June 2021
Hennie Fourie
Wealth Adviser
In hierdie artikel verwys ek kortliks na twee tegnologieë wat wys hoe vinnig die wêreld verander, en kyk ook hoe hierdie tegnologieë ander bedrywe gaan ontwrig. Ek bespreek ook waarom dit belangrik is dat ons bewus moet wees van die slaggate wanneer ons in sommige van die gewilde beleggingsidees en -temas daarbuite belê, veral wanneer risiko en waardasies geïgnoreer word.
“ Ontwrigters, diegene wat ontwrig gaan word en die belangrikheid om kop te hou wanneer dit by van hierdie beleggings kom. ”
Ons vergeet soms die talle ontwikkelings wat in die 2010’s plaasgevind het, en die grondslag gelê het vir die vinnige tempo waarteen tegnologie verander het.
Facebook het byvoorbeeld eers in 2012 genoteer – tog is dit vandag die vyfde-grootste maatskappy op die S&P 500, met ʼn markkapitalisasie van $932 miljard.
Tesla het tans ʼn markkapitalisasie van $603 miljard, hoër as dié van Toyota, Volkswagen, Daimler en General Motors gekombineer. Die maatskappy het in 2010 genoteer met ʼn markkapitalisasie van $1.8 miljard.
Uber is in 2009 in ʼn woonstel begin, en het binne sewe jaar meer mense as die hele huurmotorbedryf in die VSA vervoer.
Tien jaar gelede was Amazon se Alexa en Apple se Siri net twee oulike name. Vandag gebruik bykans 50% van internetgebruikers in die VSA ten minste een keer ʼn maand ʼn stem-assistent.
Om terug te keer na die huidige dekade: Graeme Codrington – outeur, futuris en stigter van die strategiese-insigfirma, TomorrowToday – voorspel dat wanneer ons uit ʼn 2030-perspektief gaan terugkyk na 2020/2021, die COVID-19 pandemie nie eens een van die top-vyf ontwrigters gaan wees wat ons oor die volgende dekade gaan beleef nie. Die pandemie het nietemin die aanvaarding en implementering verhaas van verskeie tegnologieë wat andersins jare, of selfs dekades, sou neem om deel van die hoofstroom te word. Dit beteken dat die 2020’s waarskynlik een van die merkwaardigste dekades gaan wees wat ons in ons leeftyd gaan beleef. Ons dink dalk dat heelwat tydens die laaste dekade gebeur het, maar ons gaan verras word deur die veranderinge oor die volgende dekade wat, tot ʼn mate, die toekoms van alles gaan beïnvloed.
Verskeie van die aandelemarkleiers in 2030 gaan waarskynlik maatskappye wees wat nie vandag genoteer is nie – wat moontlik nog nie bestaan nie, of nog nie deel van ons woordeskat is nie. Daar kan ook gevalle wees waar die teenoorgestelde kan gebeur oor die volgende dekade. Selfone het byvoorbeeld die wêreld verander toe hulle in die 1980’s hulle verskyning gemaak het, maar nie al die selfoonmaatskappye het tred gehou met die veranderende wêreld nie, dink maar aan Nokia en BlackBerry. Toe Apple sy eerste iPhone in 2007 geloods het, het verskeie deskundiges en ontleders gesê dat daar nie ʼn kans was dat die iPhone enige beduidende markaandeel sou bekom nie. Een Bloomberg-ontleder het hom soos volg uitgelaat: “Die iPhone se impak gaan minimaal wees. Dit gaan net die aandag van ʼn paar toestel-entoesiaste trek. Nokia en Motorola hoef oor niks bekommerd te wees nie.” Die aandeleprysbewegings van hierdie vier maatskappye vertel egter wat wel sedertdien gebeur het; Apple is nou $2.11 triljard werd – en is die mees waardevolle maatskappy ter wêreld.
Bron: Bloomberg
Die twee tegnologieë wat ek wil noem, is dié van elektriese voertuie en selfaangedrewe voertuie. Ons is al geruime tyd bewus dat hierdie twee tegnologieë nie meer net droombeelde is nie; hulle is alreeds hier. Hierdie twee ontwrigters word nie meer in isolasie beskou nie; ons is op die vooraand van elektriese, selfaangedrewe voertuie. Volgens Whitney Tilson, ʼn voormalige Amerikaanse fondsbestuurder, gaan die sameloop van hierdie twee tegnologieë die wêreld wat ons ken verander.
Elektriese voertuie gaan binnekort meeding met, en dan goedkoper word as, tradisionele voertuie, 90% goedkoper wees om te onderhou, sowel as vyf keer langer hou. Binnekort gaan dit ekonomiese sin maak om eerder ʼn elektriese voertuig te besit.
Selfaangedrewe voertuie word reeds in sekere deelstate in die VSA gebruik. Alhoewel dit 10 jaar vir selfaangedrewe voertuie geneem het om 10 miljoen myl op openbare paaie af te lê, het die volgende 10 miljoen myl slegs een jaar geneem – en hierdie eksponensiële groeikoers gaan voortduur.
Dit is nie net voertuigvervaardigers wat op hierdie tegnologie fokus nie. Amazon het onlangs $1.2 miljard bestee om die self-aangedrewe-voertuigmaatskappy, Zoox, te koop, en Apple verwag om binnekort sy eerste elektriese voertuig op die pad te hê. In China, die voorste vervaardiger van elektriese voertuie, werk meer as 400 maatskappye aan elektriese voertuie.
