PSG | Pretoria East July Newsletter

Ek sou nie een spesifieke aandeel kies nie, maar eerder die PSG Wealth Global Creator Fonds van Fondse, wat ons reeds vir ʼn geruime tyd vir kliënte aanbeveel as deel van ʼn gediversifiseerde portefeulje. Maar hoekom dink ek die fonds is die antwoord? My redes is kortliks soos volg:

 

1. Meer buitelandse blootstelling

Ons beveel al vir ʼn geruime tyd meer buitelandse blootstelling vir kliënte aan. Dit is nie omdat ons noodwendig negatief oor Suid-Afrika is nie, maar omdat ons glo dat dit die regte ding is om te doen op die lang termyn. ʼn Mens vergeet soms dat Suid-Afrika vir ʼn skamele 0,46% van die wêreld se totale bruto binnelandse produk (BBP) verantwoordelik is. Die JSE het ook slegs ongeveer 343 aandele waaruit ʼn belegger kan kies teenoor die MSCI-wêreldindeks se 1 562 aandele. Daar is net soveel meer opsies in die buiteland. Maar wat van die rand, kan ons dan volgende vra. Dit gaan ook nie net oor die wisselkoers nie omdat die rand juis die afgelope tyd gewys het hoe onvoorspelbaar die geldeenheid kan wees. Ons glo egter dat dit meer waarskynlik is dat die rand op die lang termyn gaan verswak teen byvoorbeeld die Amerikaanse dollar vanweë die inflasiedifferensiaal tussen die twee lande. Gestel ons gemiddelde inflasiekoers is 6% teenoor 2% in die VSA; die rand behoort dan met verloop van tyd met 4% per jaar teenoor die dollar te verswak.

 

2. Uitstekende diversifikasie

 

Soos die onderstaande grafiek uiteensit, bestaan die fonds uit nege uitstekende, onafhanklike onderliggende fondsbestuurders wat elkeen ʼn spesifieke mandaat en beleggingsfilosofie het wat hulle toepas op die fondse wat na hulle geallokeer word. Die prestasie van die onderliggende fondsbestuurders word deurlopend gemonitor en die nodige aanpassings word gemaak, indien nodig.

Die Top Tien aandele in die fonds is almal bekende maatskappye wat geen bekendstelling nodig het nie en waarmee ons almal waarskynlik gereeld direk of indirek te make het. Die Top Tien aandele in die fonds verteenwoordig slegs 16,9% van die totale fonds, wat derhalwe beleggers se blootstelling aan een enkele aandeel beperk.

 

3. Opbrengs

Die fonds se prestasie teenoor sy maatstaf was uitstekend gewees die afgelope vyf jaar, en die fonds het die gemiddelde fonds in die sektor met 2,96% per jaar uitpresteer soos uiteengesit in die onderstaande grafiek. Die fonds het ook die MSCI-wêreldindeks gedurende die tydperk uitpresteer.

Aangesien elke fondsbestuurders se strategie verskil, beteken dit ook dat die fondsbestuurders mekaar aanvul en nie terselfdertyd almal goed of almal sleg presteer nie. Die onderstaande tabel dui die prestasie of opbrengs van elke fondsbestuurder oor die verskillende tydperke aan. Soos aangedui, lewer nie een van die onderliggende fondsbestuurders deurlopend die beste opbrengs nie, wat daartoe bydrae dat die fonds se deurlopende prestasie met verloop van tyd beter kan wees.

 

4. Belasting

Belastingaangeleenthede word vergemaklik deur jaarliks aan die einde van Februarie die nodige IT3 sertifikate uit te reik vir die rente-, dividend- en kapitaalwinsbelasting-implikasies van die fonds vir die afgelope jaar. Die fonds is ook vrygestel van enige moontlike situs-belasting wat kan ontstaan by die afsterwe van ʼn belegger.

Laastens is dit ook belangrik om daarvan kennis te neem dat ʼn belegger in die fonds kan belê met beide direkte buitelandse fondse of deur middel van bateruilfondse.

Kontak ons gerus indien jy meer inligting oor die fonds benodig.

 

Pretoria-Oos | Lynnwood Bridge Kantoorpark, Kaaimansgebou, 4de Vloer, Lynnwood Manor | Postnet Suite 96, Privaatsak X025, Lynnwoodrif 0040 Tel: 0861 774 000 | Fax: 012 349 5300 | pretoriaoos@psg.co.za | psg.co.za/pretoriaoos

Die opinies in hierdie dokument is dié van die skrywer en nie noodwendig die van PSG nie. Dit verteenwoordig nie advies nie. Alhoewel hoë sorg geneem is in die navorsing en voorbereiding van hierdie nuusbrief, kan geen verantwoordelikheid geneem word vir enige optrede gebaseer op inligting in hierdie nuusbrief nie. PSG Wealth Financial Planning (Pty) Ltd is ‘n gemagtigde finansiële diensteverskaffer. RFD 728.

PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2025 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us