October 2021
Ruben Botha
PSG Portfolio Management & Stockbroking, Hermanus, Assistant Wealth Manager
Baie Suid-Afrikaanse beleggers het om verskeie redes die afgelope paar jaar besluit om groter persentasies van hul portefeuljes aan buitelandse beleggings toe te wys.
“ Hoewel hierdie motivering om meer geld aan buitelandse beleggings toe te wys verstaanbaar is, onderskat Suid-Afrikaanse beleggers dikwels hul werklike buitelandse blootstelling. ”
Baie Suid-Afrikaanse beleggers het om verskeie redes die afgelope paar jaar besluit om groter persentasies van hul portefeuljes aan buitelandse beleggings toe te wys . Sommige plaaslike beleggers is bekommerd oor Suid-Afrika se voortgesette lae ekonomiese groei en swak groeivooruitsigte. Die onlangse onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng, sowel as ʼn rekordhoë werkloosheidskoers en toenemende armoede, het kommer laat ontstaan oor toekomstige maatskaplike en politieke stabiliteit, en dit het beleggers laat besluit om meer geld in die buiteland te belê. Nog ʼn oorweging kan eenvoudig die verwagting wees dat buitelandse aandelemarkte se beter prestasie as die JSE van die afgelope dekade sal voortduur in die afsienbare toekoms.
Hoewel hierdie motivering om meer geld aan buitelandse beleggings toe te wys verstaanbaar is, onderskat Suid-Afrikaanse beleggers dikwels hul werklike buitelandse blootstelling. Of hulle nou direk belê in genoteerde aandele op die Johannesburgse Sekuriteitebeurs (JSE), of in die gemiddelde gebalanseerde effektetrustfonds (bv. deur uittree-annuïteite of effektetrustbeleggings), is hul buitelandse blootstelling in die meeste gevalle hoër as wat hulle dink.
ʼn Gebalanseerde effektetrustfonds word dikwels in aftreeprodukte gebruik en moet aan regulasie 28 van die Wet op Pensioenfondse voldoen. Regulasie 28 plaas sekere beperkings op blootstelling aan verskillende bateklasse vir aftreefondse – bv. ‘n maksimum van 75% blootstelling aan aandele en 30% aan buitelandse bates. Die gemiddelde gebalanseerde fonds wat aan Regulasie 28 voldoen, sal beleggers meestal ongeveer 20% tot 30% direkte buitelandse blootstelling gee oor die lang termyn. Hierdie fondse het gewoonlik ook ʼn beduidende komponent in JSE-genoteerde aandele, waarvan baie se finansiële resultate nie net van Suid-Afrikaanse ondernemings afhanklik is nie. Baie van die maatskappye wat op die JSE genoteer is, het beduidende internasionale belange.
ʼn Duidelike voorbeeld hiervan is British American Tobacco, wat ongeveer die helfte van sy inkomste verkry uit besigheid in die Verenigde State van Amerika en terselfdertyd ook beduidende blootstelling aan Europa en Asië het. ʼn Maatskappy soos Richemont verkry die meeste van sy inkomste uit besigheid in Asië, Europa en die Amerikas. Nog ʼn voorbeeld is Naspers/Prosus, wat beleggers blootstelling gee aan die Chinese tegnologiemaatskappy Tencent.
Hierdie maatskappye, saam met baie ander internasionale maatskappye, is dikwels ʼn groot komponent van aftreefondse, effektetrustfondse en direkte aandeleportefeuljes. Oor die algemeen kan beleggings in gebalanseerde effektetrustfondse (die meeste aftreefondse) wat 20% tot 30% direkte buitelandse blootstelling bevat, tesame met internasionale maatskappye soos bogenoemde en genoteer op die JSE, beleggers ʼn werklike buitelandse blootstelling van nader aan 40% of 50% gee. Buitelandse beleggingsblootstelling op hierdie vlak behoort voldoende te wees vir die meeste beleggers.
Die redelik onlangse bekendstelling van wêreldwye beursverhandelde fondse (BVF’s of “ETF’s”) wat op die JSE genoteer is, kan ook plaaslike beleggers help om addisionele buitelandse blootstelling te verkry. BVF’s is sekuriteite wat genoteer is op ʼn beurs wat gewoonlik sekere indekse navolg, soos die S&P 500 of die MSCI Wêreldindeks. Met ʼn belegging in BVF’s kry beleggers eintlik blootstelling aan honderde aandele wat by die betrokke indekse ingesluit is. BVF’s kan by direkte aandeleportefeuljes ingesluit word om breër buitelandse blootstelling en diversifikasie te verkry.
Beleggings in hierdie maatskappye en BVF’s beskerm ook beleggers teen ʼn verswakkende rand oor die lang termyn.
Hoewel dit waarde het om addisionele buitelandse beleggings by jou totale beleggingsportefeulje in te sluit, moet beleggers eers vasstel wat hul huidige buitelandse blootstelling is voordat hulle oorhaastig meer oorsee belê. Dit is belangrik om te verstaan dat, as jy besluit om addisionele buitelandse beleggings aan te gaan, die beleggings verkieslik op so ʼn wyse toegewys word dat genoegsame diversifikasie verkry word. Beleggers moet waaksaam wees om nie hul blootstelling aan internasionale maatskappye wat op die JSE beskikbaar is te dupliseer nie, d.i. om nie blootstelling te hê aan dieselfde maatskappye wat op die JSE en ander aandelebeurse genoteer is nie.
Doeltreffende buitelandse diversifikasie behoort dus blootstelling aan sektore, beleggingstemas of geografiese gebiede in te sluit wat moeilik verkry word deur net op die JSE te belê, of in effektetrustfondse wat net in Suid-Afrika belê. ʼn Meer onlangse voorbeeld sou wees om in die wêreldwye tegnologiesektor te belê. Dit is oor die algemeen moeilik om gediversifiseerde blootstelling aan sommige van die groot en snelgroeiende maatskappye in hierdie sektor te verkry (bv. Amazon, Alphabet/Google en Microsoft) deur net in JSE-genoteerde sekuriteite te belê.
Die toegelate direkte buitelandse blootstelling van 30% volgens Regulasie 28 kan ʼn goeie vertrekpunt wees vir beleggingsportefeuljes en kan vir die meeste beleggers geskik wees, maar dit moet oorweeg word met inagneming van die belegger se risiko-aptyt en beleggingsbehoeftes. Dit is altyd raadsaam om jou portefeuljebestuurder te raadpleeg as jy dit oorweeg om addisionele buitelandse blootstelling by jou beleggingsportefeulje te voeg.
Beleggers moet dus hul huidige buitelandse blootstelling deeglik ontleed, hul opsies vir buitelandse belegging oorweeg, en dan die mees geskikte buitelandse beleggings vir hul portefeulje identifiseer om uiteindelik beter diversifikasie en hoër potensiële opbrengste te verkry.
Let wel: Die menings wat in hierdie dokument uitgespreek word, is dié van die skrywer en nie noodwendig dié van PSG nie, en maak nie advies uit nie. Hoewel hierdie dokument met die grootste sorg nagevors en opgestel is, kan geen verantwoordelikheid aanvaar word vir handelinge wat op grond van inligting in hierdie dokument onderneem word nie. Onthou altyd dat dit wys is om jou portefeuljebestuurder te raadpleeg voordat jy belê.
Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.