April 2021
Dawie Klopper CFP® Wealth Manager
Na ‘n jaar van inperkings is dit gepas om na onsekerhede, onsinnige maatreëls, leë strande en trauma terug te kyk en ons Covid jaar te onthou. Tyd het verby gevlieg al het dit partykeer stil gestaan.
“ Tyd het verby gevlieg al het dit partykeer stil gestaan. ”
Na ‘n jaar van inperkings is dit gepas om na onsekerhede, onsinnige maatreëls, leë strande en trauma terug te kyk en ons Covid jaar te onthou. Tyd het verby gevlieg al het dit partykeer stil gestaan. ʼn Jaar terug het ons in totale inperking geleef en mag jy net in jou tuin geoefen het (Figuur 1).
Figuur 1: Draf in die tuin
Bron: Strava
As jy dalk tog met jou bure gekuier het, het elkeen in sy eie oprit gesit en maar so oor die straat of oor die heining heen met mekaar gesels. Jy kon nie familie of vriende gaan besoek het nie en provinsiale en landsgrense was gesluit. Jy moes jou hande was, ‘n masker dra en jou afstand behou. Die President het kort-kort “familievergaderings” byeengeroep waar net hy gepraat het. Ons het geleer van kwarantyn en dat oop skoene die virus kan versprei. Almal wat wou rook kon tog ʼn plan maak en het wel ʼn rookdingetjie in die hande gekry. Die Staatskas het egter niks aksynsbelasting ontvang nie en ons moes op grootskaal geld leen om hulppakkette uit te deel. Rentekoerse het skerp gedaal. Mense het inderhaas noodfondse opgebou vir ingeval die inperkings langer duur as wat redelik verwag kon word.
Hierdie is alles weliswaar tot ‘n groot mate iets van die verlede maar wat ons wel weet is dat Covid se impak egter nog lank nie verby is nie, mense word steeds siek en in sommige gevalle sterf mense aan die virus. Die ekonomiese impak was en is steeds baie erg. In Europa is daar nou ‘n derde golf wat tref. Daar is steeds ‘n verskeidenheid besighede wat sukkel om te oorleef en hier dink ons veral aan die toerisme– en gasvryheidsbedrywe en alles wat daarmee verband hou. Lugrederye is nog steeds onder wesentlike druk met veral internasionale reise wat nog onder swaar inperkings ly. Sport word steeds voor leë stadiums beoefen en massa byeenkomste hetsy dit nou vir kerkdienste of vermaaklikheid is kan slegs vir ‘n beperkte gehoor aangebied word.
Aan die ander kant van die muntstuk het ons geleer om anders te werk en het Zoom en MS Teams ‘n begrip geword vir aanlynvergaderings en wonder mens hoe en wanneer kantoorwerkers weer ten volle sal terugkeer kantoor toe. Tegnologie het dit tog op ‘n manier makliker gemaak om kontak met mekaar te behou al is dit maar ‘n skrale troos noudat mens-tot-mens-vergaderings of byeenkomste maar baie beperk is.
Ons het gepraat van “reset”. As daar nou teruggekyk word na die afgelope jaar dan kan elkeen dalk tog op ‘n manier dink aan iets waarvoor jy die “reset” knoppie kon druk . In my gemoed was dit iets wat jy vantevore gedoen het, maar wat jy vanweë Covid nie mee kon voortgaan nie maar wat tog ‘n plek in jou lewe het. Deur dit anders te benader of om ‘n nuwe fondament daarvoor te lê met ander woorde deur te “reset” kon jy dalk op ‘n beter, gesonder en veiliger plek uitkom.
In die tussentyd wag ons op entstowwe...
Daar was ook ‘n paar verrassings. Daar is drie verrassings wat ek wil uitlig.
Eerstens was mens nogal verras dat daardie baie ou en amper vergete bottel wyn in jou kas, wat jy toe jou voorraad opgeraak het in noodsaak moes oopmaak, nogal goed verouder het.
Maar op ‘n meer ernstige noot was die vertoning van die rand dalk die groot verrassing. Die rand het sedert die laagtepunt wat in April 2020 aangeteken is met 20% versterk en dan het die JSE Algehele Indeks ook verras met ‘n 67% styging sedert die laagtepunt wat in Maart 2020 aangeteken is (Grafiek 1).
Grafiek 1: Rand/VSA $ wisselkoers en JSE Algehele Indeks
Bron: Iress
Buitelandse beurse (byvoorbeeld die S&P 500) het ook baie goed vertoon maar uit ‘n Suid-Afrikaanse belegger se oogpunt was die herstel nie so goed nie en dit natuurlik as gevolg van die sterk rand wat van die buitelandse “winste” teruggeneem het (Grafiek 2).
Grafiek 2: S&P 500 in $ terme en in randterme (baseer tot 100)
Bron: Iress
Van middel Maart 2020 het die S&P 500 met 68% gestyg maar vir ‘n Suid-Afrikaanse belegger was daardie styging “slegs” 48%.
In die tussentyd bly diversifikasie ons strategie want dit help beleggers om uit ‘n verskeidenheid bronne of bateklasse, hetsy plaaslik of internasionaal opbrengs te ontvang. Deur te dink jy kan van een bateklas of van een beurs na ‘n ander spring en dit heeltyd en betyds reg kry is nie iets wat ons dink ons kan regkry nie. Daarom diversifiseer ons en weet ons dat ons ‘n goeie kans staan om die heeltyd êrens in ons portefeuljes aan die wenkant behoort te wees.
PRETORIA-OOS | Lynnwood Bridge Kantoorpark, Kaaimansgebou, 4de Vloer, Lynnwood Manor | Postnet Suite 96, Privaatsak X025, Lynnwoodrif 0040
Tel: 0861 774 000 | Faks: 012 349 5300 | pretoriaoos@psg.co.za
Die opinies in hierdie dokument is dié van die skrywer en nie noodwendig die van PSG nie. Dit verteenwoordig nie advies nie. Alhoewel hoë sorg geneem is in die navorsing en voorbereiding van hierdie nuusbrief, kan geen verantwoordelikheid geneem word vir enige optrede gebaseer op inligting in hierdie nuusbrief nie. PSG Wealth Financial Planning (Pty) Ltd is ‘n gemagtigde finansiële diensteverskaffer. RFD 728
Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.