May 2021
Vanessa Alberts CFP®
PSG Konsult hou jaarliks ’n beleggingskonferensie waar sprekers van reg oor die wêreld hulle insigte met ons kom deel. Die afgelope week was dit weereens my voorreg om deel te kon wees en na hierdie kundiges te luister.
“ Die afgelope week was dit weereens my voorreg om deel te kon wees en na hierdie kundiges te luister. ”
PSG Konsult hou jaarliks ’n beleggingskonferensie waar sprekers van reg oor die wêreld hulle insigte met ons kom deel. Die afgelope week was dit weereens my voorreg om deel te kon wees en na hierdie kundiges te luister. Met Covid-19 wat nog deel is van ons daaglikse bestaan en inperkingsreëls wat byeenkomste beperk, is die konferensie aanlyn gehou met uitmuntende aanwending van tegnologie.
Ek deel graag twee van die internasionale sprekers se insigte in ʼn neutedop met julle:
David erken die belangrike rol wat die ekonomie in ons daaglikse lewens speel en dit is sy missie om hierdie “neerdrukkende wetenskap” so aangrypend en toeganklik moontlik te maak. As ʼn prominente internasionale ekonoom is David een van die mees invloedryke en insiggewende ekonome in Europa. David word hoog geag vir sy dapper en akkurate voorspellings en vooruitskattings. David het die seldsame vermoë om die ekonomie te ontsluit en toeganklik vir almal te maak. Hy is medestigter van die Dalkey Boekfees in Dublin asook die wêreld se enigste ekonomie-en-komedie-fees, Kilkenomics, wat deur die Financial Times beskryf word as die wêreld se beste ekonomiekonferensie. Die David McWilliams Podcast word beskou as een van die gewildste podsendings in Ierland. David het vier blitsverkopers geskryf en is ʼn invloedryke rubriekskrywer vir The Irish Times. Hy is ʼn Jong Wêreldleier van die Wêreld-ekonomiese Forum asook ʼn gereelde medewerker van Google se beroemde Zeitgeist-konferensie en ander vername dinkskrums die wêreld oor.
Hy het genoem dat ons op die rand staan van ʼn nuwe fase in globale ekonomiese omstandighede.
Daar is groot seisoenale fases in ekonomiese gebeure wat kan aanhou vir 10 jaar, 20 jaar, of selfs langer. Dit sluit in intellektuele, idealistiese en politieke faktore wat die manier dryf waarop die ekonomie funksioneer en reageer en dan die uitkomste bepaal wat ons in, onder andere, die gedrag van finansiële markte sien.
Ons is tans besig om ʼn nuwe fase van ekonomiese denke en besluitneming binne te gaan met die oorsprong in die Verenigde State van Amerika (VSA), en, soos almal weet, wat in die VSA begin, versprei na die res van die wêreld.
Daar was vier groot fases in die geskiedenis van ekonomiese ontwikkeling:
1860 tot die Eerste Wêreldoorlog
Tydens hierdie era was wisselkoerse gekoppel aan goud, die staat se inmenging klein en het besighede die vermoë gehad om te groei. Dit was ’n tydperk van sterk ekonomiese groei, maar ʼn groot mate van ongelykheid het toe ontstaan.
1920 tot 1940
Hierdie was ’n tydperk van chaos in ekonomiese besluitneming. Daar was eers die uitbundige herstel van die wêreldekonomie ná die Eerste Wêreldoorlog (1914–1918) en die Groot Griep van 1918. Dit het gelei tot uitermatige hoë inflasie in Europa (veral in Duitsland) gevolg deur die Groot Depressie van die 1930’s. Die inmenging van die staat het groter geword – ons verwys hierna as ʼn Keynesiaanse ekonomie.
1945 tot 1980
Hierdie was ’n tydperk van gemengde ekonomiese beleid. Die staat het begin om nog meer te bestee en ons kon begin verwys na ʼn welvaartstaat. Sentrale banke se beleid was daarop gerig om dit maklik vir die staat te maak om hierdie benadering te finansier. Daar is gefokus op gesondheidsorg en opleiding, maar dit het geëindig met die hoë inflasiekoers wat die oliekrisis in die 1970’s gevolg het.
