Die versekeringsgids vir eerstekeer-motorkopers | PSG Wealth

Die versekeringsgids vir eerstekeer-motorkopers

Die wêreld van motorversekering kan verwarrend wees vir eerstekeer-motorkopers, want daar is reeds so baie om te oorweeg wanneer dit kom by die keuse van die regte motor en transaksie. Versekering gee uiteindelik vir jou ʼn veiligheidsnet wat jou terugplaas in dieselfde finansiële posisie as wat jy was voordat ʼn insident gebeur het. Vir baie kan hierdie veiligheidsnet die wêreld se verskil maak wanneer die onverwagte gebeur.

Is motorversekering nodig?
Die kort antwoord hierop is ja. Al dink jy dat jy ʼn goeie en versigtige bestuurder is, is dit ongelukkig so dat jy geen beheer het oor hoe ander mense bestuur nie. Daar is ook die realiteit van dronkbestuur om in ag te neem. Dit bly een van die grootste bedreigings vir Suid-Afrikaanse motoriste – in Januarie 2022 alleen is 961 dronk bestuurders in hegtenis geneem in Suid-Afrika.

Nog ʼn faktor om in ag te neem is die voorkoms van motorverwante misdaad, wat diefstal en kapings insluit. Hierdie tipe misdaad kan verwoestend wees op vele vlakke – ook finansieel. Motorversekering gaan dus nie net oor jou bestuursvaardighede nie, maar dit is ook daar om jou te beveilig teen alledaagse gevare wat buite jou beheer is.

Verskillende tipes dekking
Elke maatskappy het verskillende polisse met verskillende nuanses, maar tradisioneel val motorversekering in drie breë kategorieë: omvattend, derde party alleenlik, en derdeparty-dekking met brand en diefstal ingesluit.

ʼn Omvattende versekeringspolis verskaf dekking teen misdaad, skade of vernietiging veroorsaak deur die weer, en wanneer jy in ʼn ongeluk betrokke is (ongeag of jy vir die ongeluk verantwoordelik was of nie).

Suiwer derdeparty-polisse verskaf dekking wanneer dit gebeur dat jy skade aan iemand anders se motor aanrig of dit vernietig. Hierdie tipe dekking sluit nie dekking vir jou eie motor in nie, so jy sal self die koste vir herstelwerk of vervanging moet dra.

Derdeparty-versekering met brand en diefstal ingesluit dek alles wat by derde party alleenlik ingesluit is plus brand, diefstal en kaping. Met hierdie tipe polis is jy nie gedek teen toevallige skade soos ʼn botsing met ʼn ander voertuig of ʼn stilstaande voorwerp nie.

Wat is die bybetaling en hoe werk dit?
Wat baie eerstekeer-kopers nie besef nie, is dat die eiser eers ʼn finansiële verpligting moet nakom voordat ʼn versekeringseis uitbetaal. Dit staan bekend staan as die eerste bedrag betaalbaar of bybetaling. Die bybetalingsbedrag word deur jou risikoprofiel bepaal.

Jy het ook die keuse van ʼn vrywillige bybetaling wat jou toelaat om jou eie hoër bybetaling vas te stel en sodoende jou premies te verlaag. Om dit vir jou te laat werk, moet jy die voor- en nadele van elke opsie saam met jou adviseur oorweeg.

Wat is ʼn ballonbetaling, en is dit versekerbaar?
Ballonbetalingsooreenkomste word ʼn al hoe gewilder manier om ʼn motor in Suid-Afrika te finansier. Hierdie ooreenkomste laat motorkopers toe om betreklik lae premies te betaal en aan die einde van die leningstydperk betaal hulle dan ʼn enkelbedrag (ballonbetaling).

Vir sommige is dit miskien ʼn werkbare opsie om ʼn motor af te betaal, maar vir ander kan dit ʼn riskante besluit wees en duur raak wanneer jy die motor wil afbetaal. As jy in ʼn ongeluk betrokke is voordat jy die motor afbetaal het, sal jy verantwoordelik wees om die ballonbetaling te doen. Om te help om hierdie koste te dek, kan jy aansoek doen vir tekortdekking om die verskil tussen die markwaarde van jou motor en die uitstaande bedrag wat jy nog op die motor skuld ten tye van die ongeluk te dek. Die byvoeging van tekortdekking by jou polis sal jou premie verhoog, maar die risiko dat jy jou motor kan verloor terwyl jy nog daaraan afbetaal, is nie die moeite werd om ʼn kans mee te waag nie.

Hoe word my premie bepaal?
Versekeraars baseer hul premies op elke individu se risikoprofiel. Aspekte wat oorweeg word om jou risikoprofiel te bepaal, sluit in jou ouderdom, bestuurservaring, jou eisegeskiedenis, die gemiddelde jaarlikse afstand wat jy ry, en jou kredietgradering. Ander bepalende risikofaktore sluit in die fabrikaat, model en waarde van die motor sowel as die geografiese risikofaktore wat afhang van waar jy bly. As jy byvoorbeeld op die platteland in die Vrystaat bly, sal jy minder betaal as wanneer jy in Gauteng bly.

Eerstekeer-kopers met min bestuursondervinding kan oor die algemeen verwag om hoër premies te betaal as ervare bestuurders. Deur verantwoordelik te bestuur, onnodige eise te vermy en ekstra veiligheidsmaatreëls te tref om jou motor te beskerm, kan jy mettertyd laer premies beding.

Dit is belangrik om daarop te let dat indien jy voertuigfinansiering gebruik om jou motor te koop, die meeste banke verwag dat jy jou nuwe motor moet verseker voordat jy die handelaar verlaat, as deel van die leningsooreenkoms. Daar is verskeie faktore om te oorweeg wanneer die regte versekeringspakket gekies word, en koste is slegs een element. Daarom is dit belangrik om met ʼn finansiële adviseur te gesels om jou te help om die beste transaksie te beding en terselfdertyd seker te maak dat jy genoeg dekking het vir een van die waardevolste bates wat jy kan besit.

PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2025 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us