Pretoria East Newsletter | PSG Wealth

Kontak gerus Dawie Klopper CFP ® direk, PSG Wealth adviseur.

Om die Comrades te hardloop, kan jy nie net by die wedloop opdaag en dink jy gaan hardloop nie. Eerstens moet jy sommer al agt maande voor die wedloop inskryf. Net so moet jy vroegtydig besef dat jy vir aftrede voorsiening moet maak. Maar dan begin die proses van welvaart opbou vir aftrede, net soos wat jy met ʼn oefenprogram vir die Comrades begin. Jy moet sommer vooraf weet hierdie proses gaan baie dissipline verg – daar moet beplan word, die oefening moet ingesit word, jy moet ’n strategie beplan en dan moet jy doelwitte stel.

Net so ’n kantlyn-opmerking: Voordat jy met hierdie proses kan begin, moet jy eers net weet hoe lyk die instrumente of toerusting waarmee jy gaan werk. Jy moet iets weet van hardloopskoene, anders gaan jy dalk met die verkeerde skoene hardloop en kort voor lank seerkry. Dan kan jou wedloop dalk selfs nog voor die haan gekraai het, iets van die verlede wees. In terme van die beleggingswêreld en die regte toerusting, moet jy weet dat daar net ’n beperkte getal bateklasse is waarin jy kan belê, naamlik geldmarkinstrumente, effekte (wat uit inflasiegekoppelde effekte, staatseffekte en korporatiewe effekte bestaan), aandele en genoteerde eiendom. Al hierdie bateklasse is ook in die buiteland beskikbaar. Net soos jy moet weet dat sekere hardloopskoene bedoel is om ’n sekere hardloopstyl te komplementeer of te korrigeer, moet jy weet dat elk van hierdie bateklasse oor die afgelope 60 jaar ’n sekere opbrengs bo inflasie gegee het. Geldmarkinstrumente het jaarliks gemiddeld 1% beter as inflasie presteer, en effekte ’n bietjie beter; eiendom het 5.75% beter as inflasie gevaar, en aandele 7%.

Wat dissipline betref, moet jy weet dat jy vir die Comrades gereeld moet oefen, en om vir aftrede voorsiening te maak, moet jy gereeld spaar of belê. Jy moet egter ook jou oefening beplan. Jy moet weet watter voorafwedlope jy gaan hardloop en hoe jou weeklikse oefenprogram gaan lyk. Net so moet jy weet watter bateklas of bateklasse jy gaan inspan om fondse vir jou aftrede bymekaar te maak. As jy weet dat aandele die toppresterende bateklas is, al gaan die opbrengs wat jy oor die lang termyn verwag met wisselvalligheid gepaard, dan moet jy dit tot jou voordeel inspan. In hardloopterme weet jy dat jy een of twee ultramarathons moet hardloop ter voorbereiding vir die Comrades, al weet jy dit gaan partykeer maar swaarkry beteken. As jy egter bereid is om die wisselvalligheid (swaarkry) te verduur, dan weet jy ook dat jy oor tyd baie meer gereed vir aftrede (vir die werklike wedloop van 88 km) gaan wees as andersins. Met gereed bedoel ek dat jy genoeg kapitaal bymekaargemaak het wat jou in staat sal stel om genoeg inkomste uit jou belegging te trek om aan jou behoeftes te voldoen.

Jy moet ’n strategie hê wat in hardloopterme sal beteken jy weet binne watter tyd jy die wedloop wil voltooi. In beleggingsterme sal dit beteken jy weet hoeveel kapitaal jy bymekaar moet maak om ’n sinvolle aftrede te verseker. Die tyd wat jy wil hardloop, moet realisties wees. Net so moet die kapitaaldoelwit wat jy stel, binne bereik wees. Daar is ook ander doelwitte wat jy moet stel. In hardloopterme sal dit goed insluit soos hoeveel wedlope jy ter voorbereiding wil hardloop en hoeveel kilometers jy per week wil oefen. In terme van voorsiening vir aftrede, moet jy doelwitte stel soos watter kapitaalvlakke jy vyf of tien jaar voor aftrede wil bereik en watter bateklasse of produkte gaan jy inspan om daardie doelwitte te bereik. Jy moet ook voor die Comrades besluit waar jy gaan oornag en jou vervoerreëlings tref. Net so moet jy reeds voor aftrede begin besluit watter finansiële adviseur gaan jy gebruik om jou gedurende aftrede by te staan.

As jy hier gekom het, behoort jy gereed te wees om die Comrades met gemoedsrus aan te pak. Net so behoort jy gereed te wees om af te tree. Maar jou eerste Comrades en jou aftrede is altyd ’n tydperk van geweldige onsekerheid en vereis eweneens behoorlike beplanning en voorbereiding. Hieroor skryf ek volgende keer meer.

Become a client

PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2025 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us