Hou jy jou beleggingsprestasie te gereeld dop? | PSG

Fraudulent Telegram and WhatsApp groups 
Please beware of fraudulent Telegram and WhatsApp groups impersonating PSG Financial Services, our divisions and our advisers. Be cautious, verify links and contact your adviser or Client Services if you have any queries or concerns.

Neiging tot laer fooie neem toe by effektetrusten beursverhandelde fondse.

Volgens Morningstar se jongste studie van Amerikaanse fondse, het markdeelnemers wat in effektetrust- en beursverhandelde fondse belê het verlede jaar laer fooie betaal en ongeveer VS$5.8 miljard aan totale fondsuitgawes bespaar. Die studie het verder onthul dat die bategeweegde gemiddelde onkosteverhouding van alle effektetrust- en beursverhandelde fondse in die VS in 2019 tot 0.45% gedaal het vanaf 0.48% in die vorige jaar.

Die beweging na laekoste-fondse het ’n daling in bategeweegde gemiddelde fooie moontlik gemaak. Volgens die studie het fooie vir aktiewe fondse in 2019 tot gemiddeld 0.67% gedaal vanaf 0.68% in 2018. Een vyfde van die fondse met die laagste pryse het in 2019 ’n netto invloei van VS$581 miljard ondervind, terwyl die oorblywende fondse ’n netto uitvloei van VS$224 miljard gehad het.

“Beleggers raak toenemend bewus van hoe belangrik dit is om beleggingskoste tot die minimum te beperk. Dit het hulle na fondse en aandeelklasse met laer koste laat oorskakel,” noem Morningstar.


Beleggers konsentreer dikwels op inligting wat nie gewoonlik van nut is nie, soos onlangse prestasie. Hoe word die prestasie van jou belegging benadeel as jy dit daagliks nagaan?

Beleggingsplanne het ’n lang termyn. Hoewel prestasiesyfers ’n nuttige hulpmiddel is, moet ’n mens bevraagteken hoe doeltreffend dit is wanneer beleggers prestasie daagliks begin evalueer. Ons weet dat groeibates baie siklies van aard kan wees en om verskeie redes deur tydperke van sterk onder- en uitstekende prestasie kan beweeg. Daarom word toekomstige prestasie nie deur vorige prestasie bepaal nie, wat beteken dat die gebruik van korttermynprestasieverslae om te bepaal hoe goed jou belegging vaar, geen waarde het nie. Beleggers verwag dikwels dat toekomstige opbrengste soos onlangse opbrengste moet lyk, wat volgens ons ervaring in werklikheid selde die geval is.

Om suksesvol te belê, is dit belangrik dat jy jou risikoverdraagsaamheid oorweeg. Hoeveel risiko moet jy aangaan wanneer jy belê?

Ons glo dat om met ’n paslike gekwalifiseerde finansiële beplanner saam te werk ’n baie belangrike aspek van belegging is, omdat ’n plan en baie dissipline nodig is om suksesvol te belê. Finansiële beplanningskundiges kan jou help om jou doelwitte te kwantifiseer en ’n deeglike ontleding van jou behoeftes en risiko’s doen. Dit beteken eenvoudig jy kan nie risiko sonder doelwitte oorweeg nie, of doelwitte oorweeg sonder om jou risikoverdraagsaamheid in ag te neem nie.

Waarop moet beleggers dan fokus?

Die fokus behoort op langtermyn-evaluerings van jou portefeuljeprestasie met betrekking tot voorafbepaalde
maatstawwe te wees, en selfs nog belangriker, die doelwitte van jou finansiële plan. Hierdie doelwitte het dikwels ook spesifieke beleggingstermyne, wat uiters belangrik is om te oorweeg wanneer hierdie syfers hersien word. Wanneer beleggings op groei gemik is, sluit die portefeuljesamestelling dikwels aandele in, maar om aandele oor ’n tydperk van ’n paar maande te evalueer, kan ’n mens op ’n dwaalspoor laat beland. Ons het nou ’n goeie voorbeeld hiervan, waar markte onder druk verkeer sedert markonbestendigheid weens COVID-19 laat in Februarie verlede jaar in die markte posgevat het, maar as jy na die langertermyn-prentjie
kyk (soos die grafiek hieronder toon), is opbrengste in ooreenstemming met verwagtinge.

