Platinum Groep Metale se toekoms | PSG

Pretoria East September Nuusbrief 2021

Suid-Afrika se hulpbronsektor, sowel as die ekonomie, is waarskynlik meer afhanklik van die grootskaalse implementering van die waterstof-ekonomie as wat ons mag dink. Tot op hede baat die wisselkoers by rekordvlak-hulpbronuitvoere wat tot ʼn sterk lopende rekening lei. Platinum Groep Metale (PGM) dra wesentlik by tot die uitvoersyfers. Die vraag is egter wat die toekoms vir PGM inhou wanneer gebruik in gedrang kom weens die verkope van elektriese en hibried-elektriese voertuie ten koste van petrol- en dieselvoertuie (die grootste verbruikers van PGM).

SA se wisselkoers en lopende rekening baat uit rekord mineraalverkoop- en uitvoersyfers

Onlangse mynbou- en produksiesyfers vanaf Stats SA dui op ʼn algehele rekordvlak mineraalverkope van byna R77 miljard in April 2021.

Figuur 1: SA totale mineraalverkope
Bron: Stats SA

Groot gedeeltes van hierdie minerale is uitgevoer, en SA se uitvoersyfers het ʼn nuwe hoogtepunt van bo R160 miljard behaal. Die meeste van hierdie uitvoere is bestem vir die VSA en Sjina. SA se lopende rekening het ook gebaat by hierdie verskynsel en het ʼn vlak van R267 miljard vir die eerste kwartaal van 2021 behaal. Dit het gevolg op die lang geskiedenis van ʼn negatiewe lopende rekening voor 2020.

 

Figuur 2: SA-uitvoere (R mil)
Bron: TradingEconomics.com

Figuur 3: SA lopende rekening (R mil)
Bron: TradingEconomics.com

Die internasionale vraag na kommoditeite skep om die beurt ʼn vraag na die ontluikende markte se geldeenhede waarmee hierdie kommoditeite gekoop word. Figuur 4 toon die verhouding van die ZAR teenoor ander ontluikende markte se geldeenhede; hier kan die invloed van die sterk uitvoersyfers in die uitprestasie van die ZAR bemerk word.

Figuur 4: ZAR teenoor ontluikende markte se geldeenhede
Bron: StandardBank Research

SA se hulpbronmandjie het sedert 2015 wesentlik verander, en ʼn wêreldwye strewe na skoon energie bevoordeel PGM.

Met PGM wat bykans 50% tot SA se huidige hulpbronmandjie bydra, is die groep metale baie relevant vir die toekoms van SA se ekonomie

PGM, wat hoofsaaklik bestaan uit platinum, palladium en rodium, word tans gebruik in die katalisators van petrol- en dieselvoertuie. Soos die gewildheid van hibriede en battery-aangedrewe voertuie toeneem, word verwag dat die verkope van petrol- en dieselvoertuie gaan afneem. Hierdie afname behoort gepaard te gaan met die verlaagde vraag na PGM. SA is die grootste verskaffer van PGM in die wêreld, wat die groep metale se relevansie vir ons ekonomie verder versterk.

 

Figuur 5: Jaarlikse voertuigverkope per kategorie
Bron: Anglo American Platinum

Die moontlikheid bestaan wel vir die omvangryke toekomstige benutting van PGM in die waterstof-ekonomie.

'n Waterstof-ekonomie word deur baie beskou as die volgende stap, en die alternatief tot, die huidige fossielbrandstof-gebaseerde energiestelsel. Deur waterstof, wat deur hernubare bronne vervaardig word, te gebruik om energie te vervoer en via waterstof-brandstofselle op te wek.

Waterstof-brandstofselle genereer elektrisiteit deur 'n chemiese reaksie, met waterstof as brandstof en platinum as 'n katalisator.

"Die swaarvoertuigmark bied die grootste aanvanklike geleentheid vir waterstof-brandstofselle" sê Marten Wikforss, konsultant van Swede se Powercell.

Batterye neem te veel ruimte in 'n vragmotor in beslag en neem ure om te laai. Langer afstande is ook ʼn groot uitdaging vir battery-aangedrewe vervoermiddels; dit is hier waar waterstof-brandstofselle ʼn belangrike rol kan speel.

Waterstof-brandstofselle kan ook as alternatief in skepe en treine gebruik word, sowel as in padvoertuie.

Figuur 6: Vervoermiddelgebruike vir brandstofselle
Bron: Anglo American Platinum Resultate

 

Die opinies in hierdie nuusbrief is dié van die skrywer en nie noodwendig die van PSG nie. Dit verteenwoordig nie advies nie. Alhoewel hoë sorg geneem is in die navorsing en voorbereiding van hierdie nuusbrief, kan geen verantwoordelikheid geneem word vir enige optrede gebaseer op inligting in hierdie nuusbrief nie. PSG Wealth Financial Planning (Pty) Ltd is ‘n gemagtigde finansiële diensteverskaffer. RFD 728.

PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2025 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us