beleggingslesse van die afgelope 20 jaar | PSG

In my loopbaan van meer as twee dekades het ek verskeie markkrisisse gesien. Hier is die belangrikste beleggingslesse wat ek geleer het:

  1. Jy moet ’n duidelike beleggingsfilosofie en -proses hê

Jy kan nie suksesvol belê oor tyd as jy nie ’n duidelik gedefinieerde filosofie en proses het nie. Die sleutel is om ’n proses te kry wat werk, en dan deurgaans daarby te hou. Dissipline is uiters belangrik.

  1. Bring temperament, intellektuele vermoë en ondervinding in lyn

Om ’n suksesvolle belegger te wees, gaan nie net daaroor om jou verstand en ondervinding te gebruik nie. Temperament is ongelooflik belangrik in fondsbestuur, omdat dit uiteindelik bepaal hoe jy in moeilike omstandighede optree. Wanneer jy dink aan enige beleggingsbesluit, is die eerste vraag wat jy jouself moet afvra: “Watter voordeel het ek?”

Tweedens moet jy oorweeg of jy beter insig het op grond van die werk wat jy gedoen het. En laastens: “Het ek dit reeds vantevore gesien?” Jy kan miskien deeglike ondervinding en beleggingskundigheid hê, maar om ’n gelykmatige temperament te behou is veral belangrik wanneer jy in ’n situasie beland waarvan die uitkoms hoogs onseker is.

  1. Belegging behels meer as net syfers 

As jy ’n aktiewe beleggingsbestuurder wil wees, moet jy ewe veel tyd bestee om die geskiedenis, ekonomie, sielkunde en rekeningkunde te bestudeer. Terwyl ’n goeie kennis van statistiek en finansiële rekeninge nodig is om bates te kan waardeer, is dit ook belangrik om die sielkunde van markte en beleggers se gedrag te verstaan om maksimum beleggingsukses te behaal.

Verder het jy ’n voordeel as jy ’n goeie kennis van die geskiedenis en ekonomie het. Die geskiedenis help ons om ’n begrip te kry van lande se beleidstelsels oor die jare en die faktore wat die globale makro-ekonomiese omgewing help vorm. 

  1. Dinge loop soms verkeerd – leer uit jou foute

Algemene foute wat oningewydes begaan, is om verlief te raak op ’n aandeel, te lank aan ’n verloorder vas te hou en nie ’n deeglike evaluering te doen voordat hulle belê nie. Ek wens ek kon sê dat elke belegging wat ek die afgelope 20 jaar aangegaan het ’n sukses was, maar ongelukkig nie. Mens moet aanvaar wanneer jy verkeerd is, weet hoeveel geld jy verloor het en, baie belangrik, uit jou beleggingsfoute leer.

  1. Om risiko te vermy skep nie welvaart nie 

Risiko is onvermydelik as jy oor die lang termyn welvaart wil skep. Trouens, as jy niks doen nie, sal jou geld waarde verloor omdat inflasie die koopkrag van jou swaar verdiende spaargeld sal wegkalwer.

  1. Skeptisisme, nie sinisme, lei tot minder foute

Nog ’n waardevolle les is om te onderskei tussen skeptisisme en sinisme. As jy sinies is oor ’n mark of maatskappy, sal jy foute maak omdat jou siening onveranderd sal bly, ongeag watter bewyse gelewer word. Insgelyks, as jy elke goeie “beleggingstorie” blindelings glo, sal jy ook foute maak, want jy moet evalueer of hierdie stories op feite gegrond is.

Ons beleggingspan skaar ons sterk by die skeptici teenoor die sinici. Gesonde skeptisisme beteken ons is oopkop oor moontlike beleggings. Ons glo as ons ons huiswerk deeglik gedoen het, moet ons die geleentheid hê om van mening te verander.

  1. Neem ’n teenoorgestelde of gedifferensieerde posisie in

Hoe wen jy in beleggingsmarkte? Jy moet ’n vroeë “voorstander” wees van ’n teenoorgestelde beleggingsidee wat uiteindelik meer hoofstroom word. Ons was groot SA effektebeleggers in die Opportunity Fund lank voordat dit ’n sterker konsensussiening geword het. Vandag is SA effekte ’n groter konsensussiening. Dit kom daarop neer dat jy goed beloon sal word as jy ’n beleggingsidee identifiseer voordat enigiemand anders ook die idee begin volg. 

  1. As jy nie ’n bate kan waardeer nie, kan jy nie risiko kwantifiseer nie 

Markte beweeg deur verskillende fases en soms lyk dit of waardasies nie van belang is nie. Maar die basiese beginsels sal uiteindelik weer die dryfvere vir die breë mark word. Dit beteken beleggers met bates wat hulle nie kan waardeer nie, kan aan skerp markregstellings blootgestel wees. As jy iets besit wat jy nie kan waardeer nie, het jy geen idee wat die risiko is om geld te verloor nie.

Dit is natuurlik makliker om aandele, effekte en eiendom te waardeer aangesien hulle kontantvloei genereer. Dis waarom ons hulle by ons portefeuljes insluit wanneer daar ’n goeie saak vir ’n belegging uit te maak is. 

  1. Die beste “beleggingstories” het die beste kans om geld te verloor

Daar is geen tekort aan goeie “storievertellers” in die beleggingsbedryf nie. Ongelukkig kan sommige “fantastiese beleggingstories” meebring dat ’n belegger baie geld kan verloor. Baie beleggers het na kriptogeldeenhede gestroom, maar dit is ontnugterend om te sien dat daar al meer as 4 500 kriptogeldeenhede geskep is, waarvan reeds 1 647 gesneuwel het.

Leer hoe om Ponzi-skemas uit te ken. Hulle het gewoonlik piramiedstrukture waar die laatkommers geneig is om al hul geld te verloor, terwyl die vroeë beleggers geld maak.

  1. Moenie geluk met vaardigheid verwar nie

Wanneer ’n aandeel styg, skryf baie beleggers dit toe aan hul vaardigheid; en aan ongeluk wanneer dieselfde aandeel daal. Soms kan geluk, nie vaardigheid nie, ’n meevaller bring. Neem byvoorbeeld GameStop se uitvoerende hoof George Sherman. GameStop het ’n netwerk van winkels wat digitale videoskywe verkoop. Deesdae laai die meeste spelers speletjies van die internet af, met die gevolg dat die besigheid ʼn dalende inkomstestroom het, en nie juis ʼn goeie toekoms nie.

Ondanks hierdie swak vooruitsigte, het kleinhandelsbeleggers op die sosiale mediaplatform Reddit wat vasbeslote was om verskansingsfondsbestuurders uit te dryf, besluit om die aandeelprys op te jaag. Die magdom beleggers wat die kort rentekoers van 120% tot 20% laat val het, het in werklikheid die uitvoerende hoof in staat gestel om na minder as ’n jaar in die pos weg te stap met meer as VS$170m. Die aandele verhandel rondom VS$250, maar ons glo die maatskappy is nie meer as VS$10 per aandeel werd nie. 

Oor die lang termyn styg markte, maar nie in ’n reguit lyn nie. Die balansering van risiko en opbrengs bly die hoeksteen van suksesvolle beleggings.

 

PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2025 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us