May 2024
PSG Insure
Die kettingreaksie van klimaatsverwante gebeure het tot ʼn merkbare toename in persoonlike en kommersiële versekeringseise gelei – ten opsigte van sakeonderbreking sowel as skade aan eiendom. Dit is vererger deur die impak van verswakkende infrastruktuur soos openbare paaie, water- en sanitasiestelsels. Aangesien uiterste weerstoestande aan die toeneem is, moet huishoudings en besighede seker maak dat hulle die regte versekeringsdekking het wat as ʼn finansiële buffer kan dien wanneer die onverwagte gebeur.
Die wisselwerking tussen klimaatsverandering en infrastruktuur
In Suid-Afrika hou gebeurtenisse wat met uiterste weerstoestande verband hou nie net op sigself ernstige risiko’s in nie, maar plaas ook nog meer druk op reeds wankelende infrastruktuur en openbare dienste, wat die impak daarvan vererger.
ʼn Ontoereikende watervoorsieningstelsel en lekkende pype kan byvoorbeeld waterskaarste vererger, terwyl stormwaterdreineringstelsels miskien nie meer die toenemende reënvalintensiteit doeltreffend kan hanteer nie – veral in stedelike gebiede wat deurentyd groei en ontwikkel.
Bewyse van hierdie domino-effek blyk uit voorbeelde soos die kwaai oorstromings van 2021 in die hele KwaZulu-Natal. Die verwoesting wat stortreën aan huise en besighede aangerig het, het miljarde rande bedra. Verder is verskeie gevalle van ʼn totale ineenstorting van infrastruktuur – insluitend brûe, paaie, water- en sanitasiestelsels – aangemeld.
Aan die ander kant kan hittegolwe wat meer dikwels voorkom, bydra tot al hoe meer veldbrande, wat hul eie risiko’s en uitdagings inhou. Die gebrek aan doeltreffende brandbestrydings-hulpbronne, personeel en toerusting sal die impak en omvang van verliese wat deur beide kommersiële en persoonlike versekeringskliënte gely word, verhoog. Dit gebeur veral in die meer afgeleë gebiede waar brandbestrydingsteun aansienlik langer neem om die toneel te bereik en die situasie in bedwang te bring.
Versekering as ʼn lewensbelangrike veiligheidsnet
Huishoudings en besighede regoor die land het ʼn al hoe groter behoefte om veerkragtigheid teen hierdie ernstige risiko’s op te bou. Een van die grootste bydraers tot hierdie broodnodige veerkragtigheid is versekering. Die regte tipe en vlak van dekking kan as ʼn finansiële veiligheidsnet dien wat die moontlik verwoestende uitwerking van toenemende klimaatsverwante druk kan versag.
Hoewel die huidige ekonomiese landskap baie huishoudings onder finansiële druk plaas, is dit ʼn kortsigtige oplossing om ʼn versekeringspolis te kanselleer of byvoorbeeld die vlak van dekking tot laer as die vervangingswaarde van ʼn huis of kommersiële eiendom te verminder.
In plaas van te besluit om versekering heeltemal te laat vaar, is dit nodig dat huiseienaars en besighede hul versekeringsadviseur raadpleeg en deur die verskillende maatreëls werk wat getref kan word om versekering meer bekostigbaar te maak, en terselfdertyd te verseker dat hulle nog genoeg dekking in plek het.
Besighede moet ook seker maak dat hulle sakeonderbrekingsdekking het om hulle teen verlies van inkomste of wins te beskerm indien hul bates beskadig of vernietig word.
Belangrike risikobestuursmaatreëls
Volgens die bepalings en voorwaardes van versekeringspolisse rus daar gewoonlik ʼn sorgplig op die kliënt om verlies te voorkom. Dit beteken huis- en besigheidseienaars moet hul verantwoordelikheid om onnodige verliese te voorkom, ernstig opneem.
Dakke en geute moet byvoorbeeld behoorlik in stand gehou en skoongemaak word om te verhoed dat stormskade erger raak en skade aan geboue aanrig wat andersins voorkom kon word. Insgelyks is dit raadsaam om toerusting en voertuie in geboue en onder afdakke te stoor, waar hulle minder blootgestel is aan onstuimige weerpatrone – veral as die bepalings en voorwaardes van die polis dit vereis.
Jou versekeringsadviseur is hier om advies en leiding te gee oor hoe om jou polis by jou behoeftes aan te pas, met inagneming van jou unieke omstandighede sowel as bekostigbaarheid. Hierdie rol sal waarskynlik nog waardevoller raak in die toekoms, namate die aard van klimaatsverwante risiko’s duideliker blyk. Versekeringsadviseurs sal onmisbare vennote vir hul kliënte wees, wat hulle help om risiko’s te bepaal en toepaslike verligtingsmaatreëls te identifiseer namate weerpatrone groter uiterstes bereik.
The world of car insurance can be confusing to navigate for first-time car buyers, as there is already so much to consider when selecting the right car and deal. Ultimately, insurance provides a safety net that returns you to the same financial position you were in before an incident occurred. For many, this safety net could make the world of difference when the unexpected happens.
Read moreStay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.