Fraudulent Telegram and WhatsApp groups
Please beware of fraudulent Telegram and WhatsApp groups impersonating PSG Financial Services, our divisions and our advisers. Be cautious, verify links and contact your adviser or Client Services if you have any queries or concerns.
July 2024

PSG Insure

Baie huishoudings regoor Suid-Afrika verdryf die winterkoue met ʼn gesellige vuurtjie. Daarom is dit belangrik om seker te maak jou huis word in die geval van brandskade gedek. Dit is egter net so belangrik om veiligheidspraktyke rondom vuurmaak na te kom, om die gepaardgaande risiko’s te help verminder. Hier is ʼn paar goeie veiligheidswenke om huiseienaars gemoedsrus te gee hierdie winter:
Goeie instandhouding van die skoorsteen
Sommige huiseienaars is gelukkig genoeg om ʼn kaggel te hê. Hoewel baie huiseienaars gereeld hul vuurmaakplek skoonmaak en ontvlambare oorblyfsels en as verwyder, is dit net so belangrik om die skoorsteen in stand te hou. Na gelang van waarmee vuur gemaak word, kan aanpaksels soos roet, as en teer later blokkasies in die skoorsteen veroorsaak. Die opbou van hierdie blokkasies in die skoorsteen kan die uitvloei van gevaarlike neweprodukte en chemikalieë belemmer.
Dit hou nie net ʼn ernstige brandgevaar in nie, maar skadelike gasse soos koolstofmonoksied kan ook die gesondheid van die huisbewoners ernstig aantas. Om teen hierdie risiko’s beskerm te word, moet skoorstene gereeld nagegaan en skoongemaak word – verkieslik voor die koue kom, om potensiële finansiële verliese te voorkom indien jy nie gedek is nie.
Gasveiligheid
Party huise het gaskaggels. Mense wat gas gebruik, moet egter baie versigtig wees met hoe hulle die gaskaggel laat installeer en hoe hulle hul gassilinders stoor.
Die Wet op Beroepsveiligheid en -gesondheid (Wet 85 van 1993) bepaal dat ʼn voldoeningsertifikaat uitgereik moet word met alle gasinstallerings, en moet bevestig dat die kaggel aan veiligheidsvereistes voldoen en nie lek nie. Vermyding van die koste om ʼn gesertifiseerde installeerder te gebruik, lyk miskien na ʼn goeie idee om op korttermyn-uitgawes te besnoei, maar op die lang duur kan dit huiseienaars baie meer kos as wat hulle gereken het.
As hulle byvoorbeeld in die geval van ʼn eis vir brandskade nie ʼn voldoeningsertifikaat kan wys nie, kan dit daartoe lei dat die eis afgewys word. Gebrekkige voldoening kan ook komplikasies en ʼn laer waardasie meebring wanneer huiseienaars later hul eiendom wil verkoop.
Die Wet bevat ook streng reëls wat uiteensit hoe gassilinders gestoor moet word. Gasbottels mag byvoorbeeld nie nader as 1 meter van ʼn deur of venster af, of 2 meter van ʼn drein of lugopening af wees nie. Gasbottels mag ook nie nader as 1 meter van jou eiendom se grensmuur af geïnstalleer word nie. Verder mag basbottels nie nader as 1.5 meter van gloeilampe en 5 meter van ʼn elektriese of propskakelaar af wees nie. Verseker liewer voldoening aan al die vereistes deur uit die staanspoor ʼn gekwalifiseerde installeerder te gebruik.
Veiligheidsmaatreëls vir grasdakke
Baie huiseienaars het ʼn grasdak in hul onthaalarea en Suid-Afrikaners is bekend vir hul voorliefde vir braai. ʼn Grasdak kan egter baie gevaarlik wees en ʼn brand vinnig laat versprei. Die versekeringsmark het sy kapasiteit en blootstelling ten opsigte van versekering vir grasdak-eiendomme ingekort. Daarom word aanbeveel dat huiseienaars hul grasdakke in stand hou en gereeld nagaan vir verrotting, mos, swamme, alge en aanpaksels – veral in die boonste lae van die struktuur.
ʼn Grasdakspesialis sal advies kan gee oor hoe om die struktuur so droog as moontlik te hou en hoe dikwels dit skoongemaak moet word – gewoonlik elke vyf tot agt jaar.
Party huiseienaars probeer hul huis en waardevolle bates beskerm deur ekstra voorsorgmaatreëls te tref – soos die installering van sprinkelstelsels, rookverklikkers, draagbare brandblussers en ander brandbestrydingstoerusting. Hierdie veiligheidsmeganismes verg natuurlik ook instandhouding en voldoening aan sekere vereistes.
Gesels met die kenners
Noue samewerking met ʼn versekeringsadviseur op wie jy kan staatmaak, is belangrik. Hierdie persoon kan jou help om die bepalings en voorwaardes van jou polis te verstaan en te verseker dat jy al die vereistes nakom indien jy moet eis.
As risikokenners, kan versekeringsadviseurs ook aan huiseienaars die nodige insig gee om ander risiko’s te identifiseer waaraan hulle moontlik blootgestel is, en gemoedsrus te kry dat hul eiendom oor die lang termyn steeds gedek sal word.






Stay Informed
Sign up for our newsletters and receive information on finance.





