Short-Term Advisers: Safeguarding Businesses | PSG

Fraudulent Telegram and WhatsApp groups 
Please beware of fraudulent Telegram and WhatsApp groups impersonating PSG Financial Services, our divisions and our advisers. Be cautious, verify links and contact your adviser or Client Services if you have any queries or concerns.

Simpel foute wat veroorsaak dat versekeringseise afgewys word – en hoe om hulle te vermy

Deur Ryno de Kock, Hoof van Distribusie by PSG Insure

Daar is ʼn algemene wanopvatting dat eise suksesvol sal wees as jy versekering het. Premies word immers elke maand betaal met die verwagting dat die polis sal inskop wanneer iets verkeerd loop. Eise kan egter om ander redes as ingewikkelde detail in die kontrak afgekeur word, soos algemene aannames oor wat gedek word, hoe polisse werk, of hoe insidente gerapporteer moet word.

Om seker te maak dat jou eis nie afgekeur word nie, vermy hierdie vyf algemene foute wat polishouers begaan:

1. Wanbegrip van polisuitsluitings

ʼn Verslag deur die Ombudsman vir Korttermynversekering toon dat polisuitsluitings die hoofrede is waarom versekeringseise afgekeur word. Baie polishouers kyk uitsluitings mis of lees nie hul poliskontrak noukeurig deur nie. Dit kan ongelukkig in die eisstadium tot groot teleurstelling lei wanneer hulle uitvind dat hulle nie vir ʼn spesifieke gebeurtenis gedek is nie. Basiese huisversekeringspolisse kan byvoorbeeld skade weens natuurrampe uitsluit, terwyl baie sakeversekeringspolisse nie kuberdekking insluit nie. ʼn Versekeringsadviseur speel ʼn belangrike rol om leiding te gee oor sulke aspekte.

2. ʼn Gebrek aan sorgplig, instandhouding of slytasie

Hoewel versekering jou eiendom beskerm, is dit nie ʼn plaasvervanger vir gereelde instandhouding nie. Eise wat gekoppel is aan afgeskeepte instandhouding – soos daklekke wat nie herstel word nie, foutiewe bedrading of nie-funksionele alarmstelsels – kan verminder of afgekeur word.

Indien skade te wyte is aan swak instandhouding of pligsversuim, kan die versekeraar bepaal dat die verlies voorkombaar was. Vir besighede kan dit van toepassing wees op nakomingsvereistes soos brandveiligheidsmaatreëls, veiligheidsprotokolle en instandhouding van toerusting.

3. Onakkurate of verouderde inligting

Onderversekering bly ʼn belangrike kwessie wat beide persoonlike en kommersiële versekering betref. Wanneer bates vir minder as hul werklike vervangingswaarde verseker word, kan versekeraars die eweredigheidsklousule toepas, wat tot ʼn verminderde uitbetaling lei. In ʼn omgewing van stygende koste is gereelde hersienings noodsaaklik, om te verseker dat dekking tred hou met die werklikheid.

Dit is net so belangrik om seker te maak dat alle wesenlike inligting akkuraat weergegee word in die aansoekstadium, en bygewerk word wanneer omstandighede verander. Dit sluit opknappings, aankope van nuwe toerusting, groter voorraadvlakke, veranderings in besigheidsfunksies, of wysigings van veiligheidsmaatreëls in. In die eisstadium moet polishouers ook stawende dokumente soos bewys van eienaarskap, fakture, waardasies en instandhoudingsrekords verskaf waar nodig. Onvolledige of onakkurate openbaarmakings kan tot dispute, vertragings of laer uitbetalings lei.

4. Uitgestelde rapportering

Aangesien die meeste polisse vereis dat insidente binne ʼn spesifieke tyd gerapporteer word, kan ʼn eis gekompliseer of ongeldig verklaar word indien jy te lank wag om jou versekeraar in kennis te stel. In gevalle van diefstal, aanspreeklikheid of kommersiële verlies, kan uitgestelde rapportering ook ondersoeke en herwinningspogings affekteer. Die beste benadering is om jou versekeraar of adviseur onmiddellik in kennis te stel en hulle toe te laat om leiding te gee oor die stappe wat gevolg moet word.

5. Opbetaalde premies

Dit lyk miskien voor die hand liggend, maar polisse wat weens onbetaalde premies verval het, is dikwels ʼn oorsaak van eise wat afgekeur word. Indien ʼn premie nie binne die ooreengekome grasietydperk betaal word nie, kan dekking opgeskort of heeltemal gekanselleer word. Hoewel outomatiese debietorders hierdie risiko verminder, moet polishouers nog steeds betalings monitor en seker maak dat premies betyds betaal word.

Op die ou end is versekering eerder ʼn proaktiewe risikobestuurshulpmiddel as ʼn reaktiewe veiligheidsnet. Polishouers moet uit die staanspoor presies weet waarvoor hulle dekking het, en net so belangrik, wat uitgesluit word – lank voordat hulle ooit ʼn eis moet indien. As jy tyd maak om jou polis te hersien, vrae te vra en onduidelikhede met jou adviseur uit te klaar, kan dit duur misverstande voorkom en verhoed dat jy onaangename verrassings kry wanneer jy jou versekering die nodigste het.

Recommended news

Card image cap
InsureInShortAfrikaans
Die onmisbare rol van korttermyn-versekeringsadviseurs om besighede teen ontwrigtings te beskerm

Read more
Card image cap
InsureInShortAfrikaans
Veilige hantering van chemikalieë en voldoening gaan saam met jou versekering

Read more
Card image cap
InsureInShortAfrikaans
Belangrike versekeringsoorwegings vir vooruitstrewende entrepreneurs

Read more
Card image cap
InsureInShort
Rising temperatures, rising risks: why adequate cover has become critical

Read more
PSG Financial Services +27 (21) 918 7800

Stay Informed

Sign up for our newsletters and receive information on finance.

©2026 PSG Financial Services Limited. All rights reserved. Affiliates of PSG Financial Services, a licensed controlling company, are authorised financial services providers.
Message us