December 2021
Antoinette Naudé
Wealth Manager, Hermanus Portfolio Management & Stockbroking
Die woorde van die plakkaat wat ontwerp is om die Britse publiek gerus te stel voor die Tweede Wêreldoorlog – Keep calm and carry on – kan net sowel ons mantra wees terwyl die vierde Covid-golf inbeweeg oor Kersfees.
“ Hoewel dit skitterende opbrengste is teen die agtergrond van die uiters moeilike omstandighede wat maatskappye moes trotseer, moet dit nie beleggers oorgerus maak nie ”
Beleggers wat die afgelope 12 maande met hierdie ingesteldheid benader het, is ruim vergoed vir hul selfdissipline en vasberadenheid. Die plaaslike aandelebeurs (FTSE/JSE ALSI) het ‘n prys-opbrengs van 23.4% gelewer vir die 12 maande tot 30 November 2021. Buitelandse aandelebeurse, soos gemeet deur die prysbeweging van die MSCI Wêreldindeks, het oor dieselfde tydperk 22% gelewer in Amerikaanse dollar. Die verswakking van die rand teenoor die Amerikaanse dollar oor hierdie tydperk het nog 5% by die MSCI Wêreldindeks-belegging gevoeg, vir ‘n totale opbrengs van 27%.
Hoewel dit skitterende opbrengste is teen die agtergrond van die uiters moeilike omstandighede wat maatskappye moes trotseer, moet dit nie beleggers oorgerus maak nie. Die ontdekking van die Omicron variant en die paniekverkope wat dit op aandelebeurse regoor die wêreld veroorsaak het, is ‘n goeie voorbeeld.
Hoewel daar talle riglyne is wat beleggers kan help om aanvaarbare langtermyn-opbrengste te behaal, glo ek daar is drie wat altyd bo-aan alle langtermynbeleggers se lys moet wees, veral in die huidige beleggingsomgewing.
Dit is die gesondheidswaarskuwing wat die meeste in beleggingsliteratuur gebruik word (met goeie rede) en die meeste deur beleggers geïgnoreer word. Jy koop blootstelling aan die MSCI Wêreldindeks nadat jy gelees het van die 27% opbrengs wat die indeks oor die afgelope 12 maande in rand behaal het. Hierdie oor selfversekerde gedrag kan veroorsaak dat beleggers bates koop wat oorgewaardeer is en moontlik op die punt is om te daal. Dit is nie ‘n uitgemaakte saak dat hierdie bates steeds goed sal presteer nie. Beleggers moet vorentoe kyk en probeer bepaal of dieselfde (of ander) faktore soortgelyke (of swakker) opbrengste kan lewer. Diegene wat beleggings bloot op grond van hul historiese prestasie (veral korttermynprestasie) in- of uitsluit, sal nie bevredigende langtermyn-opbrengste behaal nie.
Nadat jy jou langtermyn-beleggingsplan opgestel het, moenie van jou plan afwyk oor wat ander doen nie. Ons ingebore kuddementaliteit laat ons dikwels ander volg en naboots. Dit is veral waarneembaar wanneer beleggers koorsagtig ‘n gewilde aandeel of bateklas begin koop en die pryse tot kunsmatige en wankelrige hoogtepunte opjaag. Dit is nooit ‘n goeie idee om jou beleggingsplan op te stel of aan te pas op grond van wat ander doen nie. Maak staat op jou eie ontleding en navorsing (of dié van jou beleggingsadviseur) om die regte aksieplan vir jou te bepaal, gegrond op jou situasie en behoeftes. ‘n Realistiese beleggingsplan en doelwitte sal jou help om op koers te bly.
Ons word voortdurend, dag na dag bestook met inligting aan verskeie fronte – veral in die beleggingswêreld. Terwyl ons poog om by te bly met die jongste nuus, vergeet ons dikwels om te onderskei tussen wesenlike inligting en onbelangrike geraas. Hoewel dit moeilik kan wees, help die Harvardopvoedkundige, spreker en skrywer Shawn Anchor ons om geraas te identifiseer deur dit in vier kategorieë te plaas: onbruikbaar, ontydig, hipoteties en verwarrend. Indien inligting in enige van hierdie kategorieë val, is dit feitlik altyd beleggingsgeraas wat waarskynlik jou beleggingsplan sal laat ontspoor, en daarmee saam jou kanse om jou doelwitte te bereik.
Beleggers se gedrag speel ‘n sleutelrol in die uiteindelike sukses of mislukking van hul beleggingsplanne. Die Britsgebore Amerikaanse ekonoom, belegger en skrywer van The Intelligent Investor: The Definitive Book on Value Investing, Benjamin Graham, gee ‘n raak beskrywing: “Die intelligente belegger is ‘n realis wat aan optimiste verkoop en by pessimiste koop.”
Min van ons is realiste en selfs nog minder van ons wil erken dat ons beleggingsbesluite beïnvloed word deur ons emosies en gedragsvooroordele. ‘n Kundige adviseur ken beleggersgedrag en, wat nog belangriker is, weet hoe om jou beleggings teen sulke gedrag te beskerm.
Let wel: Die menings wat in hierdie dokument uitgespreek word, is dié van die skrywer en nie noodwendig dié van PSG nie, en maak nie advies uit nie. Hoewel die navorsing en voorbereiding van hierdie dokument met die grootste sorg gedoen is, word geen verantwoordelikheid aanvaar vir enige aksies wat onderneem word op grond van inligting in hierdie artikel nie. Onthou altyd dat dit wys is om jou portefeuljebestuurder te raadpleeg voordat jy belê.
Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.