December 2021
Morgan Housel
Partner at Collaborative Fund in the US and a former columnist for the Wall Street Journal
Op 3 Junie 2019 het ek en my vrou ons babadogtertjie verwelkom. Sy is skaars oud genoeg om te loop, maar haar werk (meestal eet en slaap) het nie baie verander nie. Eendag sal sy egter geld- en lewensadvies nodig hê. As ʼn pa wat ʼn groot deel van sy loopbaan daaraan gewy het om geld, finansiële gedrag en besigheid te bestudeer en daaroor te skryf, is dít wat ek vir haar sal vertel:
“ Die vermoë om te doen wat jy wil, wanneer jy wil, waar jy wil, met wie jy wil en vir so lank as wat jy wil, bring blywende geluk wat geen grille of giere jou ooit kan bied nie. ”
Op 3 Junie 2019 het ek en my vrou ons babadogtertjie verwelkom. Sy is skaars oud genoeg om te loop, maar haar werk (meestal eet en slaap) het nie baie verander nie.
Eendag sal sy egter geld- en lewensadvies nodig hê. As ʼn pa wat ʼn groot deel van sy loopbaan daaraan gewy het om geld, finansiële gedrag en besigheid te bestudeer en daaroor te skryf, is dít wat ek vir haar sal vertel:
Dis maklik om te aanvaar dat welvaart en armoede veroorsaak word deur die keuses wat ons maak, maar dis selfs nog makliker om die rol wat toeval in ons lewens speel te onderskat.
Die families, waardes, lande en geslagte waarin ons gebore word, sowel as die mense wat ons langs die lewenspad ontmoet, speel almal ’n groter rol in ons uitkomste as wat baie mense sal wil erken.
Hoewel jy in die waardes en beloning van harde werk behoort te glo, is dit ook belangrik om te verstaan dat nie alle sukses harde werk verg nie en dat nie alle armoede aan luiheid toe te skryf is nie. Hou dit in gedagte wanneer jy menings oor ander én jouself vorm.
Die vermoë om te doen wat jy wil, wanneer jy wil, waar jy wil, met wie jy wil en vir so lank as wat jy wil, bring blywende geluk wat geen grille of giere jou ooit kan bied nie.
Die opwinding van die jongste gier vervaag gou. As jy aanpasbare ure kan werk en vinnig by die werk kan kom, sal dit nooit vervelig raak nie. Genoeg spaargeld wat jou die tyd en opsies in ʼn noodgeval gee, is nooit te versmaai nie. As jy kan aftree wanneer jy wil, sal jy nooit afgerem raak nie.
Ons doel in die lewe is om uiteindelik onafhanklik te wees. Onafhanklikheid is egter nie ʼn “alles of niks”-ding nie – elke sent wat jy spaar is soos om ʼn deel van jou toekoms te besit wat andersins deur iemand anders bestuur sou word, soos hulle wil.
Niemand besef werklik die waarde van geld as hulle nie ervaar hoe dit is as geld skaars is nie – daarom sal ek en jou ma ons bes doen om jou te ondersteun, maar ons gaan jou nie bederf nie.
Jy sal moet leer dat jy nie alles kan kry wat jy wil hê nie, want dit is die enigste manier om tussen behoeftes en begeertes te onderskei. Dit sal jou leer van begrotings, spaar en waardering vir wat jy reeds het.
Om te weet hoe om spaarsamig te leef – sonder om jouself te na te kom – is ʼn noodsaaklike lewensles wat jou handig te pas sal kom wanneer jy die onvermydelike kinkels van die lewe moet hanteer.
Napoleon se omskrywing van ʼn genie is die persoon “wat gewone dinge kan doen wanneer almal rondom hom die kluts kwytraak”.
Die bestuur van geld is dieselfde. Jy hoef nie wonderlike dinge te doen om uiteindelik later in ʼn gemaklike posisie te wees nie; jy moet net deurgaans nie vir lang tydperke te veel foute maak nie.
Die vermyding van rampspoedige foute (die grootste hiervan is om te veel skuld aan te gaan) is meer waardevol as enige fantastiese finansiële wenk.
Een van die kragtigste finansiële hefbome is die vermoë om met minder klaar te kom, want dit gee jou meer beheer oor dinge soos jou inkomste of beleggingsopbrengste.
Die persoon wat $50 000 per jaar verdien, maar net $40 000 nodig het om gelukkig te wees, is ryker as die persoon wat $150 000 verdien, maar $151 000 nodig het om gelukkig te wees. Die belegger wat ʼn opbrengs van 5% verdien, maar lae uitgawes het, behoort beter daaraan toe te wees as die belegger wat 7% per jaar verdien, maar elke sent daarvan nodig het.
Hoeveel jy verdien, bepaal nie hoeveel jy het nie, en hoeveel jy het bepaal nie hoeveel jy nodig het nie.
Byna niemand weet op die ouderdom van 18 presies wat hulle in die lewe wil hê nie – daarom is dit nie die einde van die wêreld as jy ʼn kursus kies wat jy op die ou end nie geniet nie. Of ʼn graad behaal in ʼn rigting waaroor jy nie 100% passievol is nie. Of ʼn loopbaan beoefen en later besluit om iets anders te doen nie.
Dit is aanvaarbaar om te erken dat jou waardes en doelwitte ontwikkel en verander het. Om jouself te vergewe wanneer jy van gedagte verander, is ʼn besondere talent, veral as jy jonk is.
Die prys van ʼn besige loopbaan is tyd weg van jou familie en vriende. Die prys van langtermyn-markopbrengste is onsekerheid en wisselvalligheid. Die prys van bedorwe kinders is dat hulle ʼn beskermde lewe lei.
Alles wat die moeite werd is, het ʼn prys, en meeste van dié pryse is verborge. Soms is dit die moeite werd om die prys te betaal, maar jy moet nooit die werklike koste ignoreer nie.
Wanneer jy dít aanvaar, sal dinge soos tyd, verhoudings, selfstandigheid en kreatiwiteit vir jou net so waardevol word soos kontant.
Warren Buffett het gesê: Werklike sukses in die lewe is “wanneer die aantal mense wat jy graag wil hê jou moet liefhê, jou werklik liefhet”.
En hierdie liefde kom oorwegend van hoe jy mense behandel, eerder as jou netto waarde. Geld sal nie dit wat jy (en byna almal) die meeste wil hê, koop nie. Geen geld kan vergoed vir ʼn gebrek aan karakter, eerlikheid en opregte empatie teenoor ander nie.
Dit is die belangrikste finansiële advies wat ek jou kan gee.
Al hierdie lesse, insluitend hierdie laaste een, is dinge wat die meeste mense te laat in die lewe leer. Maar jy kan enige tyd daarmee doen wat jy wil.
Jou wêreld gaan anders wees as myne, net soos myne anders is as dié van my ouers. Niemand is presies dieselfde nie en niemand het al die regte antwoorde nie. Moet nooit iemand se advies aanvaar sonder om dit binne die konteks van jou eie waardes, doelwitte en omstandighede te plaas nie.
Jou ouers is lief vir jou. Ons is so bly jy is hier. Gee ons asseblief kans om te slaap.
Morgan Housel is ʼn vennoot van The Collaborative Fund, finansiële gedragskundige en voormalige rubriekskrywer by The Wall Street Journal en The Motley Fool. Hy is ook ʼn wenner van The New York Times Sidney-toekenning en was twee keer ʼn finalis vir die Gerald Loeb-toekenning vir Uitmuntende Sake- en Finansiële Joernalistiek.
Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.