1980 tot 2020
Tydens hierdie tydperk van monetarisme, het sentrale reserwebanke die waghond van ekonomiese besluitneming geword. Die fokus was om inflasie te verlaag. President Ronald Reagan en Mev Margaret Thatcher het Paul Volcker se benadering ondersteun om inflasie met behulp van hoë rentekoerse onder beheer te bring. In die proses om inflasie te verlaag, het werkers se vergoeding begin daal en maatskappye se winste gestyg. Dit is hoekom hierdie fase so goed was vir aandelebeurse en effektemarkte. Die VSA se langtermyn rentekoerse was die afgelope 40 jaar in ʼn reuse bulmark. Dit het egter alles gelei tot ʼn reuse styging in die ongelyke verspreiding van welvaart. Die middelklas het stagneer veral in vergelyking met die top 1% rykes in die wêreld.
Dit bring ons nou by ʼn nuwe fase wat vir die volgende 40 jaar met ons kan wees. Die nuwe fase waarin ons inbeweeg, staan bekend as moderne monetêre teorie (MMT) en word gedryf deur die Withuis in die VSA.
President Joe Biden is besig om ’n groot rolspeler te word in die verandering van ekonomiese besluitneming. Sy benadering is verrassend en sy fokus is op die groot VSA-middelklas en die sogenaamde bloukraagwerkers. Biden steur hom nie aan die 1% rykes nie. Dit word gesien as ʼn radikale afwyking van die benadering van die vorige ses VSA-presidente.
Biden se fokus is om ongelykheid in welvaart aan te spreek deur staatsbesteding te verhoog al lei dit tot groter begrotingstekorte. Meer geld word eenvoudig gedruk en terwyl inflasie laag bly, is dit nie ʼn probleem nie. Die Federale Reserwebank (Fed) se rol gaan kleiner word en die staat gaan weer ʼn belangrike rol in die VSA speel.
Die Fed kan geld leen maar nie spandeer nie en dus word daar tans geld deur die Fed aan die staat geleen wat dit spandeer. Dink maar net aan die tjeks van $1,400 per huishouding wat onlangs aan burgers in die VSA uitgedeel is deur die staat. Na die inperkings wat op die pandemie gevolg het en in aanloop na die VSA presidentsverkiesing en na die verkiesing beloop die VSA se staatsbesteding ʼn allemintige $4 triljoen. Dit is radikaal. McWilliams noem dat dit dalk niks anders as Marxisme is wat Biden bedryf nie.
Die verandering kan gesien word daarin dat MMT die beginsel het van spandeer eers en betaal later deur belasting te verhoog. Dit is teenstrydig met hoe daar vantevore oor die staat se rol gedink is. Daar is ’n beweging om kapitaal in die ekonomie in te pomp en te spandeer met die enigste bekommernis of fokus om inflasie in die toekoms dop te hou.
Terselfdertyd moet ons ook kennis neem van die moontlikheid van ʼn nuwe koue oorlog tussen die VSA en China. China is tans baie ongewild in die wêreld en Biden verras ook met sy sterk afkeur van China se manier van doen.
Die Afrika-populasie groei sterk en moet in ʼn positiewe sin dopgehou word in die toekoms. Dit skep geleenthede in landbou, voedselbereiding en opleiding. Tegnologie word al hoe meer aangewend vir onderrig en skep geleenthede vir meer mense om toegang te kry tot opleiding. Dit skep potensiaal vir ekonomiese groei vir die toekoms.
Dr Ben S. Bernanke is ʼn Gesiene Genoot van die Ekonomiese Studieprogram by die Brookings Instituut. Van Februarie 2006 tot Januarie 2014, is hy deur beide Presidente Bush en Obama aangewys as Voorsitter van die Goewerneursraad van die Federale Reserwebank.
