Fraudulent Telegram and WhatsApp groups
Please beware of fraudulent Telegram and WhatsApp groups impersonating PSG Financial Services, our divisions and our advisers. Be cautious, verify links and contact your adviser or Client Services if you have any queries or concerns.
January 2026

PSG Insure

“ Namate die Suid-Afrikaanse korttermyn-versekeringslandskap in 2025 verder ontvou het, het PSG Insure verskeie blywende en ontluikende risiko’s geïdentifiseer wat plaaslike ondernemings affekteer. ”
Namate die Suid-Afrikaanse korttermyn-versekeringslandskap in 2025 verder ontvou het, het PSG Insure verskeie blywende en ontluikende risiko’s geïdentifiseer wat plaaslike ondernemings affekteer. Met ʼn evaluering van sommige van hierdie risiko’s kan ons waardevolle lesse leer om in die jaar vorentoe strategieë vir risikovermindering te verfyn.
1. Brande
Uit ʼn finansiële oogpunt was brande steeds een van die skadelikste risiko’s vir besighede in 2025. Baie insidente was te wyte aan elektriese foute, verouderde bedrading of oorlaaide stelsels. Ander het voortgespruit uit ontoereikende instandhouding van brandvoorkomingstoerusting of nie-voldoening aan veiligheidsregulasies.
Brande kan ʼn totale bedryfstilstand of langtermyn-ontwrigting van die besigheid veroorsaak, of meebring dat bates ten duurste vervang moet word. Dit beklemtoon die belangrikheid van streng voldoening aan nakomingsvereistes, instandhouding van brandopsporingstelsels, en gereelde inspeksies. Dit baat besighede in nywerheidsomgewings of stoorfasiliteite om hul risikoverminderingsprotokolle na te gaan en onder andere te sorg dat daar duidelike huishoudingpraktyke bestaan, en dat gevaarlike stowwe behoorlik geskei word.
2. Kuber- en digitale risiko’s
Kubermisdaad is steeds ʼn risiko vir besighede. E-posbedrog, losprysware en uitvissing is van die insidente wat die meeste aangemeld word in verskeie industrieë. Veral klein en mediumgrootte ondernemings is kwesbaar, omdat baie van hulle nie formele kuberveiligheidsraamwerke het nie of op verouderde sagteware staatmaak.
Dit onderstreep die behoefte aan veelvlakkige kuberrisikobestuur, wat multifaktor-verifiëringsmaatreëls, gereelde sagtewareregstellings en werknemeropleiding insluit. Kuberversekering het ʼn onmisbare veiligheidsnet geword wat besighede help om van ʼn bedryfstilstand, dataskendingskoste en finansiële verlies te herstel.
3. Klimaat- en uiterste weer-verwante insidente
Suid-Afrika het nog ʼn jaar van onvoorspelbare en uiterste weerstoestande beleef, met voortspruitende insidente soos vloede, sterk wind en stormskade in sekere gebiede. Hierdie insidente was erg ontwrigtend vir die kleinhandels-, landbou- en vervaardigingsbedrywe.
Versekeraars het al hoe meer op datagedrewe hulpmiddels soos geo-kodering begin staatmaak om blootstelling meer akkuraat te bepaal. Dit behels die kartering van eiendomme teen weerverwante risikopatrone en ontluikende klimaatsmodelle om te bepaal of sekere gebiede in die toekoms waarskynlik hoër verliese sal ervaar.
4. Verwering van infrastruktuur
Besighede is steeds landwyd geaffekteer deur die verwering van infrastruktuur – van waterskade wat deur gebarste munisipale pype veroorsaak is tot verliese weens onstabiele kragtoevoer en netwerkverwante foute. Hierdie insidente het dikwels ʼn kettingreaksie veroorsaak – soos brandrisiko, onklaarraking van toerusting en voorraadverliese – wat die bywerking van instandhoudingsplanne en stuwingsbeskermingsmaatreëls genoodsaak het.
Adviseurs speel ʼn uiters belangrike rol om kliënte te help verstaan hoe uitsluitings met betrekking tot kragnetwerk-faling, slytasie en swak instandhouding toegepas word. Professionele adviseurs kan ook aan besighede leiding gee oor hoe om aan versekeraars se vereistes te voldoen, en wat hulle kan doen om toerusting en die perseel teen voorspelbare infrastruktuurkwessies te beskerm.
5. Voertuig- en vervoerverwante verliese
Vervoerverwante risiko’s soos ongelukke, vragdiefstal en kapings kom nog steeds voor, veral by besighede wat ʼn afleweringsvloot het of op gereelde vervoer van goedere staatmaak. Daar is ook in sekere streke ʼn toename in opportunistiese misdaad wat logistieke voertuie teiken.
Besighede wat in risikoverminderingstrategieë soos telematika, bestuurdermonitering en gestruktureerde vlootbestuursprogramme belê, ervaar gewoonlik ʼn seepgladde eisproses en kry groter insig in hul risikoblootstelling.
Ongeag die risiko, bly noue samewerking met ʼn adviseur een van die doeltreffendste maniere om in die ontwikkelende landskap op koers te bly. Adviseurs kan veranderings in risikoblootstelling bepaal, polisaanpassings verduidelik, en help om oplossings te skep wat besighede in 2026 en daarna veerkragtig sal hou.
Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.





