Brandveiligheid moet ʼn topprioriteit vir jou besigheid wees

Fraudulent Telegram and WhatsApp groups 
Please beware of fraudulent Telegram and WhatsApp groups impersonating PSG Financial Services, our divisions and our advisers. Be cautious, verify links and contact your adviser or Client Services if you have any queries or concerns.

Brandveiligheid moet ʼn topprioriteit vir jou besigheid wees

ʼn Brand kan rampspoedig wees vir jou besigheid, met veel groter onmiddellike en langtermyngevolge as net die fisiese skade. Na ʼn brand kan jy ʼn verlies van voorraad, toerusting en kritieke infrastruktuur – of nog erger, lewensverlies – en die tydelike opskorting van werksaamhede ondervind, wat moontlik tot aansienlike finansiële verliese kan lei.

Om te voorkom dat ʼn brand ontstaan en om die verspreiding van ʼn brand te beperk, beveel ons aan dat oorweging geskenk word aan die algemene brandveiligheidsmaatreëls wat hieronder toegelig word. Neem egter kennis dat hierdie maatreëls nie enige brandbeperkingsvereistes vervang wat in die bepalings en voorwaardes van die versekeraar se polis en/of regulasies van die gebied uiteengesit is nie.

Beplan vooruit
Gereedheid is uiters belangrik om brandverwante ongelukke te voorkom, en vinnige en doeltreffende aksies in die geval van ʼn brand te verseker.

  • Risiko-evaluerings: Die meeste versekeraars doen risiko-evaluerings om kliënte te help bepaal watter maatreëls getref moet word om die risiko van ʼn brand te verminder. Dit word gewoonlik by die aanvang van die polis gedoen, en met tussenposes wat deur die versekeraar bepaal word – gewoonlik by die hernuwing van die polis.
  • Sakekontinuïteitsplan: Stel ʼn noodbrandplan op skrif, en sluit ontruimingsroetes, versamelpunte en rolle vir werknemers in ʼn noodgeval daarby in.
  • Opleiding: Maak seker dat alle werknemers opleiding kry in brandveiligheidsprosedures – insluitend hoe om brandblussers te gebruik, hoe om te ontruim, en hoe om nooddienste in kennis te stel. ʼn Minimum getal personeellede moet geïdentifiseer en opgelei word om brandblussers te gebruik. Die FPASA (Fire Protection Association of South Africa – www.fpasa.co.za) moet geraadpleeg word om uit te vind wat die vereistes is.
  • Gereelde oefeninge: Doen brandoefeninge om seker te maak almal is vertroud met noodprosedures.
  • Noodkontakte: Vertoon noodkontakinligting, insluitend dié van die brandweer, op sigbare plekke in die hele werkplek.

Brandveiligheid
Brandveiligheidspraktyke verseker die veiligheid van jou werknemers, bates en die geboustruktuur. Voorkoming is baie doeltreffender as om net op reaksiemaatreëls staat te maak.