Die meeste reserwebanke het as mandaat stabiele pryse en lae inflasiedoelwitte. In 1977 het die VSA-regering egter vir die Federale Reserwebank gesê om ʼn ekstra mandaat, naamlik volle indiensname, ook te volg. Stabiele, lae inflasie word geteiken om gemiddeld 2% te wees (en nie 0% nie) en maksimum indiensneming om te verseker dat die ekonomie kan groei en die meeste mense werk het.
Oor die afgelope paar jaar is inflasie laer as hierdie doelwit van 2% en was daar ook ’n groot verlies aan werksgeleenthede as gevolg van Covid-19. Om hierdie rede word daar op hierdie stadium in die VSA ʼn beleid van baie lae rentekoerse, doelbewuste kapitaalbesteding en hulppakkette aangewend om die ekonomie te probeer stimuleer, enersyds om inflasie te laat styg maar ook om indiensname weer te verhoog.
Ongelyke verspreiding van welvaart is ʼn bekommernis in die VSA met die pandemie wat ʼn groot impak hierop gehad het. Mense met beroepe wat die pandemie kon weerstaan deur van die huis af te werk deur middel van tegnologie het daarin geslaag om redelik suksesvol deur die pandemie te kom, maar mense wat kliënte in persoon moet bedien, soos byvoorbeeld kelners, het baie swaar getrek die afgelope jaar.
Die Federale Reserwebank kan egter moeilik onderskei in sy riglyne en uitvoerende besluite tussen die verskillende groepe en kan dus nie maklik die probleem van ongelykheid aanspreek nie. Wat die VSA wel kan doen, is om indiensname sterk te hou en dit is wat hulle onlangs weer gedoen het. Wanneer die werksmag sterk is, het ʼn verskeidenheid mense meer geleenthede, kan mense beter beroepe begin beoefen en daardeur word die totale welstand van die gemeenskap verhoog.
Hulppakkette en fiskale beleid is belangrik in ʼn ekonomiese krisis aangesien monetêre beleid in ʼn omgewing waar rentekoerse reeds baie laag is te min beweegruimte bied om die ekonomie te stimuleer. Inflasie is reeds laag en rentekoerse kan nie vêrder gesny word nie. Die Federale Reserwebank laat toe dat die staat nou baie geld leen en uitdeel om die ekonomie te stimuleer. Alhoewel die staatskuld styg, is dit aanvaarbaar in ’n krisistyd soos wat ons tans beleef.
Die bekommernis is wel dat inflasie kan styg en dat dit dopgehou moet word. Aangesien inflasie egter onder die doelwit van 2% is, gaan ʼn bietjie ekstra inflasie nie sleg wees vir die ekonomie nie. Daar is ʼn moontlikheid dat inflasie wel vir ʼn kort tydperk tot bo hierdie doelwit kan styg voor die nodige stappe geneem gaan word om dit te verlaag. Hierdie gedagtegang gaan help om inflasie oor ʼn langer tydperk nader aan die doelwit van 2% te hou.
Korttermyn rentekoerse gaan moontlik nog vir die volgende ruk laag gehou word totdat inflasie nader aan die doelwit van 2% is. Effektekoerse kan wel begin styg; iets wat reeds in die 10-jaar VSA-staatseffekkoers gesien word. Bernanke is wel van mening dat die styging stadig en oor ʼn tydperk gaan plaasvind.
PRETORIA-OOS | Lynnwood Bridge Kantoorpark, Kaaimansgebou, 4de Vloer, Lynnwood Manor | Postnet Suite 96, Privaatsak X025, Lynnwoodrif 0040 Tel: 0861 774 000 | Faks: 012 349 5300 | pretoriaoos@psg.co.za
Die opinies in hierdie dokument is dié van die skrywer en nie noodwendig die van PSG nie. Dit verteenwoordig nie advies nie. Alhoewel hoë sorg geneem is in die navorsing en voorbereiding van hierdie nuusbrief, kan geen verantwoordelikheid geneem word vir enige optrede gebaseer op inligting in hierdie nuusbrief nie. PSG Wealth Financial Planning (Pty) Ltd is ‘n gemagtigde finansiële diensteverskaffer. RFD 728
Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.