March 2022
Hennie Fourie
Wealth Adviser
Die oorlog tussen Rusland en die Oekraïne hou reeds langer aan as wat die meeste mense gedink het dit sal en ons moet die onnodige sterftes, pyn, lyding en verwoesting wat daarmee saamgaan, betreur en ten sterkste veroordeel. Soos iemand onlangs opgemerk het: “Oorloë bring nie blywende vrede nie, slegs blywende dood”. Putin het ook gedink dat die oorlog slegs ’n paar dae sou duur en dat Rusland redelik vinnig ’n volslae oorwinning oor die Oekraïne sou behaal, maar met President Volodymyr Zelensky as hul leier, het die Oekraïners merkwaardige teenstand gebied.
“ Oorloë bring nie blywende vrede nie, slegs blywende dood ”
Baie van President Zelensky se aanhalings sal verewig in die geskiedenisboeke opgeskryf word, maar vir my was sy woorde aan die Amerikaanse regering toe hulle hom en die Oekraïners gevra het om hulle land te ontruim, seker die treffendste. Hy het geantwoord: “Ons het ammunisie nodig, nie ’n saamrygeleentheid nie”.
Beleggers het sedert die begin van 2022 ook ’n moeilike tydperk beleef. In Januarie het beleggers hulle in ’n redelik onstuimige omgewing bevind toe die Fed sy voorneme aangekondig het om likiditeit te begin verslap om die hoogste inflasie in ongeveer 40 jaar te laat stabiliseer. Ander onsekerhede soos relatief hoë waardasies en die onsekerheid wat die volhoubaarheid van hoë maatskappywinste betref, het ook sterk druk op die markte, veral die buitelandse markte, geplaas. Dit is dus belangrik om daarop te let dat die S&P 500 nog voordat die oorlog begin het, reeds met ongeveer 10% gedaal het.
Die oorlog het aandele nog verder laat tuimel nadat die Russiese militêre inval in die Oekraïne in alle erns begin het. Die Russiese roebel het daarna vinnig verswak – met byna 82% binne twee weke teen die Amerikaanse dollar – wat die Russiese sentrale bank gedwing het om sy sleutelrentekoers van 9.5% na 20% te verdubbel. Rusland se inval in die Oekraïne het derhalwe bygedra tot spanning in ’n reeds gespanne jaar met beleggers wat eers hulle aandele verkoop en later vrae vra.
Hoe moet jy dus jou aandeelbeleggings ten tye van oorloë of geopolitiese gebeurtenisse (of enige regstellings op aandelemarkte) hanteer? As ons terugkyk na vorige groot geopolitiese gebeure, is dit belangrik om te weet dat hierdie gebeure gewoonlik ‘n korttermyn effek op aandeelmarkte het.
LPL Research het na 22 vorige geopolitiese gebeure sedert die Tweede Wêreldoorlog gaan kyk. Hulle het bevind dat die totale gemiddelde daling op die S&P 500 slegs 4.6% was. Dit het markte gemiddeld minder as 20 dae geneem om die bodem te bereik en 43 dae geneem om van alle verliese te herstel. As ’n mens na hierdie grafiek kyk, kan ’n mens wel sien dat groter konflik in sensitiewe gebiede langer kan neem om te herstel. Gebeurtenisse is nooit dieselfde nie en daarom weet niemand hoe die markte tydens die komende weke gaan reageer nie. Toe hierdie berig geskryf is, was ons reeds op dag 30 van die oorlog sonder enige aanduiding wanneer die oorlog tot ’n einde sal kom.
Nog navorsing wat deur LPL gedoen is, wys vir ons, indien die ekonomie ’n resessie na ’n groot geopolitiese gebeurtenis kan vermy, aandeelmarkte gewoonlik redelik goed vaar. Hulle het 37 groot geskiedkundige of geopolitiese gebeure sedert die Tweede Wêreldoorlog ondersoek en bevind dat indien daar geen resessie is nie, die aandeelmarkte ’n jaar later met amper 11% gestyg het. Indien daar wel ’n resessie was, het die aandeelmarkte ’n jaar later met ongeveer 11% gedaal. Volgens die IMF behoort die wêreldekonomie in 2022 en 2023 egter relatief sterk te groei en voorsien hulle nie ’n resessie in die nabye toekoms nie.
As ons weer terugkeer na die vraag oor hoe jy jou aandelebeleggings in hierdie onsekere tye moet bestuur, kan die volgende nuttige aanwysers in gedagte gehou word.
Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.