Die risiko’s van onderversekering – en hoe om dit te vermy

Die risiko’s van onderversekering – en hoe om dit te vermy

Versekering verskaf ʼn uiters nodige veiligheidsnet teen onvoorsiene gebeurlikhede en rampe, en dit bly een van die doeltreffendste maniere om die moontlik verpletterende finansiële impak van ʼn skielike en onverwagte verlies te voorkom. Hoewel die meeste mense besef en erken hoe belangrik dit is om teen bogenoemde risiko’s versekering te hê, is ʼn minder opvallende maar net so ʼn groot risiko onderversekering.

Onderversekering kom algemeen voor – maar om ander redes as wat jy miskien dink

In baie gevalle is mense onderverseker nie omdat hulle doelbewus so besluit het nie, maar as gevolg van ʼn misrekening of ʼn misverstand. Sommige polishouers raak byvoorbeeld onderverseker wanneer hulle duurder eiendom aanskaf, of verbouings en opknappings doen wat die markwaarde van hul bate beduidend verhoog. Ander raak onderverseker wanneer hulle nie die inflasiekoers in ag neem nie en nie mettertyd hul dekking dienooreenkomstig aanpas nie – iets wat ʼn mens jaarliks moet doen.

Vir sommige is bekostigbaarheid miskien ʼn probleem, met die gevolg dat hulle koste probeer besnoei deur die versekerde bedrag op hul eiendom te verlaag. Hoewel dit miskien tydelike finansiële verligting kan bring, is dit ʼn kortsigtige benadering, omdat die koste om die tekort uit hul eie sak te dek waarskynlik ʼn onhanteerbare finansiële las sal meebring.

Volgens Quantam, kenners op die gebied van versekeringswaardasies, het onlangse statistieke van die plaaslike mark getoon dat 80% van Suid-Afrikaners met meer as 50% van die waarde van hul waardevolle besittings onderverseker is, teenoor slegs 20.6% wat met net onder 28% oorverseker is. Hierdie bevindings beklemtoon die dringende behoefte aan verbruikersopvoeding oor die implikasies van onderversekering en hoe om dit te vermy.

Oorweeg ʼn scenario waar iemand versekering op hul huis uitneem, maar nie genoeg dekking het om die hele huis te herbou nie. Hou ook in gedagte dat die basiese beginsel van versekering is om die eienaar van die bate weer in dieselfde finansiële posisie te plaas as wat hulle voor die skade of vernietiging van daardie bate was.
Indien die huis in hierdie scenario sou afbrand en tot ʼn algehele verlies sou lei, sou die versekerde nie die volle vervangingswaarde van die eiendom met ʼn versekeringseis kon terugkry nie. Die versekeraar sal dan die aweryklousule toepas, wat die kliënt net vergoed vir die gedeelte van die verlies wat in die polisdokument gedek word. In hierdie geval, gestel die huis was R2 miljoen werd maar die waarde wat deur die versekeringspolis gedek word, is vasgestel op R1 miljoen.

Indien die kliënt vir ʼn algehele verlies wou eis, sou net R1 miljoen aan hulle uitbetaal word, en die kliënt sou self die oorblywende bedrag moes dek. Die rede hiervoor is dat die kliënt met 50% onderverseker was.

Indien die kliënt net vir ʼn gedeeltelike verlies hoef te eis, sal die uitbetaling op dieselfde grondslag bereken word. Oorweeg ʼn scenario waar die kliënt, wie se huis vir R1 miljoen verseker is terwyl die werklike waarde R2 miljoen is, vir ʼn gedeeltelike verlies van R400 000 wil eis. In hierdie geval sal die kliënt se versekerde waarde deur die werklike waarde gedeel word, en vermenigvuldig word met die bedrag van die gedeeltelike eis, en tot ʼn uitbetaling van slegs R200 000 lei. Dan sou die kliënt weer self vir die oorblywende 50% moes opdok. Hierdie berekenings sal verskil na gelang van met hoeveel ʼn kliënt onderverseker is.

Gevalle soos hierdie kan vir beide individue en besighede ernstige finansiële gevolge inhou oor die lang termyn. ʼn Soortgelyke beginsel sou geld vir die versekering van jou huisinhoud. Maak dus seker dat jy nie hiervoor onderverseker is nie.

Die goeie nuus is dat dit vermy kan word

Om onderversekering te vermy, is dit uiters belangrik om ʼn duidelike begrip te hê van hoe die versekerde bedrag bepaal word en die polisvoorwaardes deeglik te bestudeer, met die hulp en leiding van ʼn versekeringsadviseur.

In die geval van eiendom sal ʼn eiendomswaardasie deur ʼn gekwalifiseerde opmeter verseker dat die versekerde bedrag ʼn akkurate weergawe van die gebou se waarde is namate dit mettertyd toeneem. Dit behoort ook standaardpraktyk te wees om die inventaris van jou huisinhoud gereeld te hersien en seker te maak elke bate – van breekgoed en messegoed tot items in die motorhuis en klere – is by die dekkingsbedrag ingesluit.

Met groot nuwe aankope of verbouings wat die waarde van die eiendom verhoog, moet hierdie aanpassings aan jou versekeraar of makelaar deurgegee word, wat jou insig sal gee in hoe die versekerde bedrag aangepas moet word.

Voorts moet alle waardasies van bates soos juweliersware, huise en antieke meubels bygewerk word om die jongste vervangingswaardes te weerspieël. Om hierdie proses makliker te maak, verskaf sommige versekeraars kontrolelyste as nuttige riglyne om te verhoed dat spesifieke items oor die hoof gesien word in jou dekking.

Gereelde polishersienings is ʼn hoogs doeltreffende manier om onderversekering en die gepaardgaande slaggate te vermy. Met hersienings kry kliënte die waardevolle geleentheid om enige veranderings wat in hul lewe plaasgevind het, soos leefstylveranderings of belangrike gebeurtenisse, te evalueer.

Verskeie faktore moet in hierdie hersieningsessies oorweeg word, in vennootskap met ʼn adviseur wat veranderings in die polisbewoording of bygewerkte voorwaardes kan verduidelik. Oor die algemeen is ʼn proaktiewe benadering deurslaggewend om ingeligte besluite te neem wat jou ontwikkelende versekeringsbehoeftes in ag neem en sal help verseker dat jy genoeg dekking het.

Recommended news

Card image cap
InsureInShort
The risks of being underinsured – and how to avoid it

Read more
Card image cap
InsureInShortAfrikaans
Risiko’s en die landskap van eiendomsverhuring: ʼn kykie na die dinamika van verhuurder-huurder-versekering

Read more
Card image cap
InsureEnglishInShort
The first-time car buyer’s guide to insurance

The world of car insurance can be confusing to navigate for first-time car buyers, as there is already so much to consider when selecting the right car and deal. Ultimately, insurance provides a safety net that returns you to the same financial position you were in before an incident occurred. For many, this safety net could make the world of difference when the unexpected happens.

Read more
Card image cap
InsureInShortAfrikaans
ʼn Vierpunt-gids oor versekering vir eerstekeer-huiskopers

Huis koop is een van die grootste beleggings wat die meeste mense in hul leeftyd sal aangaan, en dit kan redelik stresvol wees. Daar is baie aspekte om te oorweeg voordat die kontrak geteken word: huislenings, oordragkoste, verbandregistrasie, en natuurlik versekering.

Read more
PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2025 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us