  • Rook: Streng beheer moet uitgeoefen word en aangewese rookareas moet beskikbaar wees.
  • Elektriese veiligheid: Gaan gereeld elektriese bedrading en dienspunte na vir slytasie. Oorlaaide stroombane en foutiewe toerusting hou ʼn groot brandgevaar in. ʼn Elektriese voldoeningsertifikaat (in Engels CoC – certificate of compliance) moet deur ʼn geregistreerde persoon uitgereik word en op rekord gehou word.
  • Kook: ʼn Brandkombers of draagbare brandblusser moet naby hitte- en ontvlammingsbronne gehou word.
  • Suigwaaiers in die kombuis: Stelsels moet deur ʼn gesertifiseerde maatskappy nagegaan en skoongemaak word volgens die vervaardiger se spesifikasies, en so gereeld gedoen word soos voorgeskryf volgens gebruik. ʼn Sertifikaat wat die datum meld waarop dit nagegaan of skoongemaak is, moet op rekord gehou word.
  • Potensieel gevaarlike stowwe (bv. ontvlambare gasse, vloeistowwe, vaste stowwe, plofstowwe, giftige stowwe of sure): Inspeksie en sertifisering deur die plaaslike brandweer is ʼn vereiste en moet jaarliks hernu word.
  • Ontvlambare vloeistowwe: Hoeveelhede in die werkplek moet tot een dag se voorraad beperk word, en in ʼn afsonderlike stoorplek bewaar word weg van ander gevaarlike stowwe wat die houers wat gebruik word, kan beskadig.
  • Ontvlambare of nie-ontvlambare gas: Silinders moet in ʼn duidelik geïdentifiseerde, droë, goed geventileerde stoorplek bewaar word, weg van deuropeninge, gange, trappe, roltrappe, hittebronne en potensiële brandgevare.
  • Stof- en damp-uitsuigstelsels: Stelsels moet nagegaan en skoongemaak word volgens die vervaardiger se spesifikasies.
  • Bestuur en beheer van alle werk waarby hitte betrokke is (sweiswerk, slypwerk en enige werk wat vonke of hitte afgee): Hersien die prosedures en opleiding vir werk waarby hitte betrokke is, om seker te maak ʼn brandwag word voorsien waar die permit dit vereis. ʼn Werkproses moet ingestel word om ʼn permit vir hierdie tipe werk te kry.
  • Spuitverf: Inspeksie en sertifisering deur die plaaslike brandweer is ʼn vereiste en moet jaarliks hernu word.
  • Houers wat onder druk is (ketels, ens.): Registrasie en ʼn toetssertifikaat wat ooreenkomstig die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid uitgereik is, word vereis.

Huishouding
Behoorlike huishouding voorkom dat ontvlambare stowwe opbou en verseker dat veilige en oop ruimtes vir werksaamhede sowel as ontruimingsroetes bestaan.

  • Rommelvrye werkruimte: Hou werkareas, stoorruimtes en gange vry van onnodige items. Rommel kan nooduitgange versper en brandrisiko’s verhoog.
  • Afvalverwydering: Raak vinnig ontslae van ontvlambare materiaal soos papier, olierige lappe en chemikalieë. Maak seker dat alle afval in behoorlike houers gehou en gereeld van die perseel verwyder word.
  • Stortings en lekkasies: Wanneer brandstof, olie of chemikalieë gestort word, maak dit vinnig skoon om ʼn brandgevaar te voorkom. Maak seker dat behoorlike prosedures gevolg word met die hantering van gevaarlike stowwe.
  • Maak ventilasiestelsels skoon: Doen gereelde instandhouding van verhitting-, ventilasie- en lugversorgingstelsels om te voorkom dat ontvlambare stof, vuiligheid of olie wat aan die brand kan slaan, opbou.

Opberging en stapeling
Materiaal wat nie behoorlik geberg of opgestapel word nie, kan brandgevare skep, ontsnaproetes blokkeer en brandbestrydingspogings belemmer. Veilige opbergingspraktyke beperk hierdie risiko’s.

  • Behoorlike bewaring van ontvlambare stowwe: Bewaar ontvlambare vloeistowwe, gasse en chemikalieë in goedgekeurde, brandbestande houers en in goed geventileerde areas. Gassilinders en ontvlambare vloeistowwe in die produksie-areas moet beperk word tot slegs die hoeveelhede wat vir die dag se werk nodig is.
  • Totale ontvlambare materiaal: Moet in die produksie- en stoorareas tot die absolute minimum beperk word.
  • Veilige opstapeling van goedere: Sorg dat items so opgestapel word dat hulle nie sal omkantel of uitgange sal blokkeer nie. Maak seker dat items nie brandveiligheidstoerusting versper nie. Items mag nie hoër opgestapel word as wat die sprinkelstelsel se ontwerpspesifikasies vereis nie. Waar items op rakke opgestapel word, maak seker dat die nodige ruimtes oopgelaat word – materiaal moet so opgestapel word dat dit nie spuitkoppe of outomatiese brandverklikkers versper nie.
    Waar daar nie ʼn sprinkelstelsel geïnstalleer is nie, mag stapels nie hoër as 3 meter wees nie.
  • Stoorplek: Die binne-area moet in stoorafdelings verdeel word en daar moet oop gange tussen die afdelings wees.
  • Merk alles: Merk gevaarlike stowwe duidelik met gepaste waarskuwingsimbole en hou veiligheidsdatablaaie toeganklik vir werknemers.
  • Temperatuurbeheer: Maak seker dat ontvlambare stowwe nie naby hittebronne gehou word nie en dat temperatuur-sensitiewe stowwe in temperatuur-beheerde areas gehou word.

