Fraudulent Telegram and WhatsApp groups
Please beware of fraudulent Telegram and WhatsApp groups impersonating PSG Financial Services, our divisions and our advisers. Be cautious, verify links and contact your adviser or Client Services if you have any queries or concerns.
December 2025

PSG Insure

“ Behoorlike beplanning – en ʼn paar praktiese voorsorgmaatreëls – voor jou reis kan ʼn wêreld se verskil maak. ”
Terwyl die jaar einde se kant toe staan, begin Suid-Afrikaners gereed maak vir die langpad om by vriende en familie regoor die land te gaan kuier. Die swaarder verkeer en hoër voorkoms van padongelukke beteken egter ook dat die feestyd groter risiko’s inhou.
Behoorlike beplanning – en ʼn paar praktiese voorsorgmaatreëls – voor jou reis kan ʼn wêreld se verskil maak. Hier is vyf noodsaaklike versekerings- en veiligheidswenke om in gedagte te hou voordat jy die pad vat vir die vakansie.
1. Maak seker jou voertuig is 100% veilig en padwaardig
Voordat jy vertrek, maak tyd om te sorg dat jou voertuig padwaardig is. Gaan jou bande (ook die noodband), remme, ruitveërs, ligte en vloeistofvlakke na. ʼn Geringe meganiese defek kan vinnig ʼn groot probleem raak op ʼn lang reis, veral in afgeleë gebiede. Maak ʼn afspraak om jou voertuig behoorlik te laat diens as dit nou tyd is, en sorg dat jou noodkissie al die nodige items insluit, soos ʼn driehoek, flits, oorleikabels, water en ʼn noodhulpkissie.
Maak ook seker dat jou lisensieskyfie en voertuigregistrasie op datum is. Indien jy ʼn sleep- of woonwa sleep, maak dubbeld seker hulle is padwaardig en dat die bande en ligte in ʼn goeie toestand is. Hierdie aksies is klein beleggings in veiligheid sowel as gemoedsrus.
2. Maak voorsiening vir die onverwagte
Selfs die bes beplande reise kan deur ongelukke, onklaarraking of skielike veranderings in weerstoestande ontwrig word. Maak seker jy is gereed vir noodgevalle, deur noodsaaklike items soos ʼn ten volle gelaaide foon en kragbank, basiese gereedskap en noodkontaknommers byderhand te hou – insluitend kontakbesonderhede vir jou versekeringsadviseur, padbystand en mediese hulp.
As jy deur onbekende of afgeleë gebiede reis, deel jou roete en verwagte aankomstyd met iemand wat jy vertrou. Beplanning vir daardie “sê nou maar”-oomblikke verseker dat jy veilig kan bly en vinnig hulp kan kry indien iets verkeerd loop.
3. Weet wat om te doen indien jy in ʼn ongeluk beland
In die chaos na ʼn botsing is dit belangrik om kalm te bly en die regte prosedure te volg. Kyk eers of daar beserings is en bel nooddienste indien nodig. Beweeg voertuie uit die pad van verkeer indien moontlik, en ruil besonderhede uit met al die betrokke partye – insluitend registrasienommers, ID- en bestuurslisensie-besonderhede, en versekeringsinligting.
Pas op vir ongeverifieerde insleepdienste. Kontak jou adviseur of versekeraar se gemagtigde insleepvennoot voordat jy enigiemand toelaat om jou voertuig te verwyder. Indien ʼn nie-goedgekeurde diens gebruik word, kan dit addisionele koste of komplikasies meebring wanneer ʼn eis ingedien word.
4. Moenie onder die invloed bestuur nie – of iemand anders toelaat om dit te doen nie
Ongelukkig gaan die feestyd gepaard met ʼn toename in alkoholverwante ongelukke. Moet nooit bestuur as jy gedrink het nie, en beplan vooruit deur ʼn aangewese bestuurder of saamrydiens te reël. Baie versekeraars bied “neem-my-huis-toe”- of chauffeurvoordele as deel van hul waardetoegevoegde dienste, wat jou in staat stel om veilig by die huis te kom sonder om jouself én ander in gevaar te stel.
Indien jy vriende of familie onthaal, moedig verantwoordelike bestuursgewoontes aan en help om vervoer te reël indien nodig. Die gevolge van dronkbestuur is eenvoudig nie die risiko werd nie – hetsy finansieel, emosioneel of wat die regsgevolge daarvan betref.
5. Gesels met jou adviseur
Of jy nou ʼn ander provinsie besoek of naby die huis vakansie hou, is dit die moeite werd om met jou versekeraar of adviseur in aanraking te kom om seker te maak dat jou polisse op datum is en dat jy die regte vlak van beskerming vir jou voertuig en reisplanne het. Gaan na of jou dekking padbystand, insleep- en motorhuur-opsies insluit, en bevestig met wie jy in aanraking kan kom in ʼn noodgeval of na ʼn ongeluk.
Jou adviseur kan jou ook advies gee oor addisionele voordele waarvan jy dalk nie bewus is nie, soos noodverblyf, mediese ontruiming of die dienste van ʼn aangewese bestuurder. As jy ʼn paar minute afknyp om jou dekking na te gaan voordat jy in die pad val, sal dit jou help om duur verrassings te vermy – en jou gemoedsrus gee in die wete dat jy volle beskerming het vir die feestyd.
Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.





