Hoekom beveiliging vir die feesgety reeds nou aandag verg | PSG

Dis moeilik om te glo, maar die laaste kwartaal van 2021 is om die draai – en ons het ʼn vakansie nodiger as ooit tevore! Met die einde van die jaar in sig, sien baie van ons uit na ʼn blaaskans, veral nadat Desember-planne verlede jaar in die wiele gery is. Om ʼn welverdiende wegbreek deeglik te benut, is vinnig besig om ʼn prioriteit te word op ons lysie.

Die een nadeel is dat risiko’s gewoonlik toeneem sodra jy jou huis vir ʼn lang tydperk verlaat. Dis nie lekker om daaraan te dink nie, maar ongelukkig gaan sommige mense wat ná ʼn welverdiende vakansie huiswaarts keer ʼn onaangename verrassing kry. Self nog erger is om jou vakansie te moet kortknip ná ʼn oproep met slegte nuus. Wat baie polishouers nie besef nie, is dat hulle lank voor hul beplande wegbreek die nodige maatreëls in plek moet kry.

Moenie wag tot dit te laat is nie

Dit is noodsaaklik om seker te maak dat jou risiko’s bestuur word en jou eiendom beveilig is voordat jy met vakansie vertrek. Hou ook in gedagte dat goeie risikobestuur nie veronderstel is om op die nippertjie aandag te kry nie. Gesels sommer nou al met jou adviseur en maak seker dat jy al die nodige dekking in plek het voor jou versekeraar se afsnydatum vir polisveranderings teen die einde van die jaar. Baie versekeraars se afsnypunt vir polisveranderings is einde November. Reël dus ʼn vergadering met jou adviseur om so gou as moontlik enige polisveranderings te bespreek. As jy te lank wag, kan jy aan risiko’s blootgestel wees – en die gepaardgaande spanning ondervind – juis wanneer jy veronderstel is om te kan ontspan.

Maak seker alles is aangeteken en vervangbaar

Huisinhoudversekering is natuurlik ʼn uiters belangrike vertrekpunt. Baie mense met huisinhoudpolisse is beduidend onderverseker. Die kumulatiewe waarde van meubels en items in die huis word dikwels baie onderskat. Die meeste van ons het byvoorbeeld geen idee wat dit regtig sal kos om die inhoud van ons kaste te vervang nie. ʼn Studie deur Quantum Risk Assessment het gewys dat 79.4% van Suid-Afrikaners 51.9% onderverseker is wat die waarde van hul besittings betref. Knyp tyd af om voor die vakansie die waarde van jou huisinhoud na te gaan en seker te maak dat jy akkurate vervangingskoste insluit vir elektronika, klere, waardevolle items en kunswerke in die geval van ʼn inbraak, brand of oorstroming. Maak seker dat items met ʼn hoë waarde gespesifiseer word en dat allerisiko-polisse bygewerk word met draagbare items wat jy moontlik saamvat met vakansie.

Basiese veiligheidsmaatreëls

Proaktiewe risikobestuur is uiters belangrik vir geboueversekering. Polisse het gewoonlik verskeie standaardbepalings en -uitsluitings, en ʼn eis wat afgewys word, kan rampspoedige gevolge hê – veral na al die vakansie-uitgawes.

Daarom is dit raadsaam om alle buiteslotte en veiligheidsdeure na te gaan, alarms en infrarooistrale te aktiveer en die noodbatterye te toets voordat jy met vakansie gaan. Maak seker dat jy genoeg tyd het om ʼn afspraak met jou alarmmaatskappy te maak om voor jou beplande vertrekdatum na enige onderhoudkwessies om te sien. Die installering van outomatiese ligskakelaars wat sekere ligte vir ʼn paar uur saans aanskakel, is ʼn goeie afskrikmiddel vir opportunistiese misdadigers wat die woonbuurt verken. Stel ook jou private veiligheidsmaatskappy in kennis dat jy vir ʼn lang tydperk uithuisig sal wees. Onthou dat jou veiligheidsmaatreëls aan die voorwaardes van jou versekeringspolis moet voldoen, anders kan eise moontlik afgewys word.

Vermy oorstroming

Misdaad is nie die enigste gevaar nie. Dis ʼn goeie idee om jou warmwatersilinder af te skakel, want afgesien van die feit dat dit heelwat elektrisiteit gebruik, is gebarste silinders en pype een van die grootste oorsake van huishoudelike eise en kan dit groot skade aanrig as dit nie onmiddellik aandag kry nie. Jy kan dit selfs oorweeg om jou hoofwatertoevoerstopkraan toe te draai as ʼn bykomende voorsorgmaatreël, om die moontlikheid van ʼn gebarste pyp op jou eiendom heeltemal uit te skakel. Verder behoort elektronika ontkoppel te word, dakke en geute moet nagegaan word en enige ander brand- of oorstromingsrisiko moet geïdentifiseer en bestuur word.

Oorweeg laastens of jou reis gedek is soos jy verwag. As jou voertuig onklaar raak of in ʼn ongeluk beland, is jy gedek vir bystand? Maak seker dat jy die volgende het: die nodige kontaknommers, padbystand, ʼn reisversekeringspolis wat jou kan help in ʼn noodgeval en genoeg kennis van jou bestemming om veilige keuses te maak.

Onthou, sekere polisvereistes kan ʼn tydjie neem om te implementeer, so moenie tot op die nippertjie wag om jou polis by te werk nie. Gesels met jou adviseur en maak seker dat jy genoegsaam gedek is en dat jou huis beskerm is. Noudat jy die detail van jou vakansie en die beplanning vir elke gebeurlikheid afgehandel het, gaan geniet die welverdiende blaaskans!

PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2025 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us