Brandpanele en verklikkerstelsels
Brandverklikkerstelsels help om brande vroeg op te spoor, vinniger te reageer en moontlik uitgebreide skade te voorkom.

  • Brandopsporing: Maak seker dat die stelsel in alle vertrekke, gange en hoërisiko-areas geïnstalleer word. Toets en doen gereeld instandhouding van die stelsel om te sorg dat die verklikkers behoorlik funksioneer. Die stelsel moet direk met die brandweer of ʼn 24-uur bemande beheerkamer in verbinding wees.
  • Hitteverklikkers: In areas met hoë stofvlakke, humiditeit of lugvloei (soos kombuise of pakhuise) kan hitteverklikkers doeltreffender wees as rookverklikkers.
  • Brandpanele: Brandbeheerpanele moet op sentrale plekke geleë wees, maklik toeganklik wees en gereeld nagegaan word. Die brandpaneel moet die huidige stand van sake weerspieël en diagnostiese inligting verskaf om foute op te spoor.
  • Brandblussers: Daar moet genoeg brandblussers wees, wat gereeld gediens en in stand gehou word, met duidelike aanwysers en toegang.
  • Outomatiese sprinkelstelsels: Installeer sprinkelstelsels in hoërisiko-areas. Hierdie stelsels moet gereeld getoets en in stand gehou word. ʼn Voldoeningsertifikaat moet jaarliks uitgereik word deur ASIB (Automatic Sprinkler Inspection Bureau (Pty) Ltd).

Instandhouding
Persele wat toegegroei is onder gras, onkruid, struike of bome hou ʼn brandgevaar in. Brandstroke op plase en kleinhoewes sal help om die verspreiding van brande te beperk.

  • Tuininstandhouding: Alle ontvlambare materiaal en plantegroei binne 5 meter van die versekerde geboue of struktuur moet skoongemaak en verwyder word. Bome en struike wat ʼn brand na die gebou of die dak kan laat versprei, moet geknip en weggesnoei word om die brandgevaar uit te skakel. Hierdie bome en struike moet minstens 2.5 meter weg van enige struktuur of dak wees (5 meter indien die muur of dakstruktuur van riet of hout is).
  • Brandstroke: Op plase en kleinhoewes help brandstroke om die verspreiding van brande te beperk. Jy moet voldoen aan die Wet op Nasionale Veld- en Bosbrande, wat regulasies oor die verspreiding van veldbrande beheer.

Kernlesse

  • Gereelde hersiening en bywerking nodig: Gaan gereeld jou brandveiligheidsmaatreëls na en pas hulle aan soos nodig – veral wanneer werksaamhede, personeel of die uitleg van die gebou verander.
  • Voldoening aan regulasies: Maak seker dat plaaslike brandveiligheidswette en -regulasies nagekom word om boetes of regsaanspreeklikheid te vermy.

Deur hierdie kernelemente in ag te neem – om voorbereid te wees, brandveiligheidspraktyke na te kom, goeie instandhouding te doen, die regte tegnieke t.o.v. bewaring en opstapeling toe te pas, en in brandpanele en verklikkerstelsels te belê – kan jy die risiko van brande beduidend verlaag en die veiligheid van werknemers en bates verseker.

Gesels asseblief met jou adviseur indien jy enige vrae het in verband met die dekking wat deur jou polis verskaf word.

Recommended news

Card image cap
InsureInShort
How to safeguard your business operations against cybercrime

Read more
Card image cap
InsureInShort
Korttermyn-eiendomsversekering 101: Tref voorsorg vir die einde van die jaar voordat dit jou inhaal

Read more
Card image cap
InsureInShort
Fire safety should be at the heart of your business

Read more
PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2026 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us