Hierdie nuwe manier van vervoer gaan nie bloot goedkoper, meer effektief en “groener” wees nie, dit gaan ook ʼn massiewe impak op verskeie ander bedrywe hê, onder meer die mediese, versekerings- en oliebedrywe.
Selfs al is daar nie ʼn direkte verband met mediese toerusting of medikasie nie, het hierdie tegnologie die potensiaal om tot die grootste “mediese” deurbraak in die geskiedenis te lei. Dink net aan al die lewens wat gered en beserings wat verhoed kan word. Vandag vind 95% van voertuigongelukke plaas as gevolg van menslike foute. Selfaandrywingstegnologie beteken dat noodlottige motorongelukke en ander botsings grotendeels gaan verdwyn. Dit gaan ʼn ander soort ontwrigting veroorsaak en heelwat druk op versekeraars plaas, aangesien voertuigversekering, tot ʼn groot mate, nie meer nodig gaan wees nie.
Oliemaatskappye weet ook dat indien hulle nie hulle besigheidsmodelle aanpas en op alternatiewe energieë fokus nie, hulle nie meer ʼn bestaansreg gaan hê nie. Die Franse oliegroep Total het byvoorbeeld alreeds hierby aangepas; soos weerspieël in die groep se onlangse naamverandering na TotalEnergies, gaan die hooffokus in die toekoms op hernubare energiebronne wees.
Alhoewel die wêreld uit ʼn tegnologie-oogpunt vinniger verander as wat ons ooit kon droom, moet ons egter versigtig wees voordat ons in enige nuwe generasie-maatskappye en ander huidige beleggingstemas belê. Daar is byvoorbeeld genoteerde nuwe generasie-maatskappye wat verhandel teen prys/verdienste- (P/V-) veelvoude wat nie sin maak nie. Hoewel sommige van hierdie nuwe generasie-maatskappye, wat tans teen 100+ P/V-veelvoude verhandel, in hulle waardasies kan groei oor tyd, moet ‘n mens versigtig wees om vir van hulle vooraf te veel krediet te gee.
Kripto-geldeenhede is ook tersaaklik. Alhoewel ons kan aanvoer dat heelwat verander het sedert vorige bateborrels - soos die Tulpemanie so lank gelede as die 1700’s - blyk dit dat daar nie veel ten opsigte van groepsielkunde en die manier waarop ons belê, verander het nie. Hierdie ingesteldheid stuur ongelukkig dikwels op ʼn ramp af.
Indien ons in gedagte hou hoe vinnig die wêreld verander en die feit dat ons almal baat wil trek uit bepaalde gewilde beleggingsidees en -temas, moet ons op ons hoede wees wanneer dit blyk dat waardasies minder saak maak en pryse bloot ʼn funksie van beleggersentiment is.
ʼn Voortreflike maatskappy met goeie groeivooruitsigte is nie noodwendig ʼn goeie belegging nie. Voorbeelde hiervan is die prysbewegings van Microsoft en Walmart van 2000 tot 2010. Albei hierdie maatskappye het sterk verdienstegroei asook goeie dividende en aandeleterugkope getoon. Tydens hierdie tydperk het Microsoft se verdienste verdriedubbel terwyl sy inkomste verdubbel het. Microsoft en Walmart se aandelepryse het egter tydens daardie dekade swak gevaar, met Microsoft se aandeleprys wat gehalveer en Walmart wat ook negatiewe opbrengste gelewer het. Beide maatskappye was dus in 2000 heeltemal oorwaardeer.
Ongeag hoé vinnig die wêreld verander, bly dit belangrik om nie meegevoer te word deur sommige van hierdie gewilde beleggingstemas nie, en om te onthou dat die prys wat jy vandag vir ʼn bate betaal wel saak maak en grotendeels die groei bepaal wat dit oor die langer termyn kan bereik.
In sy Februarie-nuusbrief oor tegnologie en die vierde industriële revolusie, het ons kollega, Franske Neiteler, onder andere verwys na geleenthede in nuwe generasie-tegnologieaandele. Dis die moeite werd om weer te gaan lees wat hy oor hierdie onderwerp te sê gehad het.
Bronne: www.graemecodrington.com, Bloomberg, www.empirefinancialresearch.com, JPMorgan Research.
Pretoria-Oos | Lynnwood Bridge Kantoorpark, Kaaimansgebou, 4de Vloer, Lynnwood Manor | Postnet Suite 96, Privaatsak X025, Lynnwoodrif 0040 Tel: 0861 774 000 | Fax: 012 349 5300 | pretoriaoos@psg.co.za | psg.co.za/pretoriaoos
Die opinies in hierdie dokument is dié van die skrywer en nie noodwendig die van PSG nie. Dit verteenwoordig nie advies nie. Alhoewel hoë sorg geneem is in die navorsing en voorbereiding van hierdie nuusbrief, kan geen verantwoordelikheid geneem word vir enige optrede gebaseer op inligting in hierdie nuusbrief nie. PSG Wealth Financial Planning (Pty) Ltd is ‘n gemagtigde finansiële diensteverskaffer. RFD 728.
Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.