November 2024
PSG Insure
Eskom se voorstel dat kragtariewe vir 2025 met 36% verhoog word, beteken Suid-Afrikaners kan binnekort ʼn skerp styging in elektrisiteitskoste verwag, wat begrotings sal raak. Ondanks die feit dat die mylpaal van 200 dae sonder beurtkrag verbygesteek is, wend baie huis- en sake-eienaars hulle nog steeds tot alternatiewe energiebronne om koste laag te hou en bestendige kragvoorsiening te verseker.
Sonkrag bly ʼn gewilde keuse in hierdie verband, met die belofte van laer energiekoste oor die lang termyn, maar daar is versekeringsimplikasies wat oorweeg moet word. Hoewel dit aanvanklik duur is, voeg die installering van sonpanele waarde toe tot ʼn eiendom, en dit beteken jou versekeringspolis moet aangepas word om dit te weerspieël.
• Huiseienaars moet seker maak dat die waarde van hul eiendom in ooreenstemming met die installeringskoste aangepas word, omdat onderversekering tot beduidende tekorte kan lei indien ʼn eis ingestel moet word. Dit is ook uiters belangrik om ʼn gekwalifiseerde installeringsmaatskappy te gebruik wat aan die regulasies voldoen. Dit sal die risiko van foutiewe werking verminder en verseker dat alle regulasies nagekom word, wat ook ʼn eis sal ondersteun indien ʼn kwessie ontstaan.
• Vir besighede is hierdie aanpassings net so belangrik. Die installering van sonpanele kan ʼn beduidende belegging wees, wat wesenlike waarde tot die perseel toevoeg. Enige nuwe toevoeging soos hierdie moet aan jou versekeringsadviseur gekommunikeer word. Die adviseur kan dan toesien dat hierdie verbeterings akkuraat in jou polis weerspieël word om jou belegging in alternatiewe energie te beskerm. Dis belangrik dat jou kragvoorsieningsplanne by jou besigheidsprosesse ingereken word, om seker te maak al jou personeel weet hoe om nuwe toestelle te bedryf en in stand te hou.
Sonpanele raak ook ʼn al hoe groter teiken vir misdadigers, volgens die SAPS. Diefstal van hierdie panele hou ʼn lonende swartmark aan die gang, en is ʼn sterk aansporing om jou sonpanele te verseker. Dit is belangrik om voorsorgmaatreëls te tref met diefwerings- en verdere veiligheidsmeganismes.
Is addisionele dekking vir ander alternatiewe kragbronne nodig?
Wisselrigters (inverters), batterypakke, kragopwekkers en sonkragstelsels kan tot jou redding kom tydens kragonderbrekings, maar hulle moet by jou polis ingesluit word om onverwagte koste te vermy. Bevestig met jou versekeringsadviseur hoeveel dekking jy nodig het, en wat die risikobestuursvereistes is, soos waarborge en bewys van voldoening aan installeringstandaarde.
Wat van kragstuwings?
ʼn Kragstuwing is ʼn skielike, skerp toename in stroomspanning wat toestelle kan beskadig. As jy in ʼn omgewing bly waar kragvermindering dikwels voorkom, word beskerming teen kragstuwings asook versekering daarvoor aanbeveel. Kragvermindering word in sommige dele van Suid-Afrika toegepas, waar krag vir ʼn beperkte tyd in spesifieke areas onderbreek word, selfs al is beurtkrag ʼn baie kleiner probleem in vergelyking met ons ervaring verlede jaar.
Polisse het voorheen outomaties kragstuwings tot ʼn sekere perk gedek, maar dit is nie meer ʼn standaardpraktyk nie. Deesdae is ʼn addisionele premie oor die algemeen betaalbaar vir hierdie soort dekking. Jou versekeringsadviseur kan jou help om hierdie opsies na te gaan en te verstaan, sodat jy teen onverwagte herstelkoste weens kragstuwings of onbestendige kragtoevoer beskerm kan word.
Brand is ʼn algemene probleem in die geval van kragstuwings, en daarom is dit belangrik om jou eiendom ten volle te laat verseker – van die struktuur tot die inhoud binne-in.
Beurtkrag en netwerkonderbrekings, wat nie meer so ʼn groot bedreiging inhou soos voorheen nie, word nie deur versekering gedek nie. Dit onderstreep net weer die langtermynvoordele van alternatiewe energie. Hierdie installerings moet egter op die regte wyse verseker word om jou belegging te beskerm. Daarom is dit nodig om met jou versekeringsadviseur hieroor te gesels.
Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.