November 2021
Abrie Grobler CFA® Wealth Manager: Securities
Op 28 Oktober, het Facebook die naam van sy moedermaatskappy na Meta Platforms verander en daarmee begin met die konstruksie van sy eie weergawe van die meta-heelal, wat hopelik in 2023 onthul sal word. Facebook is nie die eerste maatskappy wat belangstel in die idee van die meta-heelal nie.
“ Nvidia, Microsoft, Tencent en Snap het almal verwante patente geregistreer, of daaraan begin werk om na die meta-heelal uit te brei. ”
Maar wat is die meta-heelal en waarom moet ons ons daaraan steur?
Die term “Metaverse” (of meta-heelal) is vir die eerste keer genoem in 1992 in die wetenskapfiksieroman, Snow Crash, waarin mense in ʼn virtuele wêreld in wisselwerking met mekaar kon tree deur digitale avatars. ʼn Meer onlangse popkultuurverwysing is die 2018-film Ready Player One van regisseur Steven Spielberg, waarin mense in die nabye toekoms van die werklikheid probeer ontsnap deur ʼn virtuele vermaaklikheidsheelal genaamd OASIS. In sy mees eenvoudige formaat, kan die meta-heelal beskryf word as ʼn gedeelde virtuele heelal waarin mense in wisselwerking kan staan, kan werk, klas kan bywoon en selfs sport teen mekaar kan beoefen. Volgens die futuris, Ray Kurzweil, gaan virtuele realiteit teen 2030 heeltemal realisties en oortuigend wees, en gaan ons die meeste van ons tyd, hetsy vir werk, sosialisering of ontspanning, in die meta-heelal deurbring. Luidens die Bank of America, gaan die meta-heelal teen 2025 ʼn VS$390-miljardmark wees, terwyl Ark Invest beweer dat hierdie mark die potensiaal het om tot 2025 jaarliks met tot 16% te groei (sien figuur 1). Tydens die vroeë 2010’s het die mobiele internet die tradisionele vastelyn-internet van die 1990’s begin oorneem, en teen 2030 gaan die driedimensionele meta-heelal oorneem by die tweedimensionele internet van vandag. Hierdie volgende weergawe van die internet gaan tradisionele industrieë soos toerisme, die bankwese en selfs sport transformeer.
Die idee om sosialisering en ander avonture in die meta-heelal te ervaar, is glad nie ʼn splinternuwe konsep nie. In 2019 was Epic Games die gasheer vir die eerste regstreekse virtuele konsert, wat in die speletjie Fortnite gehou is – 10.7 miljoen-spelers het die Amerikaanse platejoggie, Marshmello, se konsert in die speletjie bygewoon. Verlede jaar het 12.3 miljoen bywoners op Fortnite ingeteken om rapper Travis Scott se regstreekse optrede te sien, ook in die speletjie.
Die meta-heelal is nie bloot tot speletjies en sosiale media beperk nie; dit het ook die potensiaal om ons manier van werk te transformeer. Tydens die pandemie moes ons almal leer om van die huis af te werk en noodgedwonge gewoond raak aan Zoom- en Microsoft Teams-vergaderings. Vroeër hierdie maand, het Microsoft onthul dat hy reeds sy eie korporatiewe weergawe van die meta-heelal het, wat in 2022 via PowerPoint en Microsoft Teams van stapel gestuur gaan word. Dit gaan mense in staat stel om sakekonferensies virtueel by te woon, asook om vergaderings te hou en selfs ʼn virtuele kantooromgewing te hê in hierdie virtuele wêreld.
Daar is egter ook kommer oor die meta-heelalkonsep. Nadat Facebook sy naam na Meta Platforms verander het, het die voormalige Google hoof uitvoerende beampte, Eric Schmidt, vroeër hierdie maand, sy kommer op CNBC uitgespreek. Hy het genoem dat hy uitsien na die innovering wat in die meta-heelal kan plaasvind, maar dat hy onseker is of ʼn maatskappy onder soveel regulatoriese druk die idee moet loods. Indien ons almal by dieselfde meta-heelal inskakel waarin ons sosialiseer, werk en speel, aan watter land se wette en regulasies moet ons voldoen? Aan watter owerheid moet ons belasting betaal? Watter geldeenheid gebruik ons? Wanneer is ʼn transaksie in die meta-heelal ʼn oorgrenstransaksie? Indien ek ʼn onderneming het wat in die meta-heelal geleë is, is dit in Suid-Afrika geïnkorporeer? Wat van privaatheid? Hoe meer ons by die internet inskakel, hoe meer van ons persoonlike en noodsaaklike inligting is daar buite om teen ons gebruik te kan word. Stel jou voor dat jy uit jou virtuele profiel gesluit is en nie kan werk of sosialiseer nie omdat ʼn kuberkraker jou identiteit gesteel het...
Daar is duidelik nog heelwat om te bespreek en deur te werk om die meta-heelal ʼn realiteit te maak, maar een ding is seker; dit is op pad en gaan ʼn diepgaande impak op die samelewing hê. Welkom by die begin van die vyfde industriële rewolusie. Op jou merke, Speler Een!
Die opinies in hierdie dokument is dié van die skrywer en nie noodwendig die van PSG nie. Dit verteenwoordig nie advies nie. Alhoewel hoë sorg geneem is in die navorsing en voorbereiding van hierdie nuusbrief, kan geen verantwoordelikheid geneem word vir enige optrede gebaseer op inligting in hierdie nuusbrief nie. PSG Wealth Financial Planning (Pty) Ltd is ‘n gemagtigde finansiële diensteverskaffer. RFD 728.
Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.