April 2023
Dawie Klopper CFP® Wealth Manager
Wanneer ek vir kliënte terugvoer gee is dit gewoonlik gemoedelike gesprekke al het ons deur `n moeilike tyd in beleggingsmarkte gekom. Die gesprek gaan oor baie meer as net die formele waardasie dokumente voor ons, of die besluit oor wat in die volgende jaar moet gebeur of wat die persoon wat voor my sit se inkomste in die volgende jaar gaan wees. Maar partykeer is die gesprekke moeiliker. Ek sê baie kere vir mense dat my moeilikste terugvoer gesprekke is met geoktrooieerde rekenmeesters (hulle kan al die berekenings terugwerkend doen) en ingenieurs (hulle bou modelle waarmee hulle jou konfronteer). Maar, dit is ook goed om so uitgedaag te word.
“ Wanneer ek vir kliënte terugvoer gee is dit gewoonlik gemoedelike gesprekke al het ons deur `n moeilike tyd in beleggingsmarkte gekom. ”
Dink maar aan die uitdagendste van alle sporte naamlik gholf. Ek praat ʼn rukkie gelede met Retief Goosen , wat twee keer die VSA Ope gewen het. Ek het hom gevra om hoe hy die druk hanteer waaronder die top gholfspelers speel. Rasioneel gesproke moet mens verwag dat die top gholfspelers in die wêreld elke toernooi sal wil wen.
Sy antwoord was egter verrassend realisties. Hy sê hy mik daarna om in elke toernooi onder die top tien spelers te eindig. Dit haal baie druk van hom af en as hy dit in elk geval gereeld genoeg reg kry, sal hy ʼn baie goeie jaar op die Toer hê. Dit stel hom boonop in staat om langer met sy gholf loopbaan te volhard omrede hy die stres soveel makliker kan hanteer.
Wat is dus ʼn realistiese verwagting? Dit is iets wat realisties haalbaar is en wat oor die langtermyn aan jou verwagtinge sal voldoen. Dit moet vergelyk word met `ʼn rasionele verwagting, waar jy in die beleggingswêreld elke stukkie beskikbare opbrengs sal wil haal.
Om die konsep van realistiese verwagtings met rasionale verwagtings of uitkomste te kontrasteer, wil ek graag die volgende storie vertel. Ek het onlangs ʼn terugvoer gesprek met ʼn kliënt gereël en sy het dit goed gedink om haar seun, Pieter saam te bring vir die gesprek. Alles goed en wel. Maar in hierdie geval was my kliënt eintlik baie omgekrap en uitgestres oor haar prestasie oor die afgelope jaar.
Dus, sommer vroeg in die vergadering begin Pieter my peper met vrae oor die portefeulje konstruksie en of sy ma se spesifieke samestelling sy ma se besondere omstandighede in ag geneem het. Pieter het gedink daar was te veel aandele en te veel buitelandse blootstelling in die portefeulje en dat dit onvanpas vir sy vyf-en -sewentigjarige ma was.
Ek moes bontstaan om die onderliggende strategie te verduidelik. Pieter was omgekrap oor die prestasie wat in absolute terme negatief was.
Pieter was rasioneel. Hy het hierdie opbrengs met inflasie vergelyk en die opbrengs was swakker as inflasie. Hy het vir my verduidelik dat as ons nie vir sy ma inflasie verwante opbrengste kan haal nie, dan versaak ons eintlik ons plig. As die portefeulje boonop so bly agteruitgaan, sal daar oor agt jaar nie meer genoeg fondse vir haar wees waarmee sy kan oorleef nie.
Ek het verduidelik dat ons ʼn portefeulje saamgestel het wat gebaseer was op sy ma se behoefte aan inkomste en hoë buitelandse blootstelling. En ja, in 2022 het buitelandse beleggings swaar getrek en dus, oor die korttermyn gesien was hierdie samestelling met ʼn rasionele bril bekyk “verkeerd”. Pieter se oordeel is gevel met ʼn sprei blad as die aanklag dokument. Dit was rasioneel veral as dit met die voordeel van ʼn terugblik beoordeel word.
Maar was dit realisties of redelik? Dit sou rasioneel gewees het om in 2022 eerder opbrengs in die plaaslike mark te gekry het maar was dit ʼn realistiese verwagting? Johanna (Pieter se ma) se portefeulje het oor die voorafgaande 10 jaar goed gedoen (veral as gevolg van die buitelandse blootstelling) en toe tref die 2022 skok markte. As jy egter met ʼn realistiese benadering jou belegging beoordeel het sou jy aansienlik minder stres ervaar het.
Maar terug na ons gesprek. Aan die einde van ons gesprek met gemoedere baie gekalmeer, vra ek vir Pieter wat hy vir ʼn lewe doen. Pieter is ʼn ingenieur wat vir ʼn firma geoktrooieerde rekenmeesters werk!
Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.