Huureiendom: Gemeubileerd vs Ongemeubileerd | PSG

Fraudulent Telegram and WhatsApp groups 
Please beware of fraudulent Telegram and WhatsApp groups impersonating PSG Financial Services, our divisions and our advisers. Be cautious, verify links and contact your adviser or Client Services if you have any queries or concerns.

Gemeubileerde, halfgemeubileerde of ongemeubileerde eiendom? Noodsaaklike versekeringselemente vir huureiendomme

Suid-Afrika se residensiële huurmark blom. Volgens die PayProp-huurindeks het nasionale huurgroei tot 5.6% gestyg in die eerste kwartaal van 2025 – die sterkste kwartaallikse styging in bykans agt jaar.

Hierdie groter vraag het gelei tot ʼn toename in eiendomme wat gehuur, verhuur of in besighede soos Airbnb-eenhede of bed-en-ontbyt-ondernemings omskep word. Wat baie verhuurders, huurders, B&O-eienaars of Airbnb-gashere egter nie besef nie, is hoe die meubilering in ʼn eiendom versekeringsbehoeftes beduidend kan beïnvloed.

Ongemeubileerde eiendomme

Ongemeubileerde eiendomme sluit gewoonlik losgoed soos meubels en toestelle uit, en huurders moet hul eie inbring. Vir verhuurders beteken dit dat geboueversekering nodig is om strukturele risiko’s soos waterpype wat bars, brandskade of stormverwante insidente te dek. Daarby is ʼn uitbreiding ten opsigte van gemeenregtelike aanspreeklikheid nodig vir beskerming teen derdeparty-eise – bv. indien ʼn huurder of besoeker ʼn besering opdoen weens nalatigheid op die perseel.

Eiendomsbesitters het ook aanspreeklikheidsdekking nodig vir beskerming teen derdeparty-eise. Indien die huurder of besoeker se eiendom beskadig word weens ʼn gebeurtenis wat met die gebou verband hou – bv. as ʼn verhuurder nie die eiendom behoorlik in stand hou nie en ʼn dakteël word deur die wind losgeruk en beskadig ʼn voertuig – moet die eienaar van die eiendom die nodige aanspreeklikheidsversekering hê om sulke skade te kan dek.

ʼn Groot wanopvatting onder huurders is dat die verhuurder se polis hul besittings sal dek, maar dit is nie die geval nie. Dit beteken huurders moet hul eie inhoudversekering aangaan om items soos elektroniese toerusting en kombuistoestelle te dek. Indien ʼn warmwatersilinder byvoorbeeld bars en jou TV beskadig, kan jy net eis as jy behoorlik verseker is. Die verhuurder se polis sal waarskynlik net gepaardgaande strukturele skade dek.

Halfgemeubileerde eiendomme

Halfgemeubileerde eiendomme sluit noodsaaklike toestelle soos ʼn yskas, wasmasjien of ʼn eetkamerstel in. In hierdie gevalle neem verhuurders benewens die standaard-geboueversekering ook inhoudversekering uit, of sluit die inhoud in as deel van die huurooreenkoms. ʼn Omvattende inventaris van hierdie items is van kardinale belang. Elke item moet gedokumenteer word en die vervangingswaarde daarvan insluit.

Die meeste eiendomsbesitters sal hierdie items as deel van die huurooreenkoms insluit, waar elke item gedokumenteer moet word om die vervangingswaarde daarvan te weerspieël. Dit sal gewoonlik die verantwoordelikheid om hierdie items te verseker op die huurder plaas, wat vir hierdie items aanspreeklik gehou kan word wanneer die huurooreenkoms eindig.

Intussen bly huurders verantwoordelik vir dekking van hul eie besittings. As jy dus ʼn topgehalte luidsprekerstelsel of persoonlike elektroniese toerusting inbring, maak seker dat jy hierdie items in jou polis spesifiseer, en oorweeg om hulle by alle risiko-dekking in te sluit as jy hulle saamneem wanneer jy die eiendom verlaat.

