December 2021
Rehana Cassiem
Fiduciary Specialist – PPS
Al hoe meer Suid-Afrikaners gebruik hul jaarlikse diskresionêre beleggingstoelae om in die buiteland te belê en bates in die buiteland aan te skaf. Die vraag wat ontstaan is, of mens ’n aparte testament nodig het vir hierdie bates.
“ Baie mense stel net een testament op, wat ook bates elders in die wêreld insluit. Dit is egter nie altyd die beste opsie nie, omdat daar verskeie ingewikkelde kwessies is om te oorweeg, soos die aard van die bates en die tipe jurisdiksie waarin die bates besit word. ”
Al hoe meer Suid-Afrikaners gebruik hul jaarlikse diskresionêre beleggingstoelae om in die buiteland te belê en bates in die buiteland aan te skaf. Die vraag wat ontstaan is, of mens ’n aparte testament nodig het vir hierdie bates.
Baie mense stel net een testament op, wat ook bates elders in die wêreld insluit. Dit is egter nie altyd die beste opsie nie, omdat daar verskeie ingewikkelde kwessies is om te oorweeg, soos die aard van die bates en die tipe jurisdiksie waarin die bates besit word.
Die opsies vir die hantering van buitelandse en Suid-Afrikaanse bates is die volgende:
Om te bepaal of ’n buitelandse testament nodig is, moet daar gekyk word na die tipe buitelandse bates en waar dit is. ’n Aparte testament word feitlik altyd aanbeveel as vaste eiendom in ’n ander land besit word.
Die beginsel van oorlewing kan van toepassing wees op sommige kliënte wat gesamentlike bank- of beleggingsrekeninge het. Indien wel en afhangende van waar die rekening geregistreer is, kan die aandeel van een van die gesamentlike eienaars by afsterwe moontlik outomaties aan die oorlewende mede-eienaar gaan, sonder om deur die oorledene se boedel te gaan. Hierdie beginsel geld in die VK, Ierland, Jersey, Guernsey, op die eiland Man en in baie ander lande regoor die wêreld.
’n Getroude man wat byvoorbeeld saam met sy vrou ’n gesamentlike bankrekening in Engeland het, moet nie probeer om sy aandeel in die gesamentlike rekening as ’n spesifieke geskenk in sy testament aan iemand anders as sy vrou te bemaak nie, want dit kan tot ’n dispuut lei.
In sommige lande word vryheid van erflating nie erken nie. Hierdie lande het erflatingswette wat die bedoelings van die oorledene ter syde stel – dit staan bekend as gedwonge erfgenaamskap. Gedwonge erfgenaamskapwette – wat van land tot land verskil – kom oorwegend voor in siviele reg-jurisdiksies, soos Mauritius, Switserland, Spanje, Frankryk, Japan en Portugal, asook lande waar Shari’ah-wette geld.
Basies is gedwonge erfgenaamskap ’n stel reëls wat die testateur beperkte vryheid gee om sy/haar boedel te bemaak – om sekere erfgename soos sy/haar gade, kinders en/of ander naby familielede te beskerm. In die meeste lande waar hierdie stelsel van krag is, is ’n deel van die boedel onderhewig aan die wette van gedwonge erfgenaamskap, terwyl die res aan die testateur se diskresie oorgelaat word.
As jy dus bates besit in ’n land waar gedwonge erfgenaamskapwette geld, is dit die beste om ’n aparte testament op te stel vir die bates in daardie jurisdiksie. Elke land se reëls vir gedwonge erfgenaamskap is uniek en dit is altyd raadsaam om ’n plaaslike kundige in daardie land te raadpleeg. Wanneer ’n buitelandse testament opgestel is, behoort jou Suid-Afrikaanse testament aangepas te word met bewoording soos “Hierdie testament is slegs van toepassing op my bates in Suid-Afrika.”
Hou ook in gedagte dat wanneer ’n nuwe testament opgestel word, dit gewoonlik vorige testamente herroep. As ’n buitelandse testament opgestel word, moet dit duidelik gestel word dat elke testament nie ’n ander buitelandse testament herroep nie. Dit is veral belangrik om dit te onthou wanneer testamente in verskillende lande opgestel word met die hulp van verskillende adviseurs. Jou Suid-Afrikaanse testament behoort dus aangepas te word met bewoording soos “Hierdie testament herroep alle vorige testamente wat ek opgestel het slegs ten opsigte van my bates in Suid-Afrika.”
Met ’n afsonderlike buitelandse testament verseker jy dat die buitelandse boedel op dieselfde tydstip as die Suid-Afrikaanse boedel geadministreer word, wat vertragings met die afhandeling van die proses beperk. Die genomineerde Suid-Afrikaanse eksekuteur sal dan toestemming vir die verifikasie van die testament (“grant of probate”) kan verkry wat hom/haar magtig om met die buitelandse boedel te handel. Die eksekuteur hoef dan nie geseëlde eksekuteursbriewe van die Meester van die Hoë Hof te verkry soos gewoonlik nodig is in die geval van slegs een testament wat ’n wêreldwye boedel dek nie.
ʼn Laaste belangrike punt om in gedagte te hou, is die belastingaanspreeklikheid. Volgens artikel 3(2) van die Boedelbelastingwet, as jy ’n permanente inwoner van Suid-Afrika is, is jy aanspreeklik vir boedelbelasting en kapitaalwinsbelasting op wêreldwye bates. Die vereiste om buitelandse bates vir boedelbelastingdoeleindes te rapporteer, bly van krag selfs al is ’n buitelandse testament opgestel. Hierdie buitelandse bates kan ook onderworpe wees aan erflatingbelasting, afhangende van die jurisdiksies waar die bates geleë is. Dit staan bekend as situsbelasting. Mens moet ook bewus wees van dubbelbelasting. As Suid-Afrika nie ’n dubbelbelasting-ooreenkoms het met die land waar die buitelandse bates is nie, kan die kliënt op die ou end in beide lande belasting betaal.
Neem asseblief kennis dat hierdie artikel is nie bedoel as finansiële advies nie; die inligting soos verskaf is bloot ter inligting. Ooreenkomstig die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangerdienste behoort finansiële diensverskaffers nie advies aan beleggers te gee sonder toepaslike risiko-ontledings en ’n deeglike ondersoek van die betrokke kliënt se finansiële situasie nie. Die inligting, menings en kommunikasie van PPS Insurance hetsy skriftelik, mondeling of stilswyend, word te goeder trou verskaf en is nie as beleggingsadvies bedoel nie. Dit is ook geensins ’n aanbod of poging om besigheid te werf nie. PPS Insurance is ’n gemagtigde finansiële diensverskaffer – Lisensienr. 1044.
Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.