April 2023
Dawie Klopper CFP® Wealth Manager
Ek het onlangs een van die heel beste boeke oor geld en beleggings gelees wat ek al ooit teëgekom het. Die boek “The Psychology of Money”, deur Morgan Housel, gaan nie oor die ekonomie en beleggings nie, maar veel eerder oor sielkunde. Dalk het die boek my so geïnteresseer omdat dit soveel waardevolle insigte oor mense se interaksie met geld bevat, en as ’n beleggingsadviseur (met ʼn loopbaan in die industrie wat nou raak aan 40 jaar) kon ek my met alles in die boek vereenselwig. Boonop sê my goeie vriend professor Jannie Rossouw dat ek ’n werk het omdat mense nie geld verstaan nie. Ek dink hy is dalk reg. Selfs goedgeleerde mense se verhouding met geld is partykeer problematies.
“ Dit is belangrik dat jy jou finansiële emosies beter verstaan en dat jy ʼn finansiële plan het en daarby hou. ”
Om goed te vaar met geld, gaan nie noodwendig oor wat jy weet nie, maar hoe jy die emosies of sielkunde rondom geld hanteer. As die markte val – iets wat gereeld gebeur – word baie mense bang.
En dit is eintlik ʼn onwillekeurige vrees wat jou heeltemal onverwags tref. As dit boonop gebeur in ’n tyd wanneer almal mismoedig is oor die ekonomie, en van resessie en swak politiek en beurtkrag alles in een paragraaf praat, dan is jy spyt dat jy nie al jou beleggings verlede week verkoop het nie. As die mark langer as ’n week onder druk is, kry ek oproepe wat sê as die mark nog ses weke lank so aanhou val, dan het ek niks oor nie.. Al wat ek dan kan doen, is om daardie persoon, wat bang, kwaad, onseker of bekommerd is, te probeer troos. Dit is dan wanneer jy terugval op ervaring en statistiek uit die verlede wat sê dat sulke goed al gebeur het en ook sal omdraai.
Dit is alles dalk ’n skrale troos, maar as jy jou verhouding met geld beter verstaan, kan jy hierdie erge negatiewe markwisselvalligheid en veral jou reaksie daarop soveel beter hanteer. En dit is nie net afwaartse wisselvalligheid wat jou onderkry nie. Net onlangs, toe die JSE op ’n algehele hoogtepunt was, vra een van my kliënte my wanneer gaan dit ook end kry. Hy is bang om te opgewonde te wees daaroor. Dit is dalk reg so, want markte beweeg op en af, maar ek dink dit is ook belangrik om nie toe te laat dat die sogenaamde welvaarteffek jou optrede dryf nie.
Die welvaarteffek bepaal dat mense skielik hulle bestedingspatrone begin aanpas by hierdie oënskynlike verhoogde welvaart wat hulle beleef – hetsy as gevolg van hulle beleggingsportefeulje wat baie goed vaar of hulle huis se waarde wat skerp gestyg het. Ons sien veral in die buiteland dat beleggers geld teen hulle portefeuljes of huise geleen het en dit op luukse goedere bestee het.
“Ja, maar dit is logies,” hoor ek jou sê. “Êrens moet my beleggings vir my werk.” Dit is dalk so, maar dan moet jy baie seker maak dat daardie aankoop van ’n duur motor of ’n te duur fiets iets is wat jy normaalweg sou gedoen het. Is dit rêrig nodig? Wat is jou motivering om dit te doen? Wat wil jy bewys, of selfs net wys? Ek het al gehoor dat mense ewe windmakerig vir my sê: “Want ek kan.”. Probeer ons dalk die respek van ander kry deur ons sukses met duur items te bewys?
Daarom sal ek graag oor ’n paar maande met jou wil gesels oor die groot finansiële besluite wat jy neem – met inagneming van die feit dat jy nie ’n rekenaar daarvoor gaan raadpleeg nie , maar veel eerder met mense rondom ’n braaivleisvuur of op die gholfbaan of op ’n fiets of in ’n raadsaal oor jou volgende groot besluit sal praat en op grond van inligting wat jy so ontvang, besluite neem. Dit kan ingeligte besluite wees, maar dit kan ook emosionele besluite wees wat kan werk maar ook teen jou kan draai. Dit is belangrik dat jy jou finansiële emosies beter verstaan. In die finale instansie moet jy `n finansiële plan hê en daarby hou.
Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.