May 2023
Dawie Klopper CFP® Wealth Manager
Hoekom is dit so dat ’n negatiewe storie soveel aandag kry? Is dit omdat pessimisme ’n spesiale plekkie in ons harte het?
Daar word byvoorbeeld advies uitgedeel oor hoe om te belê as Suid-Afrika in duie stort. Daardie tipe gedagtes word wyd en syd gedeel. Ons word onder druk geplaas om beleggers teen so ’n moontlikheid te beskerm.
As ek egter sou sê SA aandele is goedkoop, dan hoor ek “ja, daar gaan Dawie, die ewige optimis, al weer”. Of, ander kommentators sal sê hy word seker betaal om sulke optimistiese nonsens te skryf. In beide gevalle is die verwagte uitkoms (goed of sleg) glad nie seker nie, maar die pessimistiese siening verwag optrede.
Morgan Housel sê ongeag hoe die ekonomie vaar, sal daar altyd iemand wees wat sê dat die volgende resessie om die draai is of dat hiperinflasie ons voorland is, of dat die wisselkoers op die punt is om in duie te stort.
Dit is baiekeer die pessimistiese kommentators wat aangehaal word, en as so ’n persoon dalk êrens in die verlede wel ’n voorspelling reggekry het, word hy verhef tot ’n alwyse persoon. Pessimisme klink net soveel slimmer en meer moontlik as optimisme.
Dalk het die gewildheid van die pessimistiese siening te doen met die pyn wat met ’n finansiële verlies gepaardgaan. Daar is al in navorsing bewys dat die “pyn” wat ’n persoon voel as sy beleggings met 10% daal, dubbel soveel is as die “plesier” wat hy kry as sy beleggings met dieselfde persentasie styg.
Daarbenewens word die finansiële bedryf ook gekenmerk deur risikobestuur, waar die minimalisering van potensiële verliese dikwels geprioritiseer word bo die maksimalisering van potensiële winste.
Dit raak selfs erger. As ek my kliënte se fondse in ’n lae-aandele gebalanseerde fonds belê het en die mark val, dan is ek verlig, want die kliënt se belegging het minder gedaal as dié van ’n persoon wat in ’n suiwer aandelefonds belê was. Maar, die kliënt se fondse is ook minder werd en om dit te herstel, moet ek “hoop” vir ’n sterker mark, en nie dat ek reg was dat die mark op die punt was om te val nie.
Beleggers wil ook nie deur hulle adviseur gewaarsku of ingelig word dat hulle beleggings dalk van tyd tot tyd kan daal nie, want die adviseur moet mos altyd weet hoe om kliënte se beleggings teen dalings te beskerm. As die een of ander “kenner” dit egter in ’n nuusbrief in groot, vet letters voorspel, dan word ons as adviseurs daarmee gekonfronteer.
Dit is boonop nie so moeilik om reg te wees oor die moontlikheid van ’n markdaling nie. Die S&P 500 in die VSA beleef feitlik sonder uitsondering elke jaar ’n tyd wanneer die mark met 10% of meer daal, en elke vier tot vyf jaar kom daar ’n markdaling van meer as 20% voor.
Dit het my egter nog altyd gebaat om te dink dat aandele meestal styg. Ek weet ek moenie naïef optimisties wees nie, en partykeer is dit wel nodig om te waarsku dat markte of sekere aandele te duur geraak het.
Hoekom sê ek so? Die S&P 500 het sedert 1995 met 630% gestyg en die JSE Algehele Indeks het met 210% gestyg in Amerikaanse dollar, en dít ten spyte van baie groot markdalings in 2003, 2008 en 2020.
Dus, op die keper beskou, moet ons onthou dat die wêreld dekade na dekade ’n beter plek raak en dat aandelebeleggings dekade na dekade meer werd word. Natuurlik wil ons groot dalings vermy, maar daar is ’n groter gevaar om ongerealiseerde wins te verloor as ’n belegger op die kantlyn sit wanneer markte styg.
Oor die algemeen, terwyl ’n mate van versigtigheid en risikobestuur beslis nodig is in die finansiële bedryf, kan die verleiding van pessimisme nadelig wees as dit lei tot ’n oormatig negatiewe siening van die toekoms. Dit kan meebring dat jou beleggingsportefeulje te konserwatief gestruktureer is en dat beleggers nie genoegsaam deel in markte wat meer kere styg as daal nie.
Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.