belangrik dat jy professionele betroubare advies moet kry om jou te help om goed ingeligte keuses te maak tot voordeel van jou en jou gesin se toekoms.
Die opinies in hierdie dokument is dié van die skrywer en nie noodwendig die van PSG nie. Dit verteenwoordig nie advies nie. Alhoewel hoë sorg geneem is in die navorsing en voorbereiding van hierdie nuusbrief, kan geen verantwoordelikheid geneem word vir enige optrede gebaseer op inligting in hierdie nuusbrief nie.
PSG Wealth Financial Planning (Pty) Ltd is ‘n gemagtigde finansiële diensteverskaffer. RFD 728.