Fraudulent Telegram and WhatsApp groups
Please beware of fraudulent Telegram and WhatsApp groups impersonating PSG Financial Services, our divisions and our advisers. Be cautious, verify links and contact your adviser or Client Services if you have any queries or concerns.
September 2022

Dawid Botha
PSG Wealth
“Prys is wat jy betaal, maar waarde is wat jy kry.” Dié woorde van Warren Buffet is ’n belangrike beleggingsbeginsel om aan herinner te word wat prysvlakke en waardasies betref.

“ Aandeelmarkte is redelik en billik geprys en dit skep geleenthede vir langtermynbeleggers. ”
In die Junie-nuusbrief het ek gedeel dat sekere sentimentlesings, wat bewese teenstrydige aanwysers is, daarop gedui het dat markte oorverkoop is en dat ’n herstel hoogs waarskynlik is. Aandeelpryse het sedertdien herstel.
Oor die jare het ek egter geleer dat pryse oor die kort termyn deur sentiment en nuusgebeure bepaal word, maar oor die lang termyn is dit waardasies wat pryse bepaal. Die belangrikste les daaruit is dat spekulante nuusgebeure en inligting moet dophou, en dat beleggers meer moet ag slaan op waardasies van maatskappye en die meriete van ’n belegging.
Daar is verskeie maatstawwe waarna beleggers kan kyk, soos prys-tot-boekwaarde-verhoudings, kontantvloei-omskepping en vrye kontantvloei, opbrengs op aandeelhouersgeld, verwagte winsgroei en ander maatstawwe. Prys-verdienste-verhoudings (PVV’s) gee egter ’n baie sinvolle basiese aanduiding van waardasies.
As ek kyk na die Amerikaanse S&P 500 Indeks, is die verwagte PVV 17.7 keer vergeleke met die gemiddelde van 17 oor die vorige 10 jaar. Die sogenaamde MegaCap-8 (aandele) het egter ’n wesenlike impak op die huidige waardasie van die S&P 500 Indeks, synde dié groep maatskappye sowat 24% van die S&P 500 se markwaarde beslaan. Die Megacap-8 sluit Alphabet, Amazon, Apple, Meta, Microsoft, Netflix, NVIDIA en Tesla in.
Soos die grafiek hieronder toon, is hierdie groep aandele duur, en hulle gaan altyd duur bly – veral in vergelyking met byvoorbeeld die Amerikaanse S&P 400 en 600 Indekse, wat medium en klein maatskappye verteenwoordig. Dié indekse verhandel tans teen verwagte PVV’s van 13. Die waardasie is in alle opsigte goedkoop. Ek is dus van mening dat aggressiewe beleggers ’n paar rand kan waag in die indekse, met die hoop op ’n prysherstel daar.

Indien ons kyk na die ander kant van die Atlantiese Oseaan, en spesifiek die Europese ekonomiese reus Duitsland, sien ons dat die MSCI Duitsland Indeks tans teen dieselfde verwagte PVV verhandel as in Maart 2020, met die aanvang van die Covid-19-inperkings.
Die waardasies was sedert 1995 slegs by drie geleenthede goedkoper: in 2008, 2011 en 2012. Volgens waardasie is die Duitse mark dus goedkoop nieteenstaande die donker energiewolke wat die korttermyn-prentjie beïnvloed, terwyl Duitsland veral van Russiese energiebronne afhanklik is.
As beleggers vorentoe kyk, is daar dus steeds onsekerheid – soos daar altyd in die verlede onsekerhede was, en soos daar ook altyd in die toekoms gaan wees.
Indien beleggers wag tot die punt en plek waar daar geen onsekerheid is nie, gaan aandeel- en bate-pryse waarskynlik 20% hoër wees!
Aandeelmarkte is redelik en billik geprys en dit skep geleenthede vir langtermynbeleggers.
Die inligting in hierdie artikel is algemene inligting. Dit is nie finansiële, belasting-, regs- of beleggingsadvies nie en die maatskappye in die PSG Konsult Groep waarborg nie die geskiktheid of potensiële waarde daarvan nie. Aangesien individuele behoeftes en risikoprofiele verskil, stel ons voor dat jy jou gekwalifiseerde finansiële adviseur raadpleeg indien nodig. PSG Wealth Financial Planning (Pty) Ltd is ’n gemagtigde finansiële diensverskaffer (FDV 728).
Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.





