’n 20-Jaar Oornag-Sukses | PSG

’n Bietjie meer as 20 jaar gelede was die Gateway Sentrum die naaste wat Hermanus aan ’n “mall” of inkopiesentrum gekom het. Daar was geen Woolworths of Checkers nie.

Besoekers uit Kaapstad sou aan die buitewyke begroet word deur ’n paar verdwaalde huise waar Chanteclaire verrys het, en slegs ’n oop stuk veld waar die Hemel & Aarde-kompleks vandag pronk. Van ’n gholflandgoed was daar nie eens sprake nie. Ook nie van privaat skole soos Curro en Generation nie.

Spesialis mediese kundigheid en fasiliteite was beperk en inwoners is genoop om “oor die berg” te ry daarvoor, en ook vir enige groot inkopies.

Dit was in die Hermanus van doerie tyd wat dr. Chris van Wyk ’n geleentheid – gekamoefleer as ’n leemte – raakgesien het. Daar was nie ’n besigheid in die dorp wat topklas beleggingsbestuur en/of ’n aandelemakelary gebied het nie.

In die groot sentra het beleggers, en veral afgetredenes en diegene naby aftrede, geredelik toegang gehad tot privaat welvaartbestuur via bekende name soos RMB, Investec en die destydse BOE (Board of Executors). Daar was ook ’n nuweling, PSG, wat sy hand begin opsteek het. Nie een van dié spelers het verteenwoordiging in ons streek gehad nie.

Chris kon sy kollegas by BOE oortuig en in 1998 open hy saam met Francois Nöthling ’n tak vir BOE Portefeuljebestuur en Aandelemakelary in ’n klein ruimte langs die kantore van Guthrie & Theron.

Teen die einde van 2000 was die tekens daar dat die besigheid potensiaal het, en is ek gevra om te kom help met die uitbreiding daarvan.

Ek het van ’n BOE-tak in Pretoria gekom vir ’n gesprek met Chris in hulle nuwe, steeds beskeie perseel in Highstraat, waar die IEC se kantore vandag is.

Ek kan onthou hoe opgewonde en passievol Chris was oor die praktyk wat hulle op die been gebring het. Hy was ook klinkklaar oor ons doelwitte en hoe ons hulle sou bereik:

  1. Ons moes ’n professionele span opbou wat aan die inwoners van Hermanus en omgewing ’n diens kon bied wat in alle opsigte kon kers vashou by die “groot” takke in die stede. Kortom, ons moes ’n ware vlagskiptak wees met al die vermoëns en bevoegdhede wat dit verg.
  2. Daarvoor sou ons deurentyd klem moes lê op uitnemendheid. Ons moes eenvoudig die vertroue van beleggers in die area wen deur ’n ongekende dienservaring te bied. Daarna word jou kliënte ambassadeurs van jou besigheid.
  3. Bogemelde kan slegs vermag word deur die regte mense – m.a.w. ’n goed gekwalifiseerde en kundige beleggingspan, maar met ewe veel klem op topklas administrasie.
  4. Ons moes ’n positiewe bydrae tot die gemeenskap lewer.

Die uiteinde was dat die reistog van ons praktyk in sy huidige vorm 20 jaar gelede, op 1 April 2001, begin het toe ek by Chris oorgeneem het as prinsipaal van die Hermanus-tak.

Daar was nie kortpaaie nie. Ons het doelgerig ons praktyk uitgebou en stadig maar seker ’n lojale kliëntebasis begin opbou.

Intussen het PSG Konsult, wat landswyd veld gewen het, hulle hoofkantoor in Hermanus gevestig. In 2007 het ons span ’n uitnodiging aanvaar om by hulle aan te sluit.

PSG se kultuur en sakemodel, wat heelwat klem lê op eienaarskap en entrepreneurskap, het ons soos ’n handskoen gepas en onder andere beteken dat ons kort daarna ons eie gebou op die hoek van Dirkie Uys- en Magnoliastraat kon betrek. Teen dié tyd is ons span se kundigheid en ervaring versterk nadat Antoinette Naude en Pierre Brink by ons aangesluit het.

Ons het mettertyd noue bande gevorm met die Hermanus Times, wat gelei het tot die geboorte van FinMonitor op 9 November 2007. Die mikpunt was om lesers toegang te gee tot ons insigte oor alle aspekte van hulle geldsake. Ons het sedertdien meer as 200 bydraes gelewer.

Ons het op etlike terreine betrokke geraak met finansiële hulp en borgskappe aan vele plaaslike instellings en inisiatiewe, soos SOFCA, Hospice, NSRI, O.A.K, Hermanus FynArts en Huis Lettie Theron, en ook aan verskeie kerke en skole.

Ons doelwitte en werkswyse het die afgelope 20 jaar onveranderd gebly. Ons het deur die jare daarin geslaag om top professionele talent, beide wat kwalifikasies en ervaring betref, te lok. Dit sluit in Jaanre Muller, Theo Cloete, Danie Olivier en Werner Gerber. Ons huidige beleggingspan het gesamentlik ver oor die 100 jaar professionele ervaring.

Van meet af het ons ook klem geplaas op uiters bekwame en toegewyde administrasie. Dit vorm een hoeksteen van kliënte se vertroue in die toewyding waarmee hulle belange gekoester word.

Ons hoop en glo dat ons sal volhou om nog baie jare ’n positiewe, betekenisvolle bydrae in ons omgewing te lewer.

NOTA: Die inligting in hierdie artikel is nie finansiële, belasting-, regs- of beleggingsadvies nie en die maatskappye in die PSG Konsult Groep waarborg nie die geskiktheid of potensiële waarde daarvan nie. Aangesien individuele behoeftes en risikoprofiele verskil, stel ons voor dat jy jou gekwalifiseerde finansiële adviseur raadpleeg indien nodig. PSG Wealth Financial Planning (Pty) Ltd is ’n gemagtigde finansiële diensverskaffer. FDV 728.

Hannes Smuts is ’n welvaartbestuurder by PSG Hermanus.

PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2025 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us