Konstantes en veranderlikes | Pretoria East Newsletter

Pretoria East Newsletter

Hierdie gebou is 2 500 jaar gelede op die Akropolis-heuwel opgerig sonder fondamente, maar staan nog steeds ongeag verskeie aardbewings en oorloë waarin die vyand dit probeer vernietig het.

In die beleggingswêreld is daar ook beginsels wat die toets van die tyd deurstaan het, en steeds geldig is ongeag die markomgewing. Ons gaan ’n paar van hierdie beginsels bespreek.

1. Batetoewysing:
Studies toon dat ongeveer 80% van jou portefeulje se opbrengste bepaal word deur die batetoewysing binne jou beleggings. Die Smartieboksie hieronder wys die jaarlikse opbrengste van Suid-Afrikaanse bates sedert 2013. Dit bewys die beginsel dat dit onmoontlik is om elke jaar die wenner te kies. Met diversifikasie maak jy seker dat jy altyd blootstelling het aan die bateklas wat oor die volgende jaar gaan presteer.

Pretoria East Newsletter

2. Korrelasie tussen risiko en opbrengste:
Laerisiko-bateklasse lewer lae opbrengste, en hoërisiko-bateklasse lewer hoë potensiële opbrengste. Op die grafiek hieronder kan ons sien hoe die Suid-Afrikaanse bateklasse sedert 2012 gevaar het. Kontant het oor dié tydperk die laagste opbrengs gelewer, maar met geen wisselvalligheid nie. Aandele het die hoogste opbrengs behaal, maar met baie meer risiko.

Pretoria East Newsletter

3. Tyd in die mark vs tydsberekening van die mark:
Peter Lynch het gesê:
“People who exit the stock market to avoid a decline are odds-on favourites to miss the next rally.”

Die grafiek hieronder wys dat 46% van die 50 beste dae op die S&P 500 sedert 1980 gedurende ’n beermark (daalmark) voorgekom het, en ’n verdere 24% in die eerste twee maande van ’n bulmark (stygmark). Indien jy dus gedurende die beermark jou aandele verkoop het, sou jy 35 van die 50 beste dae op die mark misgeloop het.

Pretoria Easr Newsletter

4. Beleggingshorison:
Dit is uiters belangrik om seker te maak dat jou beleggingshorison en jou risikoprofiel gesinchroniseerd is. Indien jy ’n inkomste uit jou belegging onttrek, is dit belangrik om te verstaan dat verskillende dele van jou fondse op verskillende tye nodig gaan wees. Gevolglik moet jou beleggingsplan hierdie verskillende horisonne in ag neem:

Pretoria East Newsletter

Ons verdeel hierdie horisonne dus in drie kategorieë: 1-3 jaar, 4-7 jaar, en dan jou langtermynfondse.

5. Bulmarkte en beermarkte:
Sedert 1928 was daar 24 bulmarkte op die S&P 500 (wanneer markte met meer as 20% styg). Oor dieselfde periode was daar 22 beermarkte (wanneer markte met meer as 20% daal), en 33 verdere regstellings (wanneer markte met meer as 10% daal). Tog het die mark oor hierdie tydperk ’n gemiddelde jaarlikse opbrengs van net onder 10% gelewer. John Templeton het gesê:

“There will always be bull markets, followed by bear markets, followed by bull markets.”

Nou wil ek so ’n bietjie in die kristalbal kyk na dinge wat ons reken oor die volgende paar dekades die wêreld en waar ons belê, gaan verander:

1. Kuberveiligheid:
Die verwagte verliese weens kubermisdaad sal volgens raming teen 2025 ʼn bedrag van VS$10,5 triljoen beloop. Dit is meer as die BBP van Japan, die derde grootste ekonomie in die wêreld. In ’n onlangse opname het 44% van die deelnemers aangedui dat hul grootste besigheidsrisiko kubermisdaad is. In 2020 het die vyf groot Amerikaanse tegnologiemaatskappye VS$549 miljoen aan kuberveiligheid bestee. Teen 2021 was dit VS$2,4 triljoen.

2. Klimaatsverandering:
Daar word voorspel dat klimaatsverandering wêreldwye ekonomiese produksie met VS$23 triljoen gaan verminder. Wêreldwyd word massiewe bedrae geld aan navorsing oor groen energie spandeer om hierdie impak te verminder. Volgens raming sal hernubare energie (veral son en wind) teen 2050 ongeveer 62% van die wêreld se kragopwekking uitmaak (op hierdie stadium is dit ongeveer 10%). Battery-aangedrewe voertuie sal teen die jaar 2040 sowat 70% van alle voertuie op die pad wees (tans 5%). Die impak hiervan is geweldig groot op die battery-industrie. In 2021 was die inkomstegeleentheid in hierdie sektor VS$37 miljard, maar die geprojekteerde bedrag teen 2030 is VS$354 miljard.

3. Kunsmatige intelligensie:
In 2021 het hierdie industrie VS$51,5 miljard gegenereer. Die verwagting is dat dit in 2023 VS$500 miljard sal bedra. Die gemiddelde Ik-vlak van kunsmatige intelligensie was in 2016 ongeveer 50 (dié van ’n 6-jarige kind is 60). Teen 2022 was dit reeds 90. Studies voorspel dat daar ’n 50%-kans is dat robotte binne 120 jaar alle werk beter sal kan doen as hul menslike eweknieë.

4. Ruimte-industrie:
Die verwagting is dat die ruimte-industrie teen 2040 inkomste van VS$1,2 triljoen sal genereer, in vergelyking met die huidige VS$300 miljard. Die grootste verandering wat hier plaasvind, is die koste van lanserings. Die gemiddelde lanseringskoste vanaf 1970 tot 2010 was VS$16 000 per kilogram. In 2010, met die lansering van Space X se Falcon, was die koste VS$2 500/kg. Tans is dit VS$1 500 en teen 2040 sal dit VS$100/kg wees. Space X self voorspel ongeveer VS$30/kg. Die grootste groeigeleentheid in die ruimte-industrie lê in satelliet-internetdienste.

5. Internet:
Slegs 60% van die bevolking wêreldwyd het toegang tot die internet. Die grootste getal mense wat geen internettoegang het nie, is in Afrika en Asië. Die enigste doeltreffende manier om hierdie groot gebiede te bedien, gaan wees met satelliet-internetdienste. Hierdie mark genereer tans VS$3,98 miljard. Teen 2030 sal dit ’n geraamde VS$17,43 miljard bedra. Die groot voorloper hier blyk ons eie Elon Musk te wees. Sy internetdiens Starlink het reeds ongeveer 3 000 satelliete in ’n netwerk ongeveer 550 km van die aarde af. Sy doelwit is om uiteindelik 42 000 van hierdie satelliete in sy netwerk te hê.

Baie van die tegnologieë wat hierbo genoem word, is nog spekulatief van aard, en die meeste van die maatskappye in dié sektore is nog nie winsgewend nie. Dit sal ’n belegger egter ongetwyfeld baat om hierdie opkomende geleenthede dop te hou.

PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2025 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us