Sorgplig: Kyk mooi na jou sleutels en jou motor se veiligheid

Sorgplig: Kyk mooi na jou sleutels en jou motor se veiligheid

Jou motorsleutels is nie net daar om jou enjin aan die gang te kry nie, maar ook om jou voertuig se veiligheid te verseker. Baie van ons oorhandig dikwels die sleutels sonder om twee keer te dink oor wat kan gebeur, maar vandag kan ʼn bietjie ekstra versigtigheid baie help om diefstal, verlies of onverwagte versekeringskwessies te verhoed.

Volgens ʼn verslag deur TopAuto is daar tussen Oktober en Desember 2024 alleen 7 791 gevalle van motor- en motorfietsdiefstal aangemeld, wat beteken dat gemiddeld 85 voertuie per dag gesteel is.

Hier is ʼn paar scenario’s om te oorweeg, om meer bewus te wees van waar jy jou sleutels bêre om jou voertuig veilig te hou.

Motorwassery: Wie hou jou sleutels?
ʼn Vinnige besoek aan die motorwassery is vir baie van ons ʼn weeklikse roetine, maar het jy al ooit daaraan gedink wat met jou sleutels gebeur terwyl jou motor skoongemaak word? As jy jou sleutels oorhandig sonder om te weet waar hulle gehou word, kan jou voertuig aan die risiko van diefstal blootgestel wees. Dit is jou verantwoordelikheid om prioriteit te gee aan jou voertuig se veiligheid. Hou in gedagte dat misdadigers kan probeer om jou sleutels in die hande te kry onder die voorwendsel dat hulle weet wie jy is, of dat hulle by die motorwassery werk waar jy jou voertuig los. Die beste is om altyd ʼn betroubare motorwassery te kies wat duidelike veiligheidsmaatreëls en -protokolle het.

Vervoer tussen provinsies: Let op die fyner bepalings
As jy jou voertuig op ʼn vragwa tussen provinsies laat vervoer, neem jy miskien aan dat die logistieke maatskappy se versekering jou daarvoor dek. Maar sê nou daar is ʼn ernstige ongeluk of jou motor word in transito beskadig? Die beste is altyd om jou adviseur in te lig voordat jou voertuig vervoer word, om seker te maak daar is nie leemtes in die dekking wat jou geld uit die sak kan jaag nie. Voor jy jou motor laat gaan, bevestig eers of dit vir vervoer deur die land gedek is. Wanneer jou motor sy nuwe bestemming bereik het, moenie vergeet om sy nuwe risiko-adres te spesifiseer nie.

Lughawe-parkering: Meer as net ʼn parkeerplek
Dis gerieflik om jou motor ʼn tyd lank by die lughawe te los, maar as dit behels dat jy die sleutels aan ʼn persoon oorhandig om die motor te parkeer of te skuif, bestaan die risiko van skade of selfs diefstal. Gesels voor jou reis met jou adviseur, om seker te maak dat jy vir enige onverwagte insidente gedek is, en dat jy omvattende dekking het.

Oorhandiging van die sleutels ná ʼn aand uit
ʼn Aangewese bestuurder wat jou motor gebruik, is ʼn goeie idee, maar net as jy omvattende dekking het. Baie omvattende polisse dek addisionele gelisensieerde bestuurders, maar dis veiliger om dit net eers te bevestig. Nog ʼn beter opsie is om by jou adviseur uit te vind of jou polis dienste vir ʼn veilige rit huis toe aanbied. Onthou, as jy agter die stuur is nadat jy gedrink het en in ʼn ongeluk beland, kan jou eis afgewys word weens bestuur onder die invloed. Moet dus nie die risiko loop nie.

Dekking vir sleutels: Wat dit jou kos as jy jou sleutels verloor
Verlore sleutels is nie net ongerieflik nie – dit kan ook ʼn duur probleem wees. Moderne voertuigsleutels met gevorderde tegnologie beteken dis duur om te vervang. Sommige versekeringspolisse bied alle risiko-dekking, wat kan help om die vervangingskoste van verlore of gesteelde sleutels te dek. Maak dus seker dat jy hierdie dekking het, om nie onverwags ʼn finansiële knou te kry nie.

Jou voertuig se veiligheid begin met hoe jy jou sleutels hanteer. Jy kan onnodige risiko’s en finansiële terugslae vermy deur eenvoudige voorsorgmaatreëls te tref en seker te maak dat jy die regte versekeringsdekking het. Nie seker of jy ten volle gedek is nie? Gesels met jou adviseur om voor te bly.

Recommended news

Card image cap
InsureInShortAfrikaans
Hoekom ontvoer- en losprysversekering vandag noodsaaklik is

Read more
Card image cap
InsureInShort
Why kidnap and ransom insurance is essential today

Read more
Card image cap
InsureInShortAfrikaans
Brandveiligheid moet ʼn topprioriteit vir jou besigheid wees

Read more
PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2025 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us