Gemeubileerde eiendomme

Verhuurders het die grootste blootstelling in die geval van ten volle gemeubileerde eiendomme – hetsy wanneer dit op ʼn langtermyngrondslag verhuur of op Airbnb gelys word. Hier is ʼn omvattende inhoudpolis onontbeerlik. Elke item – van bedlinne tot TV’s – moet teen die huidige vervangingswaarde verseker word. As jy ʼn Airbnb-gasheer is, maak seker jou polis dek verskillende adresse as jy veelvoudige risiko’s het. Dit sluit jou huis én die huureiendom in, indien van toepassing. Dit is ook belangrik om ʼn bygewerkte inventaris te hou van alle items wat by die versekeringspolis ingesluit is, en dat dit die vervangingswaarde van elke item weerspieël.

Korttermyn-verhurings hou ook ʼn groter risiko in vir diefstal en toevallige skade. Uiteraard het Airbnb-gashere dikwels te kampe met uitsluitings vir diefstal sonder gewelddadige toegang of skade wat deur gaste veroorsaak word. Boonop is dekking, volgens standaardversekeringsreëls vir Airbnb’s, moontlik net van toepassing indien jy permanent in die eiendom bly en die getal gaste tot minder as ses volwassenes beperk.

Selfs wanneer die eiendom ten volle gemeubileer is, moet huurders nog steeds waardevolle items wat hulle inbring dek. ʼn Huurder se rekenaar, kamera of ontwerperskoffiemasjien sal nie by die verhuurder se polis ingesluit wees nie. Dit kan nodig wees om dit as ʼn afsonderlike item by inhoudsdekking of alle risiko-dekking in te sluit.

Dit is ook belangrik om te verstaan dat ʼn standaard plaaslike versekeringspolis gewoonlik nie aanspreeklikheid dek wat ten opsigte van betalende gaste ontstaan nie. As jy jou eiendom op Airbnb lys of ʼn gastehuis bedryf, sal jy kommersiële aanspreeklikheidsversekering nodig hê wat spesifiek ontwerp is om korttermyn- of gasvryheid-verwante verblyf dek. Dit raak veral van kritieke belang in die geval van internasionale gaste, wat eise in buitelandse valuta kan indien. Indien die eiendom as ʼn Airbnb of B&O-plek verhuur word, is dit uiters belangrik dat die eienaar van die eiendom ʼn vrywaringsklousule in plek het wat gaste in kennis stel dat die B&O of Airbnb nie verantwoordelikheid vir hul besittings kan aanvaar nie, en gaste moet ekstra voorsorg tref wanneer hulle hul besittings sonder toesig laat.

Indien etes as deel van ʼn gas se verblyf verskaf word, is produkaanspreeklikheidsdekking noodsaaklik om die eienaar teen risiko’s soos voedselvergiftiging te beskerm. Verder kan aanspreeklikheidsversekering uitgebrei word met dekking vir die optrede van personeel of werknemers – as ʼn kelner byvoorbeeld struikel en warm koffie op ʼn gas stort, kan die eienaar regtens aanspreeklik gehou word. Hierdie scenario’s lyk miskien seldsaam, maar by gebrek aan die regte dekking kan regs- en mediese eise verpletterende finansiële gevolge hê.

Met die regte polisse en kundige advies kan die verhuring van eiendom – hetsy gemeubileer of nie – ʼn besonder lonende onderneming wees in die huidige mark. Die geheim is egter om ʼn begrip te hê van die spesifieke risiko’s waaraan jy blootgestel is, en jou dekking daarvolgens aan te pas. ʼn Ervare adviseur kan jou help om deur die uitsluitings te werk, onderversekering te vermy, en seker te maak dat jou polis nommerpas is vir jou tipe eiendom.

Recommended news

Card image cap
InsureInShortAfrikaans
Topwenke vir SA huiseienaars: Wat jy kan doen om jou versekeringseis makliker te laat verwerk

Read more
Card image cap
InsureInShort
Top tips for SA homeowners: What you can do to help your insurer process your claim

Read more
Card image cap
InsureInShortAfrikaans
Sorgplig: Kyk mooi na jou sleutels en jou motor se veiligheid

Read more
PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2026 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us