August 2023
Dawid Botha
PSG Wealth
My onlangse nuusbrief het gehandel oor beleggingsopbrengste, die wisselvalligheid van aandelemarkte en hoe die wisselvalligheid van bate-opbrengste oor langer periodes afneem.
Afgetredenes ontvang gewoonlik ’n inkomste in die vorm van deurlopende onttrekkings uit die beleggingsbates wat hulle deur die jare opgebou het.
Alhoewel die wisselvalligheid van aandelemarkte oor tyd afneem, is verdere beplanning nodig om die beleggingsamestelling te bepaal in die geval van deurlopende onttrekkings, soos gedurende aftrede. Dit is egter uiters belangrik om eers te bepaal of die persentasie of bedrag van die beoogde onttrekking volhoubaar is of nie.
Verskeie lesers en kliënte sal weet dat ek hou van die vrugteboom-metafoor, terwyl ek as kind my pa (’n tuingeesdriftige) dopgehou het. Daar is baie lesse/raakpunte met die beleggingswêreld. Ons wil die boom (jou pensioen/aftreepakket) so hanteer en bestuur dat dit ten minste tot jou afsterwe vir jou en jou gade sorg.
Die beleggingsbedryf en ons maatskappy se filosofie ook is as volg (ons gebruik die voorbeeld van Jan Alleman):
Gestel Jan se boom is R20 miljoen “groot” en op 60 jaar oud, dan kan hy R800 000 (4%) per jaar se vrugte gebruik en eet sonder om die boom oor die lang termyn te beskadig.
Indien Jan slegs sowat R600 000 (3%) se vrugte van sy R20 miljoen-boom gebruik (onttrek), dan val daar ’n klompie vrugte af, wat ekstra kompos maak en die boom bemes en sterker laat groei. In so ‘n geval gaan hy waarskynlik sy geld oorleef, want hy onttrek relatief min.
Indien Jan op 60-jaar sowat 5% (R1 000 000) per jaar onttrek, is hy besig om klein vrugtedraende takkies af te sny. Hy sal moet probeer om sy onttrekkings te verlaag of in die toekoms teen ’n laer koers as inflasie te verhoog.
As Jan Alleman egter 6% (R1 200 000) of meer per jaar onttrek, is hy besig om ernstig takke af te sny. Indien hy nie met deeltydse werk addisionele inkomste genereer of kleiner onttrekkings aangaan nie, gaan daar waarskynlik oor 20 jaar niks van sy vrugteboom oorbly nie. Die gevaarligte flikker hier.
Soos in die lewe gaan dit oor balans: óf jou tyd óf jou geld gaan opraak! (In die praktyk is dit moeilik om daardie twee presies te laat saamval.)
Nadat die onttrekkingsbehoeftes soos hierbo geskets bepaal is, gebruik ons maatskappy die beproefde “mandjie”-strategie as basis vir kliënte se beleggingsamestelling soos geïllustreer in die onderstaande skets. Op die horisontale as word Jan se ontrekkings opgedeel in die kort-, medium- en langtermynperiodes . Op die vertikale as is die gepaardgaande tipe opbrengs wat in elke bateklas verdien word. Die totale beleggingsportefeulje van R20 miljoen word in drie mandjies verdeel: die onttrekkingsbehoeftes vir die eerste twee jaar, die daaropvolgende drie jaar se onttrekkingsbehoeftes, en dan die onttrekkingsbehoeftes oor ses jaar en langer.
Vir Jan met sy R20 miljoen wat R800 000 (4%) per jaar onttrek, sal sowat R1 600 000 in Mandjie 1 belê word, R2,4 miljoen in Mandjie 2, en R16 miljoen in Mandjie 3.
Aangesien die belegger se onmiddellike onttrekkings, vir jaar een en twee, nie aan wisselvalligheidsrisiko blootgestel moet wees nie, belê ons dit in basiese kontantbates. (Mandjie 1).
Mandjie 2 (vir onttrekkingsbehoeftes gedurende jaar 3 tot 5) bestaan uit multibate-beleggings wat grootliks inkomstebates insluit, maar ook aandeelblootstelling het. Die belegger kan hier bietjie meer wisselvalligheid aanvaar.
Omdat inflasie oor langer periodes die grootste uitdaging is, moet Mandjie 3 (vir onttrekkingsbehoeftes oor die lang termyn, naamlik ses jaar plus) bestaan uit bates wat beskerming bied teen inflasie – tipies plaaslike en internasionale aandele. Die inflasiebeskermende bates maak dus verreweg die grootste deel uit van die totale portefeulje.
Die portefeulje en onttrekkingsbehoeftes moet minstens jaarliks hersien word. Indien Mandjie 1 leeggetrek word, moet dit uit die ander mandjies aangevul word. Die toedeling aan die mandjies op grond van onttrekkingsbehoeftes oor die verskillende periodes is egter ’n dinamiese proses en moet met jou adviseur bespreek word.
Soos wat die spreekwoordelike water onder uit die blou mandjie vloei, word die batesamestelling aangepas om Mandjie 1 se bates aan te vul. Die groen mandjie se bates word ook jaarliks omgeskakel/verkoop om die rooi mandjie aan te vul. So word die onttrekkings heeltyd aangevul met water wat oorloop vanaf die groen na die rooi en van die rooi na die blou mandjie toe.
Die voordeel van dié proses is dat indien markte skerp daal, groeibates in Mandjie 3 nie teen laagtepunte verkoop hoef te word om aan die trekkingsbehoeftes te voldoen nie. Die laerrisiko-bates in Mandjie 1 en 2 bied ’n buffer om die skuiwe tussen mandjies uit te stel indien nodig. Die kern van dié benadering is om genoeg blootstelling aan groeibates te hê, maar terselfdertyd risikobestuur toe te pas en in krisistye gemoedsrus te verskaf.
Die gedissiplineerde aanpassing van die batesamestelling sal oor die lang termyn enige belegger wesenlik baat. Die proses moet egter dinamies bly soos wat omstandighede verander en aanpassings nodig is.
Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.