Onlangsheid-vooroordeel is algemeen bekend as die geneigdheid om die belangrikheid van onlangse gebeure te oorskat en langtermynbewyse te ignoreer. Hoe kan beleggers die slaggat van hierdie vooroordeel vermy?

Dit is uiters belangrik om jouself aan jou langtermynbeleggingsdoelwitte te herinner. Dit is net so belangrik om te verstaan hoe bateklasse gedurende jou beleggingsreis sal reageer. Verrassings skep angs, wat dan dikwels tot foute lei. ’n Sterk plan, wat deur realistiese verwagtinge oor korter en langer tydperke ondersteun word, sal jou denke anker en jou help om jou beleggingsproses met dissipline te benader. Beleggers wat hul portefeuljes in ooreenstemming met hul langtermyndoelwitte saamstel, en terselfdertyd realistiese verwagtinge het omtrent die instrumente in hul portefeulje, sal baie minder geneig wees om hulself uitermate deur onlangse prestasie te laat beïnvloed.

Hoe gereeld moet prestasie hersien word?

Dit is belangrik om in gedagte te hou dat ’n gereelde hersiening ’n regulatiewe vereiste is. Dit beteken egter
nie dat jy alle prestasie oor ’n tydperk van byvoorbeeld 12 maande moet hersien nie. Wat dit wel beteken, is dat dit belangrik is om met jou finansiële beplanner te gesels en seker te maak jy is nog op koers om jou langtermynbeleggingsdoelwitte te bereik. Dit beteken ook dat jy die geleentheid kan gebruik om die gerusstelling te kry wat jy nodig het om jou angs in toom te hou, en dissipline in die beleggingsbenadering te versterk. Die meeste beleggers is nie daarvan bewus dat jy as ’n belegger aan jou dissipline kan (en moet) werk nie. Ons hoor dikwels finansiële beplanners sê: “Hou by jou plan.” Dit is presies die soort dissipline
waarvan ek hier praat.

Hoewel die onlangse verlede ’n swak aanwyser is van wat die toekoms inhou, is daar tog ’n paar waardevolle lesse wat ons nie kan ignoreer wanneer ons na langer tydperke in die geskiedenis kyk nie. Wat kan ons uit vorige markdalings leer?

Ons sê beslis nie alle historiese inligting is irrelevant nie. Inligting is ’n waardevolle hulpmiddel en het ’n spesifieke funksie. Sekere syfers is meer toepaslik vir kort tydperke, terwyl ander op die langer termyn beskou moet word. Na ons mening is onlangse prestasie beslis van minder waarde vir groeibates. Historiese langtermynsyfers is waardevol, veral wanneer bateklasse se opbrengste oor ’n tydperk as historiese waardasies en neigings oorweeg word.

’n Praktiese voorbeeld is hoe vorige markdalings ons gehelp het om die COVID-19-krisis in perspektief te plaas en ’n begrip te kry van verskillende scenario’s van hoe die herstelpad kan lyk, teen die agtergrond van vorige markdalings en pandemies. Onthou dat markineenstortings baie meer dikwels oor ’n lang beleggingstermyn gebeur as wat geglo word, wat beteken dat dit redelik normaal is, hoewel dit ongemak veroorsaak. Ons het in vorige publikasies genoem dat jy in aandelemarkte ’n terugslag van 10% elke 18 maande kan verwag, en een van meer as 20% feitlik elke vyf jaar. Dit behoort nie ’n verrassing te wees nie. Beleggers moet verstaan dat dit deel van die reis is. Dit moet deel van jou verwagtinge wees. Sonder hierdie konteks kan beleggers nie hul verwagtinge bestuur nie, en dít lei dan tot foute gedurende tydperke wanneer die markte onder druk is.

Wat is die rol van adviseurs in die huidige omgewing, met inagneming van die hoër vlakke van onsekerheid?

Ons reken die waarde van finansiële advies het gedurende hierdie tyd beduidend gestyg, aangesien die waarskynlikheid dat beleggers foute kan begaan, toegeneem het. Die waarskynlikheid dat foute begaan sal word, neem toe gedurende tye wanneer markte onder druk is, soos ons die afgelope paar maande gesien het. Die plig van enige goeie finansiële adviseur is om beleggers daadwerklik daaraan te herinner om op hul langtermyn-finansiële doelwitte te fokus, en hulle aan te moedig om die “geraas” in die mark te ignoreer terwyl hulle die storm trotseer.

PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2026 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us