June 2024
PSG Insure
Om ʼn nuwe besigheid te begin, is vir enige ambisieuse entrepreneur ʼn opwindende proses. Die lekker deel sluit in om aanvanklik te besluit wat jy wil doen, en hoe en waar jy jou besigheid wil bedryf. Hoewel dit ʼn opwindende reis is, moet jy egter seker maak dat jy jou besigheid met die regte soort versekering beskerm sodra dit op dreef is.
ʼn Adviseur is die beste toegerus om jou unieke behoeftes te bepaal en die verskillende risiko’s te identifiseer wat jou werksaamhede kan ontwrig of selfs jou besigheid kan kelder as jy nie beskerming in plek het nie. Versekering is miskien een van die onopwindendste stappe om ʼn florerende handelsmerk op te bou, maar kan nietemin die grootste waarde inhou wanneer die onverwagte gebeur.
Die spesifieke risiko’s waaraan jou besigheid blootgestel is, sal uiteindelik bepaal word deur die bedryf waarin jy werksaam is. Elke besigheidseienaar is egter aan sakekontinuïteitsrisiko blootgestel weens onvoorsiene gebeurlikhede, bedrog, kubermisdaad en ander faktore wat hulle kan teëkom.
Kommersiële versekering gee jou gemoedsrus, en met die hulp van ʼn adviseur kan jy ʼn robuuste strategie opstel om jou jongste projek en bates te beskerm, wat gerusstelling sal verskaf indien ʼn ramp jou tref.
Wees toekomsgereed
Dink aan die dak oor jou kop, asook alles onder jou dak, en of hierdie items vir hul werklike vervangingswaarde verseker is. Hierdie faktore raak gewoonlik elke jaar groter, namate lewenskoste (en herboukoste) styg. Jy het genoeg kommersiële geboueversekering nodig om jou perseel te beskerm in die geval van ʼn brand of oorstroming, of as ʼn geiser bars en jou kantoor of voorraad vernietig. Genoeg inhoudsdekking is ook nodig vir die besigheid, om werksaamhede aan die gang te hou indien sekere toerusting beskadig of gesteel word. En moenie vergeet van alle risiko-dekking vir items wat jy saamneem werk toe nie, wat dikwels noodsaaklike toerusting of toestelle is waarsonder jy nie jou besigheid kan bedryf nie.
Wees gereed vir regsgevolge
Oorweeg ook aanspreeklikheidsversekering ingeval ʼn derdeparty-eis teen jou ingestel word – byvoorbeeld indien jy weens onvoorsiene omstandighede nie ʼn ooreengekome verpligting teen die sperdatum van die kontrak kon nakom nie en jou kliënt gevolglik ʼn verlies ly. Indien jou kliënt jou hiervoor dagvaar, hoe sal jy die gepaardgaande koste hanteer? Kontraktuele aanspreeklikheidsversekering dek jou vir hierdie soort scenario’s.
Sakeonderbrekingsdekking is bedoel vir onvoorsiene kwessies wat jou verhoed om jou sake soos gewoonlik te bedryf. Met hierdie dekking kan jy verseker dat jou sakeonderneming veerkragtig is en nog lank kan voortbestaan.
Na gelang van hoe groot jou span is, kan sleutelpersoonversekering beskerming bied in die geval van sterfte, ongeskiktheid of ernstige siekte, en help verseker dat jou besigheid in hierdie moeilike omstandighede aan die gang bly. Hoewel dit nie aangenaam is om aan sulke gebeurlikhede te dink nie, is dit beter om voorbereid te wees vir die onvoorsiene.
Wees bewus van bedrog
Terwyl baie besighede aanlyn bedryf word – of dit nou die vernaamste wyse is waarop kliënte bedien word, of bloot gebruik word om werksaamhede te bedryf – raak kuberrisiko ʼn moontlikheid die oomblik wanneer hulle aanlyn werksaam is. Hoewel sommige besighede groter teikens vir kuberaanvalle is, soos databasisse wat ʼn ryk bron van persoonlike of finansiële inligting is, maak die grootte van die besigheid nie regtig saak nie – misdadigers bly uitgeslape en desperaat. As jy data het wat gesteel kan word, loop jy ʼn risiko. Daarom moet beskermingsmaatreëls teen toegang tot die data in plek wees, asook kuberversekeringsdekking om die impak van ʼn sekuriteitskending te bestuur.
Ongelukkig kan misdaad of bedrog ook van binne kom, wanneer dit deur ʼn oneerlike werknemer gepleeg word. Getrouheidswaarborg versekering kan help om jou besigheid te beskerm teen verliese wat gely word as gevolg van personeel wat jou besigheid besteel of bedrog pleeg. Jou tipe besigheid, personeel- en voorraadvlakke sal ingereken word by die vlak van getrouheidswaarborg versekering wat jy nodig sal hê.
Veral vir klein besighede kan dit baie moeilik wees om van bedrog te herstel, as hulle nie ʼn finansiële veiligheidsnet het nie.
Wees uit die staanspoor voorbereid
Dit is belangrik om te onthou dat die lewe gewoonlik gebeur terwyl jy ander planne maak. Daarom is betroubare en bygewerkte versekering so belangrik, en advies wat jou besigheid en sy unieke risiko’s in ag neem, kan ʼn enorme verskil maak. Jy kan nie voorspel wat voorlê nie, maar jy kan jou handelsmerk versterk deur jou besigheid genoegsaam teen bogenoemde gebeurlikhede te verseker.
Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.