Fraudulent Telegram and WhatsApp groups
Please beware of fraudulent Telegram and WhatsApp groups impersonating PSG Financial Services, our divisions and our advisers. Be cautious, verify links and contact your adviser or Client Services if you have any queries or concerns.
April 2023

Dawid Botha
PSG Wealth
Markte het onlangs weer geskrik weens die ondergang van onder andere Credit Suisse (CS), Silicon Valley Bank (SVB) en Signature Bank (SB). CS het ’n ryk geskiedenis en senior bestuur het dit ook flambojant in die afgrond in bestuur. Verskeie partye, soos die Amerikaanse Federale Reserweraad, die Switserse sentrale bank en ander groot banke, het ingegryp om te verseker dat internasionale likiditeit nie opdroog nie.

“ Warren Buffett se Berkshire Hathaway het dit histories uitsonderlik goed gedoen en in “spel gebly”. Dit is een van ons top tien internasionale aandele vir kliënte. ”
Bostaande gebeure laat mens onwillekeurig dink aan hoe belangrik risikobestuur is in enige besigheid. SVB en SB is tipiese Amerikaanse banke wat swak tesouriebestuur toegepas het. Die Credit Suisse-debakel bly egter vir my ’n groter raaisel.
Hierdie krisistye skep egter geleenthede vir rasionele en intelligente beleggers. Ek is van mening dat UBS ’n goeie geleentheid benut het en ’n herstelbare klomp besighede gekoop het met sy “goedkoop” verkryging van Credit Suisse. Weens die uitvoeringsrisiko’s kom ’n belegging in UBS egter met geel vlae.
Uit die bostaande is dit duidelik dat risikobestuur krities is vir besigheid- en beleggingsukses in die lang termyn. Warren Buffett se Berkshire Hathaway het dit histories uitsonderlik goed gedoen en in “spel gebly”. Dit is een van ons top tien internasionale aandele vir kliënte. Dit is sinvol om tog weer die meriete van Buffett se sukses onder die vergrootglas te sit.
Buffett word gereken as een van die suksesvolste beleggers en besigheidspersone en is ook toevallig van die rykste. Buffett en sy vennote se filosofie is om in besighede te belê met die regte langtermyndryfvere. Die groei in besigheid lei tot hoër winste. Aandeelpryse sal dan sorg vir hulself en laastens sal die rykdom volg. Vanaf 1965 tot 2022 het Berkshire Hathaway se aandeelprys met 19,80% per jaar gegroei, en Buffett se belang van 15,60% in Berkshire Hathaway is nou meer as $100 miljard werd.
Berkshire Hathaway, waarvan Buffett die uitvoerende hoof en voorsitter is, kan as’t ware as sy persoonlike beleggingsportefeulje beskou word. Die feit dat die maatskappy publiek genoteer is, beteken dat beleggers saam met Buffett kan belê. Menige is bekend met Buffett, maar is waarskynlik nie bewus van wat in Berkshire Hathaway se portefeulje is nie.
Buffett se portefeulje bestaan eerstens uit operasionele besighede(filiale) wat deur Berkshire beheer word. Hier gee Berkshire rigting ten opsigte van kapitaaltoewysing en stel uitvoerende hoofde aan wat die dag-tot-dag-bedrywighede bestuur.
Die onderstaande tabel illustreer die besigheidsverdeling en die omvang van die filiale se winste, asook die werknemers van die filiale.

Alhoewel die filiale se winste goed gediversifiseer is, beskryf Buffett die versekeringsbedrywighede as die enjin wat Berkshire se groei dryf. Versekeraars ontvang premies vooraf en betaal eise later. In die tussentyd verdien hulle ’n beleggingsopbrengs op die reserwekapitaal wat gehou word vir toekomstige eise. Die reserwekapitaal het van $27,9 miljard in 2000 toegeneem tot $65,8 miljard in 2010, en is tans $164 miljard. Dié toename wys dat Berkshire se groei-enjin glad loop.
Berkshire hou tans $150 miljard in kontant en skuldinstrumente. ’n Sterk en konserwatiewe balansstaat is deel van Berkshire se DNS. Risikobestuur is uiters belangrik vir Buffett en hy sê dat Berkshire se toekomstige uitvoerende hoof ook die hoofrisikobeampte sal wees.
Die tweede deel van Buffett se portefeulje is genoteerde maatskappye, waar Berkshire gewoonlik wesenlike belange koop en lank hou, maar nie beheer uitoefen nie. Dié portefeulje, wat op 31 Desember 2022 $308,8 miljard werd was, bevat sowat 50 aandele, maar 75% van die waarde is in vyf maatskappye gekonsentreer:

Ek gaan nie die meriete van die onderliggende maatskappye bespreek nie, maar dit is wel belangrik om bewus te wees van die omvang van die beleggings relatief tot Berkshire se markwaarde van $650 miljard. Alhoewel die filiale en genoteerde beleggings deurlopend groei op lang termyn, beteken die wyse waarop die genoteerde beleggings rekeningkundig erken word dat Berkshire se verdienste wisselvallig kan wees van jaar tot jaar.
Berkshire bied beleggers ’n uitgesoekte en gediversifiseerde portefeulje van maatskappye met goeie langtermyndryfvere. Berkshire se risiko lê daarin dat Buffett (ouderdom 92) nie bloot vervang kan word nie. Buiten Charlie Munger (99), Buffett se jarelange vennoot, is daar wel ’n uitgesoekte en gesoute span leiers wat die Berkshire-DNS dra.
’n Basiese waardasiemaatstaf is om Berkshire se prys-tot-boekwaarde-verhouding te gebruik. Teen ’n prys-tot-boekwaarde van 1,40 verhandel Berkshire teen ’n 40%-premie tot die netto batewaarde. Die huidige premie is in ooreenstemming met die gemiddelde premie oor die afgelope vyf jaar en is dus nie uitermate duur of goedkoop nie.
Buffett is bereid om Berkshire-aandele terug te koop teen pryse wat waarde ontsluit, en het in die vierde kwartaal van 2022 aandele teruggekoop teen soortgelyke pryse as waarteen dit nou verhandel. Dit ondersteun die siening dat Berkshire ’n aantreklike langtermynbelegging is teen die huidige prysvlakke en steeds gekoop kan word.
Die inligting in hierdie dokument is algemene inligting. Dit is nie finansiële, belasting-, regs- of beleggingsadvies nie en die maatskappye in die PSG Konsult Groep waarborg nie die geskiktheid of potensiële waarde daarvan nie. Aangesien individuele behoeftes en risikoprofiele verskil, stel ons voor dat jy jou gekwalifiseerde finansiële adviseur raadpleeg indien nodig. PSG Wealth Financial Planning (Pty) Ltd is ’n gemagtigde finansiële diensverskaffer (FDV 728).
Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.





