Misdaadtendense: Is Jy Voorbereid Vir Risiko’s? | PSG

Fraudulent Telegram and WhatsApp groups 
Please beware of fraudulent Telegram and WhatsApp groups impersonating PSG Financial Services, our divisions and our advisers. Be cautious, verify links and contact your adviser or Client Services if you have any queries or concerns.

Veranderende misdaadtendense in Suid-Afrika – is jy voorbereid vir die risiko’s?

Die jongste opname oor bestuurstoesig, openbare veiligheid en geregtigheid het onthul dat huisbrake en diefstal ʼn groot bron van kommer bly, ondanks ʼn verbetering in die persepsie van veiligheid in Suid-Afrikaanse gemeenskappe. In 2024/2025 is ʼn geraamde 1.5 miljoen insidente aangeteken, wat 5.7% van huishoudings in die land verteenwoordig. Met huisbrake bo-aan die lys van nie-kontakmisdade, beklemtoon dit die noodsaaklikheid van genoegsame versekeringsdekking vir beide huishoudings en besighede teen eiendomsverwante diefstal en verliese.

Statistieke SA het met jaar-tot-jaarvergelykings op die jongste verslag uitgebrei en gemeld dat die getal huisbrake (wel net effens) afgeneem het sedert 2022/2023, toe 1.56 miljoen insidente aangeteken is.

Diefstal van persoonlike eiendom het ʼn geraamde 1.2 miljoen mense (2.6% van die bevolking wat 16 jaar en ouer is) geaffekteer het, teenoor 1.3 miljoen in 2023/24. Hoewel dit ʼn verbetering is, is baie inwoners steeds aan die risiko van misdaad blootgestel, veral in stedelike gebiede.

Nog ʼn gereelde tipe eiendomsverwante misdaad wat oor ʼn vyfjaar-tydperk aangemeld is, is die diefstal van motorvoertuie. Volgens die peiling het die persentasie huishoudings wat deur hierdie soort misdaad geraak is, ook effens afgeneem, van 1.2% tot 1.1%. Die 216 000 sake wat die afgelope jaar aangemeld is, toon egter dat motorvoertuigmisdaad ʼn risiko bly.

Versekeringskontrolelys

Die effense afname in nie-kontakmisdade moenie tot oorgerustheid lei nie, aangesien huisbrake en diefstal van persoonlike eiendom en motorvoertuie steeds groot risiko’s is wat ʼn mens dwing om waaksaam te bly en voorsorgmaatreëls te tref. Dis nie net noodsaaklik uit ʼn persoonlike oogpunt en wat die veiligheid van eiendom betref nie – die implikasies daarvan vir versekering en deurlopende dekking is ook belangrik.

Die eerste wyse waarop kliënte hul eiendom en besittings kan beskerm, is deur (ten minste) jaarliks hul versekeringspolisse te hersien. Dis ook belangrik om te weet of daar enige perke is op dekking vir gebeurlikhede soos inbrake of diefstal, en of enige uitsluitings van toepassing is.

Kliënte moet ook seker maak dat items met ʼn hoë waarde, soos persoonlike elektronika, juweliersware en kunswerke die regte dekking het. Hierdie items kan by die totale versekerde bedrag vir huishoudelike goedere ingesluit word of afsonderlik gespesifiseer word in die toepaslike afdelings van die polis, of aparte dekking kan uitgeneem word vir duur versamelings.

Verminder blootstelling aan misdaad

Afgesien daarvan om voldoende versekeringsdekking te hê en in stand te hou, behoort kliënte ook hul besittings op proaktiewe wyse te beskerm. Benewens die installering van die regte tipe sekuriteitstelsels, is dit ook raadsaam dat huiseienaars by hul plaaslike buurtwagprogramme inskakel – hetsy deur vrywillig diens te doen of aktief aan waarskuwingsgroepe deel te neem om ʼn kultuur van waaksaamheid onder bure te bevorder.

Vir eienaars van kommersiële eiendom moet veiligheidsmaatreëls aansluit by die tipe voorraad wat gehou word, en die waarde daarvan. Na gelang van die aard van die goedere, kan vereistes wissel van gekoppelde alarmstelsels tot veiligheidswagte 24 uur per dag. Dís waar die leiding van ʼn versekeringsadviseur van kardinale belang is. Die adviseur kan help sorg dat die vlak van dekking met die risikoblootstelling ooreenstem.

Besigheidsdekking vir diefstal is op ʼn eerste verlies-grondslag, wat vereis dat ʼn toepaslike waarde in verhouding tot die potensiële blootstelling bepaal word. Hoewel stelsels en protokolle belangrik is, moet werknemers ook opgelei word in veiligheidsprosedures en bewus gemaak word van risiko’s, omdat menslike foute dikwels steeds die besigheid baie kwesbaar maak.

Die beveiliging van motorvoertuie moet aan versekeraars se minimum aanbevelings voldoen, wat kan insluit dat opsporingstoestelle geïnstalleer en alarmstelsels gebruik word. Ander eenvoudige veiligheidsmaatreëls wat motoreienaars kan tref, is byvoorbeeld om ʼn strategiese parkeerplek te kies wat goed belig is, in besige areas en veilige omgewings, om die moontlikheid van diefstal of vandalisme te verminder.

Om die risiko van diefstal van persoonlike besittings te verlaag, is dit net so belangrik om ʼn veelsydige benadering te volg deur waaksaam en goed georganiseerd te wees en voorsorgmaatreëls te tref. Hou byvoorbeeld waardevolle items uit die oog – of dit nou by die huis, in die kantoor of in ʼn voertuig is. Met hierdie proaktiewe stappe kan individue die moontlikheid van groot verliese in die geval van ʼn insident beduidend verminder.

Recommended news

Card image cap
InsureInShort
Tackling the inside job threatening your bottom line: Risk mitigation and the role of fidelity insurance

Read more
Card image cap
InsureInShort
How changing weather and crime trends impact your property insurance

Read more
Card image cap
InsureInShort
Furnished, semi-furnished, or unfurnished property? Insurance essentials for rental properties

Read more
PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2026 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us